Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Plante wat wiskunde doen

Plante wat wiskunde doen

PLANTE gebruik ’n komplekse proses wat fotosintese genoem word om energie van sonlig te verkry en voedsel te vervaardig. Studies wat oor sekere spesies gedoen is, het getoon dat hulle nog iets merkwaardigs doen—hulle bereken die ideale tempo waarteen hulle hierdie voedsel oornag moet absorbeer.

Dink hieraan: Gedurende die dag skakel plante koolstofdioksied in die atmosfeer om in stysel en suikers. Baie spesies gebruik die stysel wat in die dag opgegaar is, gedurende die nag sodat die plant nie uithonger nie, maar vrugbaar bly en aanhou groei. Wat meer is, hulle gebruik hulle styselvoorraad teen net die regte tempo—nie te vinnig en nie te stadig nie. Teen sonsopkoms het die plant ongeveer 95 persent daarvan gebruik, en dan begin dit weer stysel maak.

Hierdie waarnemings is gebaseer op eksperimente wat gedoen is op ’n plant wat behoort aan die mosterdplantfamilie met die naam Arabidopsis thaliana. Navorsers het bevind dat hierdie plant noukeurig uitwerk hoeveel voedselvoorraad hy deur die nag moet gebruik, hetsy daar 8, 12 of 16 uur is voordat die son opkom. Die plant doen blykbaar ’n sommetjie: Hy deel die hoeveelheid stysel wat beskikbaar is deur die ure wat oor is voor sonsopkoms en bepaal so die ideale tempo waarteen hy die stysel moet gebruik.

Hoe weet plante hoeveel stysel hulle oorhet? Hoe meet hulle tyd? En hoe is dit vir hulle moontlik om wiskunde te doen? Verdere navorsing sal dalk hierdie vrae beantwoord.

Wat dink jy? Het plante se vermoë om wiskunde te doen deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?