Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK 17

Die opleiding van Koninkryksbedienaars

Die opleiding van Koninkryksbedienaars

KERNGEDAGTE VAN DIE HOOFSTUK

Hoe teokratiese skole Koninkryksbedienaars voorberei om hulle toewysings te vervul

1-3. Hoe het Jesus die predikingswerk uitgebrei, en watter vrae laat dit ontstaan?

JESUS het twee jaar lank regoor Galilea gepreek. (Lees Matteus 9:35-38.) Hy het baie stede en dorpies besoek en in die sinagoges geleer en die goeie nuus van die Koninkryk verkondig. Waar hy ook al gepreek het, het skares na hom toe gestroom. “Die oes is groot”, het Jesus gesê, en nog werkers was nodig.

2 Jesus het reëlings getref om die predikingswerk uit te brei. Hoe? Hy het sy 12 apostels “uitgestuur om die koninkryk van God te verkondig” (Luk. 9:1, 2). Die apostels het moontlik baie vrae gehad oor hoe om hierdie werk uit te voer. Voordat Jesus hulle uitgestuur het, het hy hulle uit liefde iets gegee wat sy hemelse Vader hom gegee het—opleiding.

3 ’n Aantal vrae ontstaan nou: Watter opleiding het Jesus van sy Vader ontvang? Watter opleiding het Jesus sy apostels gegee? En wat van vandag—het die Messiaanse Koning sy volgelinge opgelei om hulle bediening uit te voer? Indien wel, hoe?

“Net soos die Vader my geleer het, spreek ek”

4. Wanneer en waar is Jesus deur sy Vader geleer?

4 Jesus het geredelik erken dat hy deur sy Vader geleer is. Gedurende sy bediening het Jesus gesê: “Net soos die Vader my geleer het, spreek ek hierdie dinge” (Joh. 8:28). Wanneer en waar is Jesus geleer? Sy opleiding het blykbaar begin kort nadat hy—God se eersgebore Seun—geskep is (Kol. 1:15). Toe hy saam met sy Vader in die hemel was, het die Seun tallose eeue lank na die “Grootse Onderrigter” geluister en gelet op wat Hy gedoen het (Jes. 30:20). Gevolglik het die Seun ’n ongeëwenaarde opvoeding in die eienskappe, werke en voornemens van sy Vader ontvang.

5. Watter opleiding het die Vader die Seun gegee in verband met die bediening wat hy op die aarde sou uitvoer?

5 Later het Jehovah sy Seun geleer oor die bediening wat hy op die aarde sou uitvoer. Kyk na ’n profesie wat die verhouding tussen die Grootse Onderrigter en sy eersgebore Seun beskryf. (Lees Jesaja 50:4, 5.) Die profesie sê dat Jehovah sy Seun “oggend na oggend” gewek, oftewel wakker gemaak het. Hierdie illustrasie dra die gedagte oor van ’n onderwyser wat sy leerling soggens vroeg wakker maak om hom te leer. ’n Bybelnaslaanwerk sê: “Jehovah . . . onderrig hom as ’t ware soos ’n leerling in die skool, en hy leer hom wat en hoe om te preek.” In daardie hemelse “skool” het Jehovah sy Seun geleer “wat om te sê en wat om te spreek” (Joh. 12:49). Die Vader het sy Seun ook geleer hoe om te onderrig. * Terwyl Jesus op die aarde was, het hy sy opleiding goed gebruik deur nie net sy bediening uit te voer nie, maar deur ook sy volgelinge op te lei om hulle bediening te vervul.

6, 7. (a) Watter opleiding het Jesus sy apostels gegee, en wat het dit hulle toegerus om te doen? (b) Watter soort opleiding het Jesus seker gemaak dat sy volgelinge in ons dag ontvang?

