Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer ’n geliefde siek is

Wanneer ’n geliefde siek is

“Toe my pa op die punt was om uit die hospitaal ontslaan te word, het ons sy dokter gevra om weer saam met ons na sy bloedtoetse te kyk. Die dokter het ons verseker dat die uitslae normaal is, maar hy was gaaf genoeg om weer daarna te kyk. Tot sy verbasing was twee van die uitslae abnormaal! Hy het om verskoning gevra en ’n spesialis se insette gekry. My pa is nou beter. Maar ons is baie bly dat ons vrae gevra het.”—Maribel.

Maak ’n lys van simptome en medikasie voor die afspraak

Mediese afsprake en om in die hospitaal opgeneem te word, kan baie stresvol wees. Soos Maribel se ondervinding toon, kan die bystand van ’n vriend of ’n familielid baie help—dit kan selfs jou lewe red. Hoe kan jy ’n geliefde help?

Voor die besoek. Help die pasiënt om sy simptome sowel as enige medikasie of aanvullings wat hy neem, neer te skryf. Skryf ook enige vrae neer wat hy die dokter moet vra. Help jou vriend om enige besonderhede van sy toestand of enige familiegeskiedenis van die siekte te noem. Moenie aanneem dat die dokter reeds hierdie besonderhede weet of daarvoor sal vra nie.

Skenk aandag, wees respekvol wanneer jy vrae vra, en maak aantekeninge

Gedurende die besoek. Maak seker dat jy en die pasiënt verstaan wat die dokter sê. Vra vrae, maar moenie sê wat jy dink fout is nie. Laat die pasiënt toe om vrae te vra en self te praat. Skenk aandag en maak goeie aantekeninge. Vra watter soorte behandeling beskikbaar is. In sekere gevalle is dit dalk wys om voor te stel dat die pasiënt ’n tweede opinie moet kry.

Hersien die dokter se riglyne, en maak seker dat voorskrifte reg is

Ná die besoek. Hersien die afspraak met die pasiënt. Maak seker dat hy die regte medikasie kry. Spoor hom aan om die medikasie te neem soos voorgeskryf is en om die dokter onmiddellik in kennis te stel van enige negatiewe reaksie. Moedig die pasiënt aan om ’n positiewe uitkyk te behou en om enige bykomende instruksies te volg, soos om opvolgbehandeling te kry. Help hom om meer oor sy toestand te leer.

In die hospitaal

Maak seker dat alle vorms reg ingevul is

Wees kalm en oplettend. ’n Pasiënt wat na die hospitaal gaan, voel dalk bekommerd en hulpeloos. Deur kalm en oplettend te wees, kan jy almal help om te ontspan en nie foute te maak nie. Maak seker dat toelatingsvorms reg ingevul word. Respekteer die pasiënt se reg om ingeligte mediese besluite te neem. As hy te siek is om dit te doen, moet jy sy geskrewe wense en die gesag van sy naasbestaande of gesondheidsorgverteenwoordiger respekteer. *

Wees respekvol wanneer jy vir die personeel sê wat jy opgemerk het

Neem die inisiatief. Moenie bang wees om te praat nie. Jou netjiese voorkoms en goeie maniere kan die mediese span beweeg om groter belangstelling in die pasiënt te toon en selfs om die gehalte van hulle sorg te verbeter. In baie hospitale word pasiënte deur verskillende dokters behandel. Jy kan hulle help deur vir hulle te sê wat die ander personeel gesê het. Jy ken die pasiënt, en daarom moet jy sê as jy enige veranderinge in sy fisiese en geestestoestand opmerk.

Doen wat jy kan sonder om in die pad te wees

Toon respek en waardering. Hospitaalpersoneel werk dikwels onder stresvolle toestande. Behandel hulle soos jy behandel sou wou word (Matteus 7:12). Toon respek vir hulle opleiding en ondervinding, vertroue in hulle vermoëns en waardering vir hulle pogings. Sulke waardering kan hulle aanspoor om hulle bes te doen.

Almal word siek. Maar as jy voorsorg tref en praktiese bystand gee, kan jy ’n vriend of ’n familielid help om die beste van ’n moeilike situasie te maak.Spreuke 17:17.

^ par. 8 Wette en gebruike aangaande ’n pasiënt se regte en pligte verskil van plek tot plek. Maak seker dat die pasiënt se dokumente wat sy mediese wense bevat, volledig en op datum is.