Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Groot aardbewings – Wat het die Bybel voorspel?

Groot aardbewings – Wat het die Bybel voorspel?

 Elke jaar gebeur daar duisende aardbewings. Al is die meeste aardbewings klein, kan groot aardbewings wydverspreide verwoesting, swaarkry en sterftes veroorsaak. Party aardbewings veroorsaak tsoenami’s wat kusgebiede verwoes. As gevolg van hierdie tsoenami’s sterf baie wat in hierdie gebiede bly. Het die Bybel hierdie groot aardbewings voorspel?

In hierdie artikel

 Het die Bybel aardbewings voorspel?

 Jesus het aardbewings genoem in ’n profesie wat in die Bybel opgeteken is. Ons kan lees wat hy gesê het oor aardbewings in die volgende drie Bybelboeke:

 “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk, en daar sal voedseltekorte en aardbewings op die een plek ná die ander wees.” – Matteus 24:7.

 “Nasie sal teen nasie opstaan en koninkryk teen koninkryk. Daar sal aardbewings op die een plek ná die ander wees, en daar sal ook voedseltekorte wees.” – Markus 13:8.

 “Daar sal groot aardbewings wees, en voedseltekorte en vreeslike siektes op die een plek ná die ander.” – Lukas 21:11.

 Jesus het voorspel dat daar “groot aardbewings” “op die een plek ná die ander” sou gebeur in ’n tyd wanneer daar ook oorloë, voedseltekorte en vreeslike siektes sou wees. Wanneer al hierdie dinge op dieselfde tyd gebeur, sou dit duidelik wees dat ons in “die einde van die wêreldstelsel” of “die laaste dae” lewe (Matteus 24:3; 2 Timoteus 3:1). Volgens berekeninge wat op die Bybel gebaseer is, het “die laaste dae” in 1914 begin, en dit het nog nie geëindig nie.

 Vervul die aardbewings in ons tyd Bybelprofesieë?

 Ja. Jesus se profesie, insluitende wat hy oor aardbewings gesê het, stem ooreen met wat ons in ons tyd sien gebeur. Vanaf 1914 het meer as 1 950 groot aardbewings plaasgevind, waarin altesaam meer as twee miljoen mense gesterf het. * Kyk na ’n paar voorbeelde in onlangse jare.

 2004 – Indiese Oseaan. ’n Aardbewing van 9,1 het ’n tsoenami veroorsaak wat 12 lande bereik het en omtrent 225 000 mense doodgemaak het.

 2008 – China. ’n Aardbewing van 7,9 het baie dorpies verwoes, en daar word geskat dat 90 000 mense gesterf het, sowat 375 000 mense beseer is en miljoene mense se huise vernietig is.

 2010 – Haïti. ’n Aardbewing van 7,0 gevolg deur ’n hele paar kleiner aardbewings het meer as 300 000 mense doodgemaak en meer as 1 miljoen mense se huise vernietig.

 2011 – Japan. ’n Aardbewing van 9,0 en die tsoenami’s wat as gevolg daarvan gebeur het, het omtrent 18 500 mense doodgemaak, en honderdduisende mense moes hulle huise verlaat. Die Foekoesjima-kragstasie is beskadig, en dit het ’n groot kernongeluk veroorsaak. Tien jaar later kon omtrent 40 000 mense nog steeds nie teruggaan na hulle huise naby die kragstasie nie as gevolg van die radioaktiewe besmetting.

 Wat beteken die Bybel se profesieë oor aardbewings vir ons?

 Die Bybel se profesieë oor aardbewings sê vir ons wat in die nabye toekoms sal gebeur. Jesus het gesê: “Wanneer julle hierdie dinge sien gebeur, . . . weet dat die Koninkryk van God naby is.” – Lukas 21:31.

 Die Bybel verduidelik dat die Koninkryk van God ’n regte regering in die hemel is met Jesus Christus as Koning. Jesus het sy volgelinge geleer om vir hierdie Koninkryk te bid. – Matteus 6:10.

 Wanneer God se Koninkryk oor die aarde regeer, sal God seker maak dat natuurrampe, soos aardbewings, mense nie meer seermaak nie (Jesaja 32:18). Hy sal ook die fisiese en emosionele pyn wat deur aardbewings in ons tyd veroorsaak word, wegneem (Jesaja 65:17; Openbaring 21:3, 4). Om meer uit te vind, lees die artikel “Wat sal God se Koninkryk tot stand bring?

^ Statistieke kom uit die Global Significant Earthquake Database wat sy inligting kry van die Amerikaanse Nasionale Geofisiese Data-sentrum.