6 Watter opleiding het Jesus sy apostels gegee, soos aan die begin gemeld is? Volgens Matteus hoofstuk 10 het hy hulle spesifieke instruksies vir die bediening gegee, insluitende die volgende: waar om te preek (verse 5, 6), watter boodskap om te verkondig (vers 7), die belangrikheid daarvan om hulle vertroue in Jehovah te stel (verse 9, 10), hoe om huisbewoners te nader (verse 11-13), hoe om negatiewe reaksies te hanteer (verse 14, 15) en hoe om op vervolging te reageer (verse 16-23). * Die spesifieke opleiding wat Jesus sy apostels gegee het, het hulle toegerus om die voortou te neem met die verkondiging van die goeie nuus in die eerste eeu HJ.

7 Wat van ons dag? Jesus, die Koning van God se Koninkryk, het sy volgelinge ’n uiters gewigtige toewysing gegee, naamlik om ‘hierdie goeie nuus van die koninkryk in die hele bewoonde aarde te verkondig as ’n getuienis vir al die nasies’ (Matt. 24:14). Het die Koning ons opgelei om hierdie allerbelangrikste werk uit te voer? Ja, hy het! Vanuit die hemel het die Koning seker gemaak dat sy volgelinge opleiding ontvang oor hoe om buite die gemeente te preek en hoe om spesiale verantwoordelikhede in die gemeente na te kom.

Bedienaars word opgelei om predikers te wees

8, 9. (a) Wat was die hoofdoel van die Teokratiese Bedieningskool? (b) Hoe het die Lewe en Bediening-vergadering jou al gehelp om doeltreffender in jou bediening te wees?

8 Jehovah se organisasie gebruik al lank byeenkomste en gemeentelike vergaderinge—soos die Diensvergadering—om God se volk vir die bediening op te lei. Maar vanaf die 1940’s het die broers wat die leiding by die hoofkwartier neem, opleiding deur middel van verskillende skole begin reël.

9 Teokratiese Bedieningskool. Soos ons in die vorige hoofstuk gesien het, word hierdie skool sedert 1943 gehou. Was die doel van hierdie skool net om studente op te lei om doeltreffende toesprake by gemeentelike vergaderinge te hou? Nee. Die hoofdoel van die skool was om God se volk op te lei om die gawe van spraak te gebruik om Jehovah in die bediening te loof (Ps. 150:6). Die skool het al die broers en susters wat daarby aangesluit het, toegerus om doeltreffender Koninkryksbedienaars te wees. Hierdie opleiding word nou deur middel van die Lewe en Bediening-vergadering voorsien.

10, 11. Wie kan nou die Gileadskool bywoon, en wat is die doel van die leerplan?

10 Wagtoring-Bybelskool Gilead. Wat nou die Wagtoring-Bybelskool Gilead genoem word, het op Maandag 1 Februarie 1943 begin. Die skool was oorspronklik bedoel om pioniers en ander voltydse knegte op te lei vir sendingdiens êrens in die wêreldveld. Maar sedert Oktober 2011 kan dit net bygewoon word deur diegene wat reeds in die een of ander vorm van spesiale voltydse diens is—spesiale pioniers, reisende opsieners en hulle vrouens, Betheliete en veldsendelinge wat nog nie by die skool was nie.

11 Wat is die doel van die Gileadskool se leerplan? ’n Broer wat al lank ’n instrukteur is, antwoord: “Om die geloof van die studente op te bou deur middel van ’n deeglike studie van God se Woord en om hulle die geestelike eienskappe te help aankweek wat hulle nodig het om die uitdagings van hulle toewysings met welslae die hoof te bied. Nog ’n vername doel van die leerplan is om ’n sterker begeerte by die studente te wek om aan die evangelisasiewerk deel te neem.”—Ef. 4:11.

12, 13. Watter uitwerking het die Gileadskool op die wêreldwye predikingswerk gehad? Gee ’n voorbeeld.

