Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Uitheemse diere in Spanje

“Meer as veertig uitheemse diersoorte van verskillende wêrelddele het Spanje oor land, uit die see en uit die lug binnegeval en verwoesting onder inheemse flora en fauna gesaai”, berig die Spaanse koerant El País. Die indringers is onder meer reusebabers uit Duitsland, groen wiere uit die Karibiese See, monnikparkiete uit Argentinië en nertse uit Noord-Amerika. Baie is na Spanje geneem om as uitheemse troeteldiere verkoop te word of weens ander kommersiële redes. Party het ontsnap en ander is losgelaat toe hulle ’n las geword het of nie winsgewend was nie. “Afgesien van habitatverlies is indringerdiere nou die hoofrede vir die afname in inheemse diersoorte”, sê die bioloog Daniel Sol.

Slangbytteëgif uit eiers

“Indiese wetenskaplikes het ontdek dat hoendereiers ’n bron van molekules kan word vir die vervaardiging van slangbytteëgif”, sê The Times of India. Wanneer die voëls ongeveer 12 weke oud is, kry hulle ’n ‘binnespierse inspuiting met ’n amperdodelike dosis gif’, en twee tot drie weke later kry hulle ’n versterkdosis. Ná 21 weke begin hulle eiers lê wat teenliggaampies teen slanggif bevat. Navorsers hoop dat die eier-teëgif dié sal vervang wat verkry word van perde, “wat pynlike toetse ondergaan vir die verkryging van slangbytteëgif”, sê The Times. Wetenskaplikes in Australië maak reeds daarop aanspraak dat hulle in veeartsenykundige proefnemings welslae met die nuwe tegnologie behaal het. As slangbytteëgif wat van eiers verkry word, vir mense werk, sal dit moontlik ’n seën wees vir Indië, waar 300 000 slangbytgevalle elke jaar aangemeld word. Tien persent van hierdie slagoffers sterf.

Die vlug van die skoenlapper

“Wetenskaplikes probeer al jare lank verstaan wat skoenlappers die meesters van vliegmaneuvers teen ’n lae spoed maak—dit lyk of hulle sonder inspanning in die lug hang en agtertoe of sywaarts vlieg”, sê The Independent van Londen. Nou meen navorsers by die Universiteit van Oxford dat hulle uiteindelik die insek se geheim ontrafel het. Met behulp van ’n spesiaal ontwerpte windtonnel en rook om die lugvloei aan te dui, het hulle admiraalskoenlappers waargeneem terwyl hulle vlieg. Terwyl die insekte heen en weer tussen kunsblomme in die windtonnel gevlieg het, is hoëspoed- digitale kameras gebruik om die lugvloei om hulle vlerke af te neem. Die navorsers het uitgevind dat “skoenlappers se gefladder nie ’n toevallige of onwillekeurige beweging is nie, maar dit getuig van die feit dat hulle ’n groot verskeidenheid aërodinamiese meganismes bemeester het”. Wetenskaplikes hoop dat hulle hierdie kennis sal kan gebruik om afstandbeheerde vliegtuie met ’n vlerkspan van selfs net tien sentimeter te bou. As dit met ’n kamera toegerus word, sal dit as ’n gevleuelde waarnemer in beperkte ruimtes ingevlieg kan word.

Slaaploosheid in Italië

Gedurende 2002 het meer as 600 dokters en meer as 11 000 pasiënte deelgeneem aan die uitgebreidste studie van slaaploosheid wat tot nog toe in Italië gedoen is. Die bevindings het getoon dat oor die 12 miljoen Italianers aan slaaploosheid ly, sê die koerant La Stampa. Van die mense wat by die studie betrokke was, was 65 persent soggens slaperig, 80 persent was die een of ander tyd gedurende die dag lomerig en 46 persent het gesukkel om by die werk te konsentreer. “Dit is veral gevaarlik vir mense wat bestuur, aangesien 22 persent van padongelukke deur lomerigheid veroorsaak word”, sê die koerant. Die studie het ook getoon dat 67 persent van die lyers nooit met hulle dokter oor die probleem gepraat het nie. Die studiekoördineerder, Mario Giovanni Terzano, het gesê dat “minstens 20 persent van die slaaploses aan primêre slaaploosheid ly, waarvoor daar blykbaar geen rede is nie”. Maar ’n mediese ondersoek kan ’n fisiese probleem aan die lig bring wat met die toestand verband hou. Ander redes vir slaaploosheid, het Terzano gesê, sluit kommer (24 persent), spanningsvolle gebeure (23 persent) en depressie (6 persent) in.

