Aan die Kolossense 4:1-18

  • Raad aan meesters (1)

  • “Volhard in gebed” (2-4)

  • Wyse gedrag teenoor buitestanders (5, 6)

  • Groete (7-18)

4  Meesters, behandel julle slawe op ’n regverdige en eerlike manier, want julle weet dat julle ook ’n Meester in die hemel het.+  Volhard in gebed.+ Bly wakker daarin en dank God.+  Bid dan ook vir ons,+ dat God ’n deur vir die woord sal oopmaak sodat ons die heilige geheim omtrent die Christus kan bekend maak waarvoor ek ’n gevangene is,+  en sodat ek dit so duidelik kan verkondig soos wat ek moet.  Hou aan om julle op ’n wyse manier te gedra teenoor buitestanders, en gebruik julle tyd op die beste manier moontlik.*+  Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout,+ sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.+  Tiʹgikus,+ my geliefde broer en getroue dienaar en medeslaaf in die Here, sal julle al die nuus oor my vertel.  Ek stuur hom na julle toe sodat julle kan weet hoe dit met ons gaan en sodat hy julle harte kan vertroos.  Hy kom saam met Oneʹsimus,+ my getroue en geliefde broer, wat van julle af kom. Hulle sal julle van al die dinge vertel wat hier gebeur. 10  Aristarʹgus,+ my medegevangene, stuur vir julle groete, en so ook Markus,+ die neef van Barʹnabas (oor wie julle instruksies ontvang het om hom te verwelkom+ as hy ooit na julle toe kom), 11  en Jesus, wat Justus genoem word en een van die manne is wat besny is. Net hulle is my medewerkers vir die Koninkryk van God, en hulle het vir my ’n bron van groot vertroosting* geword. 12  Eʹpafras,+ ’n slaaf van Christus Jesus wat van julle af kom, stuur vir julle groete. Hy bid altyd intens vir julle sodat julle uiteindelik as geestelik volwasse persone en met volle oortuiging kan vasstaan in die hele wil van God. 13  Ek getuig oor hom dat hy groot moeite doen vir julle en vir dié in Laodiseʹa en Hiëraʹpolis. 14  Lukas,+ die geliefde dokter, stuur vir julle groete, en Demas+ ook. 15  Stuur groete vir die broers in Laodiseʹa en vir Nimfa en vir die gemeente in haar huis.+ 16  Wanneer hierdie brief by julle gelees is, moet julle reël dat dit ook in die gemeente in Laodiseʹa gelees word+ en dat julle ook die een uit Laodiseʹa lees. 17  Sê ook vir Argipʹpus:+ “Skenk aandag aan die bediening wat jy in die Here aanvaar het, sodat jy dit kan vervul.” 18  Hier is my groete, Paulus s’n, wat ek met my eie hand skryf.+ Dink aan my hier in die tronk.+ Mag die onverdiende goedheid met julle wees.

Voetnote

Of “koop die vasgestelde tyd uit”.
Of “versterking”.