Genesis 48:1-22

  • Jakob seën Josef se twee seuns (1-12)

  • Efraim ontvang groter seën (13-22)

48  Ná hierdie dinge is daar vir Josef gesê: “Jou pa word al hoe swakker.” Toe het hy sy twee seuns, Manasʹse en Eʹfraim, saam met hom geneem.+  En daar is vir Jakob gesê: “U seun Josef het na u toe gekom.” Israel het dus sy kragte ingespan en regop op sy bed gesit.  En Jakob het vir Josef gesê: “God die Almagtige het by Lus in die land Kanaän aan my verskyn en my geseën.+  Hy het vir my gesê: ‘Ek sal jou vrugbaar maak, en ek sal jou baie maak, en ek sal jou ’n versameling van volke laat word,+ en ek sal hierdie land as ’n permanente besitting aan jou nageslag* gee.’+  Jou twee seuns wat in Egipte vir jou gebore is voordat ek hier by jou in Egipte gekom het, is myne.+ Eʹfraim en Manasʹse sal myne word, net soos Ruben en Siʹmeon myne is.+  Maar die kinders wat ná hulle vir jou gebore sal word, sal joune wees. Hulle sal ’n deel van die land kry wat hulle broers as ’n erfdeel sal ontvang.+  Toe ek van Paddan af gekom het, het Ragel aan my sy in die land Kanaän gesterf,+ toe ons nog ’n goeie ent van Efrat af was. Ek het haar dus daar op pad na Efrat,+ dit wil sê Betlehem,+ begrawe.”  Toe het Israel Josef se seuns gesien en gevra: “Wie is hulle?”  Josef het vir sy pa gesê: “Dit is my seuns wat God my in hierdie plek gegee het.”+ Toe het hy gesê: “Bring hulle asseblief na my toe sodat ek hulle kan seën.”+ 10  En Israel se oë was swak van die ouderdom, en hy kon nie meer sien nie. Josef het hulle dus nader aan hom gebring, en hy het hulle gesoen en hulle omhels. 11  Israel het vir Josef gesê: “Ek het nooit gedink dat ek jou gesig sou sien nie,+ maar hier het God my selfs jou nageslag* laat sien.” 12  Josef het hulle toe van Israel se knieë weggeneem, en hy het neergebuig met sy gesig na die grond toe. 13  Josef het hulle twee toe geneem, Eʹfraim+ met sy regterhand na Israel se linkerkant en Manasʹse+ met sy linkerhand na Israel se regterkant, en hy het hulle nader aan hom gebring. 14  Maar Israel het sy regterhand uitgesteek en dit op Eʹfraim se kop gesit, hoewel hy die jongste was, en hy het sy linkerhand op Manasʹse se kop gesit. Hy het sy hande doelbewus so gesit, al was Manasʹse die eersgeborene.+ 15  Toe het hy Josef geseën en gesê:+ “Die ware God wat my vaders Abraham en Isak gedien het,+die ware God wat my gedurende my hele lewe tot vandag toe soos ’n herder gelei het,+ 16  die engel wat my uit alle rampspoed verlos het,+ seën die seuns.+ Laat my naam en die naam van my vaders Abraham en Isak deur middel van hulle voortleef.* Laat hulle ’n groot skare op die aarde word.”+ 17  Toe Josef sien dat sy pa sy regterhand op Eʹfraim se kop laat rus, het hy nie daarvan gehou nie, en daarom het hy sy pa se hand probeer skuif van Eʹfraim se kop na Manasʹse se kop. 18  Josef het dus vir sy pa gesê: “Nie so nie, Pa, want hý is die eersgeborene.+ Sit Pa se regterhand op sy kop.” 19  Maar sy pa het bly weier en gesê: “Ek weet dit, my seun, ek weet dit. Hy sal ook ’n volk word, en hy sal ook groot word. Maar sy jongste broer sal nietemin groter as hy word,+ en sy nageslag* sal genoeg wees om hele nasies te vorm.”+ 20  Hy het dus voortgegaan om hulle op daardie dag te seën+ en gesê: “Laat Israel julle name noem wanneer hulle seëninge uitspreek en sê:‘Mag God jou soos Eʹfraim en soos Manasʹse maak.’” So het hy Eʹfraim voor Manasʹse bly stel. 21  Daarna het Israel vir Josef gesê: “Kyk, ek gaan sterf,+ maar God sal beslis met julle wees en julle na die land van julle voorvaders terugbring.+ 22  En ek gee aan jou een deel meer van die land as aan jou broers. Dit is die land wat ek met my swaard en my boog uit die hand van die Amoriete geneem het.”

Voetnote

Lett. “saad”.
Lett. “saad”.
Lett. “oor hulle uitgeroep word”.
Lett. “saad”.