12 Watter uitwerking het die Gileadskool op die wêreldwye predikingswerk gehad? Sedert 1943 is oor die 8 500 persone by die skool opgelei, * en Gileadopgeleide sendelinge het al in meer as 170 lande regoor die wêreld gedien. Die sendelinge benut hulle opleiding goed deur ’n ywerige voorbeeld in die bediening te stel en ander op te lei om dit ook te doen. In baie gevalle het die sendelinge die voortou geneem met die werk in gebiede waar daar min of geen Koninkryksverkondigers was nie.

13 Kyk na wat in Japan gebeur het, waar die georganiseerde openbare predikingswerk gedurende die Tweede Wêreldoorlog byna heeltemal tot stilstand gekom het. Teen Augustus 1949 was daar minder as tien plaaslike verkondigers in Japan. Maar teen die einde van daardie jaar het 13 Gileadopgeleide sendelinge in Japan gepreek. En nog baie sendelinge het gevolg. Aanvanklik het die sendelinge hulle pogings op groter stede toegespits; later het hulle na ander stede gegaan. Die sendelinge het hulle studente en ander hartlik aangespoor om te pionier. Die ywerige pogings van die sendelinge het goeie resultate gelewer. Nou is daar meer as 216 000 Koninkryksverkondigers in Japan, en byna 40 persent van hulle dien as pioniers! *

14. Waarvan is teokratiese skole ’n kragtige bewys? (Sien ook die venster “ Skole wat Koninkryksbedienaars oplei.”)

14 Ander teokratiese skole. Die Pionierdiensskool, die Bybelskool vir Christenegpare en die Bybelskool vir Ongetroude Broers het diegene wat dit bygewoon het, gehelp om geestelik te groei en ywerig die leiding in die evangelisasiewerk te neem. * Al hierdie teokratiese skole is ’n kragtige bewys dat ons Koning sy volgelinge ten volle toegerus het om hulle bediening uit te voer.—2 Tim. 4:5.

Broers word opgelei om spesiale verantwoordelikhede na te kom

15. Hoe wil mans in verantwoordelike posisies Jesus navolg?

15 Dink weer aan Jesaja se profesie wat praat van Jesus wat deur God onderrig word. In daardie hemelse “skool” het die Seun geleer “hoe om die vermoeide met [die regte] woord te antwoord” (Jes. 50:4). Jesus het hierdie onderrigting toegepas. Terwyl hy op die aarde was, het hy diegene wat ‘geswoeg het en swaar belaai was’, verkwik (Matt. 11:28-30). In navolging van Jesus wil mans wat in verantwoordelike posisies dien, ’n bron van verkwikking vir hulle broers en susters wees. Met die oog hierop is verskillende skole gestig om bekwame broers te help om hulle medegelowiges doeltreffender te dien.

16, 17. Wat is die doel van die Koninkryksbedieningskool? (Sien ook die voetnoot.)

16 Koninkryksbedieningskool. Die eerste klas van hierdie skool is op 9 Maart 1959 in South Lansing, New York, gehou. Reisende opsieners sowel as gemeenteknegte is genooi om ’n maand lange kursus by te woon. Later is die kursus uit Engels in ander tale vertaal, en die skool het geleidelik broers regoor die wêreld begin oplei. *

Broer Lloyd Barry onderrig by die Koninkryksbedieningskool in Japan, 1970

17 Die 1962 Yearbook of Jehovah’s Witnesses het oor die doel van die Koninkryksbedieningskool gesê: “In hierdie baie besige wêreld moet ’n opsiener in die gemeente van Jehovah se getuies ’n man wees wat sy lewe so kan reël dat hy die nodige aandag aan almal in die gemeente kan gee en ’n seën vir hulle kan wees. Terselfdertyd kan hy nie ’n man wees wat sy eie gesin ter wille van die gemeente ignoreer nie, maar hy moet gesonde verstand aan die dag lê. Wat ’n wonderlike geleentheid het die gemeenteknegte regoor die wêreld tog om by die Koninkryksbedieningskool bymekaar te kom om opleiding te ontvang wat hulle sal help om te doen presies wat die Bybel sê ’n opsiener moet kan doen!”—1 Tim. 3:1-7; Tit. 1:5-9.

