Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Hoe om versoeking te weerstaan

Hoe om versoeking te weerstaan

DIE UITDAGING

“Meisies vra soms my telefoonnommer omdat hulle met my seks wil hê. Ek weier dan en loop weg. Maar in my agterkop bly ek dink: ‘Sê nou ek het my nommer vir haar gegee?’ Party van daardie meisies is regtig baie mooi. Dis maklik om te dink: ‘Hoekom nie?’”—Carlos, * 16.

Het jy, soos Carlos, ’n stryd wanneer dit kom by versoeking? Wees verseker dat jy die stryd kan wen.

WAT JY MOET WEET

As jy voor versoeking swig, sal dit jou net benadeel

Almal moet op hulle hoede wees vir versoeking—selfs grootmense. Versoeking kan immers baie vorme aanneem. Die apostel Paulus was nie jonk toe hy die volgende woorde geskryf het nie: “Ek skep werklik behae in die wet van God . . . , maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde” (Romeine 7:22, 23). Ten spyte van die druk het Paulus versoeking weerstaan—en jy kan ook! Hoekom sal ’n mens ’n slaaf van jou begeertes wil wees? (1 Korintiërs 9:27). As jy leer om versoeking te weerstaan terwyl jy jonk is, sal jy nou baie minder bekommernisse hê en sal jy ook ’n noodsaaklike vaardigheid verkry wat jy as ’n volwassene sal nodig hê.

Die media wakker verkeerde begeertes aan. Die Bybel praat van “begeertes wat eie is aan die jeug”, en dit op sigself is sterk (2 Timoteus 2:22). Maar rolprente, TV-programme, musiek en boeke wat op jongmense gemik is, versterk dikwels daardie begeertes deur die indruk te skep dat dit aanvaarbaar is om voor versoeking te swig. Byvoorbeeld, as twee karakters in ’n rolprent ‘verlief’ is, kan ’n mens feitlik seker wees dat hulle op die een of ander stadium in die storie seks sal hê. Maar die Bybel sê dat mans en vroue in die werklike lewe in staat is om hulle “van vleeslike begeertes te onthou” (1 Petrus 2:11). Dit beteken dat jy kan kies om versoeking te weerstaan. Maar hoe?

WAT JY KAN DOEN

Weet wat jou swakhede is. ’n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. Net so sal jy, ten spyte van jou vasbeslotenheid om te doen wat reg is, makliker swig op gebiede waarop jy die swakste is. Op watter gebiede moet jy versigtig wees?—Bybelbeginsel: Jakobus 1:14.

Berei jou voor op versoeking. Dink aan situasies waar jy waarskynlik voor versoeking te staan sal kom. Oefen in jou gedagtes hoe jy dit sal weerstaan.—Bybelbeginsel: Spreuke 22:3.

Versterk jou oortuigings. Volgens die Bybel het Josef, toe hy in die versoeking gekom het om hom aan seksuele onsedelikheid skuldig te maak, gesê: “Hoe kan ek . . . hierdie groot kwaad doen en in werklikheid teen God sondig?” (Genesis 39:9). Die woorde “hoe kan ek” toon dat Josef sterk oortuigings gehad het oor wat reg en verkeerd is. Is dit met jou die geval?

Vind vriende wat jou sal ondersteun. Jy kan versoeking in groot mate vermy deur vriende te kies wat dieselfde sedelike oortuigings as jy het. Die Bybel sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word.”—Spreuke 13:20.

Vermy situasies wat dit moeiliker sal maak om versoeking te weerstaan. Byvoorbeeld:

  • Maak seker dat jy nooit alleen is saam met iemand van die teenoorgestelde geslag nie.

  • Moenie die Internet gebruik wanneer of waar jy in die versoeking kan kom om na pornografie te kyk nie.

  • Bly weg van mense wie se woorde en dade verkeerde gedrag aanloklik laat lyk.

Watter riglyne kan jy vir jou stel wat jou sal help om nie in versoeking te kom nie?—Bybelbeginsel: 2 Timoteus 2:22.

Bid vir hulp. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hou aan . . . bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matteus 26:41). Die feit is dat Jehovah God wil hê dat jy versoeking moet weerstaan, en hy kan jou help om dit te doen. Die Bybel sê: “Hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.

^ par. 4 Naam is verander.