Saiga-bok op die randjie van uitwissing

“In 1993 was daar meer as ’n miljoen saiga-bokke op die grasvlaktes van Rusland en Kazakstan. Vandag is daar minder as 30 000 oor”, sê New Scientist. Volgens die berig het die dier die slagoffer van “’n epidemie van wilddiefstal” geword. “Bioloë sê dat dit die vinnigste en grootste bevolkingsafname van ’n groot soogdier is wat nog gesien is.” Waarom het wilddiefstal toegeneem? In die vroeë 1990’s het bewaringsgesindes wat oor die bedreigde renoster besorg was, die gebruik van saiga-horing as ’n plaasvervanger vir renosterhoring in tradisionele Chinese medisyne bevorder. Aangesien die saiga uit China verdwyn het, het die kuddes in Sentraal-Asië die teiken geword. Binne vyf jaar (1993-98) is die aantal diere met byna die helfte verminder, en teen 2002 was die bevolking 97 persent minder. In Sentraal-Kazakstan het die getalle met 99 persent afgeneem. Daar is nog net 4 000 van die diere hier oor. Abigail Entwistle, ’n dierkundige van Flora en Fauna Internasionaal, sê: “Ons dink ons het waarskynlik net twee jaar oor om die spesie te red.”

Gedagtes, gevoelens en gesondheid

Wat in ons gedagtes aangaan, kan ’n baie groter uitwerking op ons liggaam hê as wat ons voorheen gedink het, sê ’n berig in die Poolse tydskrif Wprost. Dit voeg by: “Gedagtes en gevoelens het ’n uitwerking op al die lewensorgane en stelsels van die menseliggaam: die senuwee-, immuun-, hormoon-, bloedsomloop- en voortplantingstelsel.” Gevolglik “kry mense wat ’n spanningsvolle lewe lei, twee keer meer verkoue en griep as ander”, sê professor Marek Kowalczyk van die Militêre Instituut vir Higiëne en Epidemiologie in Warskou. En hy voeg by dat terneergedrukte vroue hulle kanse om swanger te raak, met die helfte verminder. Wprost berig ook dat spanning dalk nie kanker veroorsaak nie, maar dat dit “die ontwikkeling van rustende kanker kan bespoedig”. Woede kan ook nadelig wees vir die gesondheid, want koronêre hartvatsiekte kom vermoedelik meer by aggressiewe, vyandige mense voor, wat hulle vatbaarder maak vir ’n hartaanval.

Wettige ivoorverkope

Binne net tien jaar, van 1979 tot 1989, het Afrika se olifantbevolking met meer as die helfte verminder. Een rede hiervoor was die groeiende aanvraag na produkte wat van hulle tande gemaak is. ’n Ander rede was die feit dat wilddiewe baie meer outomatiese wapens gehad het. Gevolglik het die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) in 1989 ’n algehele verbod op ivoorhandel geplaas. Maar CITES het onlangs ingestem om Suid-Afrika, Botswana en Namibië toe te laat om ’n eenmalige verkoping van 60 ton ivoor te hê, berig die tydskrif African Wildlife. Die ivoor is van wilddiewe afgeneem of verkry van diere wat weens natuurlike redes doodgegaan het. Twee ander lande is nie toegelaat om hulle ivoor te verkoop nie omdat “hulle nie genoeg waarborge voorsien het dat hulle onwettige ivoorhandel kan voorkom nie”, het die artikel gesê.