Die handelinge van die apostels 5:1-42

  • Ananias en Saffira (1-11)

  • Apostels doen baie wonderwerke (12-16)

  • Gevange geneem en vrygelaat (17-21a)

  • Weer voor die Sanhedrin (21b-32)

    • ‘Eerder aan God gehoorsaam as aan mense’ (29)

  • Gamaliël se raad (33-40)

  • Predikingswerk van huis tot huis (41, 42)

5  ’n Man met die naam Ananiʹas het saam met sy vrou Saffiʹra ’n eiendom verkoop.  Maar hy het in die geheim van die geld teruggehou terwyl sy vrou daarvan geweet het, en hy het net ’n gedeelte gebring en dit by die apostels se voete neergesit.+  Toe het Petrus gesê: “Ananiʹas, hoekom het Satan jou gekry om vir die heilige gees+ te lieg+ en in die geheim van die geld terug te hou wat jy vir die grond gekry het?  Was dit nie jou eiendom toe dit nog aan jou behoort het nie? En toe dit verkoop is, kon jy nie met die geld doen wat jy wou nie? Hoekom het jy in jou hart gedink om so iets te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.”  Toe Ananiʹas hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterf. En almal wat daarvan gehoor het, het baie bang geword.  Toe het die jonger mans opgestaan, hom in doeke toegedraai, hom uitgedra en hom begrawe.  Ná omtrent drie uur het sy vrou ingekom, maar sy het nie geweet wat gebeur het nie.  Petrus het vir haar gevra: “Sê vir my, het julle twee die grond vir soveel verkoop?” Sy het gesê: “Ja, vir soveel.”  Toe het Petrus vir haar gesê: “Hoekom het julle afgespreek om die gees van Jehovah* te toets? Kyk! Die voete van dié wat jou man begrawe het, is by die deur, en hulle sal jou uitdra.” 10  Sy het onmiddellik voor sy voete neergeval en gesterf. Toe die jong manne inkom, het hulle gesien dat sy dood is, en hulle het haar uitgedra en haar langs haar man begrawe. 11  Toe het die hele gemeente en almal wat hiervan gehoor het, baie bang geword. 12  En die apostels het aangehou om baie tekens en wonderwerke onder die volk te doen,+ en hulle almal het in die Pilaargang van Salomo+ bymekaargekom. 13  Nie een van die ander het die moed gehad om by hulle aan te sluit nie, maar die volk het goeie dinge oor hulle gesê. 14  En nog baie meer mans en vrouens het in die Here geglo en dissipels geword.+ 15  Hulle het selfs die siekes na die hoofstrate toe gebring en hulle daar op bedjies en slaapmatte neergelê, sodat Petrus se skaduwee ten minste op van hulle sou val wanneer hy verbygaan.+ 16  Groepe mense uit die stede rondom Jerusalem het ook bly kom en het siek mense gebring, sowel as dié wat deur onrein geeste lastig geval is, en hulle is almal genees. 17  Maar die hoëpriester en almal van die sekte van die Sadduseërs wat saam met hom was, het opgestaan en was baie jaloers. 18  En hulle het die apostels gearresteer en hulle in die openbare tronk gesit.+ 19  Maar gedurende die nag het Jehovah* se engel die deure van die tronk oopgemaak,+ hulle uitgebring en gesê: 20  “Gaan na die tempel en hou aan om die hele boodskap omtrent hierdie lewe aan die volk te verkondig.” 21  Nadat hulle dit gehoor het, het hulle met dagbreek in die tempel ingegaan en die mense begin leer. En toe die hoëpriester en dié wat saam met hom was, daar aankom, het hulle die Sanheʹdrin en al die ouermanne van die Israeliete bymekaargeroep, en hulle het beamptes gestuur om die apostels uit die tronk te gaan haal. 22  Maar toe die beamptes daar aankom, het hulle gesien dat die apostels nie in die tronk is nie. Toe het hulle teruggegaan 23  en gesê: “Die tronk was behoorlik toegesluit, en die wagte het by die deure gestaan, maar toe ons dit oopmaak, was daar niemand daar binne nie.” 24  Wel, toe die hoofman van die tempel en die hoofpriesters dit hoor, was hulle verward en het hulle gewonder wat volgende sou gebeur. 25  Maar iemand het vir hulle kom sê: “Kyk! Die mans wat julle in die tronk gesit het, is in die tempel, en hulle staan en leer die mense.” 26  Toe het die hoofman met sy beamptes gegaan en hulle ingebring, maar sonder geweld, want hulle was bang dat die volk hulle met klippe sou doodgooi.+ 27  Toe het hulle die apostels gebring en hulle voor die Sanheʹdrin laat staan. Daarna het die hoëpriester hulle ondervra 28  en gesê: “Ons het julle uitdruklik beveel om op te hou om die mense in hierdie naam te leer,+ maar kyk! julle het julle leringe deur die hele Jerusalem versprei, en julle is vasbeslote om die bloed van hierdie man oor ons te bring.”+ 29  Petrus en die ander apostels het geantwoord: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.+ 30  Die God van ons voorvaders het Jesus, wat julle doodgemaak het deur hom aan ’n paal* te hang,+ uit die dood opgewek. 31  God het hom as die Leier*+ en Redder+ tot aan Sy regterhand verhoog,+ sodat Israel berou kan toon en hulle sondes vergewe kan word.+ 32  En ons is getuies van hierdie dinge,+ en so ook die heilige gees,+ wat God aan dié gegee het wat hom as heerser gehoorsaam.” 33  Toe hulle dit hoor, was hulle woedend* en wou hulle die apostels doodmaak. 34  Maar ’n Fariseër met die naam Gamaʹliël+ het in die Sanheʹdrin opgestaan. Hy was ’n leermeester van die Wet en is deur die hele volk gerespekteer, en hy het beveel dat die mans vir ’n rukkie na buite geneem moet word. 35  Toe het hy vir hulle gesê: “Manne van Israel, dink mooi na oor wat julle met hierdie mans gaan doen. 36  Byvoorbeeld, voor hierdie dae het Teudas gekom en gesê dat hy belangrik is, en ’n aantal manne, omtrent 400, het by hom aangesluit. Maar hy is doodgemaak, en almal wat hom gevolg het, is verstrooi en het niks bereik nie. 37  Ná hom het Judas die Galileër in die tyd van die registrasie gekom, en hy het mense gekry om hom te volg. Daardie man is ook dood, en almal wat hom gevolg het, is verstrooi. 38  Onder hierdie omstandighede sê ek dus vir julle: Los hierdie manne uit, en laat hulle gaan, want as hierdie plan of hierdie werk van mense kom, sal dit misluk, 39  maar as dit van God kom, sal julle hulle nie kan keer nie.+ Anders veg julle dalk eintlik teen God self.”+ 40  Toe het hulle sy raad gevolg. Hulle het die apostels laat roep, hulle geslaan+ en hulle beveel om op te hou om in Jesus se naam te praat, en hulle het hulle laat gaan. 41  Hulle het toe van die Sanheʹdrin af weggegaan en was bly+ omdat hulle waardig bevind is om ter wille van sy naam verneder te word. 42  En hulle het elke dag sonder ophou voortgegaan om mense in die tempel en van huis tot huis+ te leer en die goeie nuus oor die Christus, Jesus, bekend te maak.+

Voetnote

Of “boom”.
Of “die Hoofbewerker”.
Of “het hulle diep gegrief gevoel”.