Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel se beskouing

Gebruik God vandag natuurrampe om die mensdom te straf?

Gebruik God vandag natuurrampe om die mensdom te straf?

PARTY mense glo dat God natuurrampe gebruik om die mensdom te dissiplineer. Ander verwerp hierdie idee. Dan is daar ander wat nie weet wat om te glo nie. ’n Professor in die godsdienswetenskap het gesê: “Die meeste godsdienste erken dat niemand met gesag kan praat oor die rol wat die goddelike wil in natuurrampe speel nie.”

Die Bybel voorsien egter bevredigende antwoorde. Dit werp lig op die vraag of God vandag natuurrampe oor die mensdom bring om hulle te straf. Dit werp ook lig op waarom so baie mense vandag lyding ondervind.

Die Skrif voorsien ’n patroon

Die Bybel openbaar twee grondwaarhede oor God, wie se naam Jehovah is. Eerstens, hy is die Skepper, en daarom het hy die mag en gesag om die aarde se natuurkragte te beheer (Openbaring 4:11). Tweedens, hy tree altyd in ooreenstemming met sy persoonlikheid, eienskappe en beginsels op. Hy sê in Maleagi 3:6: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie.” Met hierdie punte in gedagte sal ons twee gebeure uit die verlede bespreek—die een behels ’n vloed en die ander ’n droogte. Jy sal die volgende oplet: Wanneer God in die Bybelgeskiedenis natuurkragte gebruik het om sy oordeel te voltrek, het hy altyd (1) ’n waarskuwing, (2) ’n rede en (3) beskerming vir gehoorsame aanbidders voorsien.

Die Vloed van Noag se dag

Waarskuwing.

Dekades voor die Vloed het Jehovah vir Noag gesê: “Kyk, ek bring die sondvloed van waters op die aarde om alle vlees . . . te verdelg” (Genesis 6:17). Noag, “’n prediker van regverdigheid”, het die mense gewaarsku, maar hulle “het geen ag daarop geslaan” nie.—2 Petrus 2:5; Matteus 24:39.

Rede.

Jehovah het gesê: “Die einde van alle vlees het voor my gekom, want die aarde is vol geweld as gevolg van hulle.”—Genesis 6:13.

Beskerming vir gehoorsame aanbidders.

Jehovah het vir Noag uitvoerige instruksies gegee oor hoe om ’n ark te bou om die Vloed te oorleef. “Noag en dié wat saam met hom in die ark was, het bly lewe.”—Genesis 7:23.

’n Droogte in Israel

Waarskuwing.

Voordat Jehovah God ’n strawwe droogte oor Israel gebring het, het sy profeet Elia gesê: “Daar sal gedurende hierdie jare geen dou of reën val nie, behalwe op bevel van [God se] woord!”—1 Konings 17:1.

Rede.

Israel se aanbidding van die valse god Baäl het aanleiding gegee tot Jehovah se optrede. Elia het verduidelik: “Julle [het] die gebooie van Jehovah verlaat . . . en die Baäls gaan volg.”—1 Konings 18:18.

Beskerming vir gehoorsame aanbidders.

Tydens die droogte het Jehovah gehoorsame aanbidders van voedsel voorsien.—1 Konings 17:6, 14; 18:4; 19:18.

Wat die patroon openbaar

Vandag is daar geen bewyse dat natuurrampe deel vorm van ’n meesterplan om die mensdom te straf nie. As ’n God van geregtigheid het Jehovah nog nooit ‘die regverdige saam met die goddelose weggevee’ nie (Genesis 18:23, 25). Hy het omgesien na diegene wat aan hom gehoorsaam was. Vandag word mans, vroue en kinders sonder onderskeid deur natuurrampe getref.

God is nie verantwoordelik vir die ellende wat mense ervaar nie

Dit is duidelik dat natuurrampe wat in ons tyd plaasvind, nie die patroon volg van goddelike ingryping wat in die Skrif gevind word nie. Wat meer is, hierdie onverwagte gebeure kan nie met God se persoonlikheid vereenselwig word nie. Jakobus 1:13 sê dat God nie mense met bose dinge beproef nie, en 1 Johannes 4:8 som God se persoonlikheid soos volg op: “God is liefde.” Hy kan nooit verantwoordelik wees vir die ellende wat onskuldige mense ervaar weens onverwagte storms, aardbewings en soortgelyke tragedies nie. Sal sulke rampe ooit tot ’n einde kom?

Die lyding sal eindig

Dit was nooit Jehovah God se voorneme dat die mensdom deur natuurrampe geteister word nie. Sy wil is dat mense vir ewig onder vreedsame toestande op die aarde moet lewe. Soos in Noag se dag, sal Hy in die aarde se aangeleenthede ingryp om boosheid te verwyder. En soos in die verlede, stel Jehovah God die mensdom in kennis deur ’n waarskuwingsboodskap wêreldwyd te laat verkondig. Dit stel mense in staat om stappe te doen sodat hulle kan oorleef.—Psalm 37:9, 11, 29; Matteus 24:14.