Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL VIER

Skuldgevoelens—“Reinig my van my sonde”

Skuldgevoelens—“Reinig my van my sonde”

“My nuwe werk het ons gesin se lewenstandaard verbeter, maar dit het ook gemaak dat ek by allerhande twyfelagtige bedrywighede betrokke raak. Ek het begin om godsdienstige vakansiedae te vier, aan politieke bedrywighede deel te neem en selfs kerk toe te gaan. Ek was 40 jaar lank ’n onbedrywige Getuie. Hoe meer tyd verloop het, hoe meer het ek gedink dat Jehovah my nooit sou vergewe nie. Ek het gevoel dat ek myself nie kon vergewe nie. Ek het immers die waarheid geken voordat ek begin wegdwaal het.”—Martha.

SKULDGEVOELENS kan ’n neerdrukkende las wees. “My eie oortredings het oor my hoof gegaan”, het koning Dawid geskryf. “Soos ’n swaar vrag is hulle vir my te swaar” (Psalm 38:4). Party Christene is oorweldig deur oormatige droefheid omdat hulle daarvan oortuig is dat Jehovah hulle nooit sal kan vergewe nie (2 Korintiërs 2:7). Is dit werklik so? Dalk het jy ernstige sondes gepleeg, maar het jy so ver van Jehovah weggedwaal dat hy jou nooit sal vergewe nie? Nee, jy het nie!

“Laat ons sake regstel tussen ons”

Jehovah verlaat nie berouvolle sondaars nie. Trouens, hy reik uit na hulle! In die illustrasie van die verlore seun het Jesus Jehovah vergelyk met ’n liefdevolle vader wie se seun sy familie verlaat het en ’n verdorwe lewe gelei het. Met verloop van tyd het die seun besluit om terug te gaan huis toe. “Terwyl [die seun] nog ’n hele ent weg was, het sy vader hom gesien en is hy ontroer deur innige jammerte, en hy het gehardloop en hom om die hals geval en hom teer gesoen” (Lukas 15:11-20). Jy wil dalk graag nader aan Jehovah kom. Maar voel jy dat jy “nog ’n hele ent weg” is van hom? Soos die vader in Jesus se illustrasie, het Jehovah tere medelye met jou. Hy is gretig om jou terug te verwelkom.

Maar sê nou jy dink dat Jehovah jou nie sal vergewe nie omdat jou sondes te ernstig is of omdat jy al te veel kere gesondig het? Dink asseblief na oor Jehovah se uitnodiging in Jesaja 1:18: “‘Kom nou, en laat ons sake regstel tussen ons’, sê Jehovah. ‘Al sou julle sondes soos skarlaken wees, dit sal wit soos sneeu gemaak word.’” Ja, Jehovah kan selfs sondes vergewe wat so onuitwisbaar lyk soos skarlaken kleurstof op ’n wit kleed.

Jehovah wil nie hê dat jy deur ’n skuldige gewete geteister moet word nie. Hoe kan jy dan die verligting vind wat ’n mens ervaar wanneer God jou vergewe en jy ’n skoon gewete het? Kyk na twee stappe wat koning Dawid gedoen het. Eerstens het hy gesê: “Ek sal aan Jehovah belydenis doen van my oortredings” (Psalm 32:5). Onthou, Jehovah het jou reeds genooi om hom in gebed te nader en om ‘sake reg te stel’ met hom. Aanvaar sy uitnodiging. Bely jou sondes aan Jehovah en sê vir hom hoe jy voel. Uit persoonlike ondervinding kon Dawid met vertroue bid: ‘Reinig my van my sonde. ’n Gebroke en verbryselde hart, o God, sal u nie verag nie.’—Psalm 51:2, 17.

Tweedens het Dawid hulp gekry by God se aangestelde verteenwoordiger, die profeet Natan (2 Samuel 12:13). Vandag het Jehovah gemeentelike ouer manne voorsien wat opgelei is om berouvolle sondaars te help om hulle vriendskap met Jehovah te herstel. Wanneer jy die ouer manne nader, sal hulle die Bybel gebruik en hartgrondige gebede doen om jou te vertroos, jou negatiewe gevoelens te verminder of te verwyder en jou help om geestelik gesond te word.—Jakobus 5:14-16.

Jehovah wil hê dat jy die verligting moet ervaar wat ’n skoon gewete jou sal gee

“Gelukkig is die een wat van sy oortreding vrygestel is”

Om jou sondes aan Jehovah God te bely en die ouer manne te nader is vir jou dalk een van die moeilikste dinge om te doen. Dawid het ongetwyfeld ook so gevoel. Hy het ’n tyd lank “stilgebly” oor sy sondes (Psalm 32:3). Maar hy het later die waarde daarvan besef om sy sondes te bely en sake reg te stel.

’n Groot voordeel daarvan was dat Dawid sy vreugde herwin het. Hy het geskryf: “Gelukkig is die een wat van sy oortreding vrygestel is, wie se sonde vergewe is” (Psalm 32:1, voetnoot in NW). Hy het ook gebid: “O Jehovah, mag u hierdie lippe van my open, sodat my mond u lof kan verkondig” (Psalm 51:15). Dawid is beweeg om ander van Jehovah te vertel omdat hy vry was van skuldgevoelens en dankbaar was vir God se vergifnis.

Jehovah wil hê dat jy die verligting moet ervaar wat ’n skoon gewete jou sal gee. En hy wil hê dat jy ander van hom en sy voornemens moet vertel, nie met skuldgevoelens nie, maar met opregtheid en groot vreugde (Psalm 65:1-4). Onthou, hy wil hê dat jou “sondes uitgewis [moet] word, dat tye van verkwikking van die aangesig van Jehovah kan kom”.—Handelinge 3:19.

Dit is wat met Martha gebeur het. Sy vertel: “My seun het aangehou om Die Wagtoring en Ontwaak! vir my te stuur. Ek het bietjie vir bietjie Jehovah weer leer ken. Wat vir my die moeilikste was, was om vergifnis te vra vir al my sondes. Maar uiteindelik het ek tot God gebid en hom gevra om my te vergewe. Dis moeilik om te glo dat 40 jaar verbygegaan het voordat ek na Jehovah teruggekeer het. My voorbeeld bewys dat iemand selfs ná baie jare nog ’n kans gegee kan word om God te dien en weer sy liefde te ervaar.”