18. Hoe vind al God se knegte baat by die Koninkryksbedieningskool?

18 Al God se knegte vind baat by die Koninkryksbedieningskool. Hoe so? Wanneer ouer manne en bedieningsknegte toepas wat hulle by die skool geleer het, is hulle, soos Jesus, ’n bron van verkwikking vir hulle medegelowiges. Waardeer jy nie ’n vriendelike woord, ’n luisterende oor of ’n bemoedigende besoek van ’n liefdevolle ouer man of bedieningskneg nie? (1 Tess. 5:11). Hierdie bekwame mans is ’n ware seën vir hulle gemeentes!

19. Oor watter ander skole hou die Onderrigtingskomitee toesig, en wat is die doel van hierdie skole?

19 Ander teokratiese skole. Die Onderrigtingskomitee van die Bestuursliggaam hou toesig oor ander skole wat opleiding aan broers in verantwoordelike posisies in die organisasie voorsien. Hierdie skole is bedoel om verantwoordelike broers—gemeentelike ouer manne, reisende opsieners en Takkomiteelede—te help om al hulle verantwoordelikhede op bekwamer wyse na te kom. Die Bybelkursusse spoor die broers aan om self geestelik sterk te bly en om skriftuurlike beginsels toe te pas in hulle handelinge met die kosbare skape wat Jehovah aan hulle sorg toevertrou het.—1 Pet. 5:1-3.

Die eerste klas van die Bedieningsopleidingskool in Malawi, 2007

20. Waarom kon Jesus sê dat ons “almal deur Jehovah geleer word”, en wat is jy vasbeslote om te doen?

20 Dit is duidelik dat die Messiaanse Koning seker gemaak het dat sy volgelinge goed opgelei word. Al die opleiding word van bo na onder oorgedra: Jehovah het sy Seun opgelei, en die Seun het sy volgelinge opgelei. Jesus kon dus sê dat ons “almal deur Jehovah geleer word” (Joh. 6:45; Jes. 54:13). Laat ons vasbeslote wees om die opleiding ten volle te benut wat ons Koning aan ons beskikbaar gestel het. En laat ons onthou dat die hoofdoel van al hierdie opleiding is om ons te help om geestelik sterk te bly sodat ons ons bediening ten volle kan uitvoer.

^ par. 5 Hoe weet ons dat die Vader die Seun geleer het hoe om te onderrig? Dink hieraan: Jesus se oorvloedige gebruik van illustrasies in sy onderrigting het ’n profesie vervul wat eeue voor sy geboorte opgeteken is (Ps. 78:2; Matt. 13:34, 35). Dit is duidelik dat die Outeur van hierdie profesie, Jehovah, lank voor die tyd bepaal het dat sy Seun deur middel van illustrasies, of gelykenisse, sou onderrig.—2 Tim. 3:16, 17.

^ par. 6 Maande later het Jesus “sewentig ander aangewys en hulle twee-twee . . . gestuur” om te preek. Hy het hulle ook opleiding gegee.—Luk. 10:1-16.

^ par. 12 Party het die Gileadskool al meer as een keer bygewoon.

^ par. 13 Vir meer besonderhede oor die uitwerking wat Gileadopgeleide sendelinge op die wêreldveld gehad het, sien hoofstuk 23 van die boek Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk.

^ par. 14 Laasgenoemde twee skole is deur die Skool vir Koninkrykspredikers vervang.

^ par. 16 Nou vind alle ouer manne baat by die Koninkryksbedieningskool. Die skool duur nie altyd ewe lank nie en dit word elke paar jaar gehou. Sedert 1984 ontvang bedieningsknegte ook opleiding by hierdie skool.