Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Betoon geneentheid in die gesin

Betoon geneentheid in die gesin

Betoon geneentheid in die gesin

“VERBRAND dit as jy wil! Verbrand dit!” het Tohroe sy vrou, Joko, uitgedaag. a “Dis presies wat ek gaan doen”, het sy teruggekap en ’n vuurhoutjie aangesteek om ’n foto van hulle twee te verbrand. Toe het sy bitsig gesê: “Ek sal die huis afbrand!” Tohroe het hierop gereageer deur sy vrou te klap, en so het hy die argument met geweld beëindig.

Drie jaar vroeër het Tohroe en Joko hulle lewe saam begin as ’n gelukkige getroude paartjie. Wat het dan verkeerd geloop? Al het Tohroe na ’n aangename man gelyk, het sy vrou gevoel dat hy haar nie liefdevol behandel nie en haar gevoelens selde in ag neem. Dit was asof hy net nie kon reageer op die geneentheid wat sy getoon het nie. Omdat Joko dit nie kon verwerk nie, het sy al hoe meer gegriefd en kwaad geword. Sy het begin ly aan slaaploosheid, angstigheid, ’n swak eetlus, geïrriteerdheid en depressie, en sy het selfs paniekaanvalle gekry. Tog het dit gelyk of die gespanne atmosfeer in sy huis Tohroe glad nie pla nie. Hy het gedink dat dit heel normaal was.

“Kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”

Sulke probleme is vandag algemeen. Die apostel Paulus het voorspel dat ons tyd gekenmerk sou word deur mense wat “sonder natuurlike geneentheid” is (2 Timoteus 3:1-5). Die oorspronklike Griekse woord wat hier met “sonder natuurlike geneentheid” vertaal word, hou ten nouste verband met die woord wat die natuurlike geneentheid beskryf wat gesinslede vir mekaar het. In ons tyd is daar beslis ’n gebrek aan sulke geneentheid. Selfs as daar wel geneentheid tussen gesinslede is, betoon hulle dit selde teenoor mekaar.

Vandag weet baie ouers nie hoe om liefde en geneentheid teenoor hulle eie kinders te betoon nie. Party het grootgeword in ’n gesin waar daar geen geneentheid was nie en hulle besef moontlik nie dat die lewe soveel gelukkiger en aangenamer kan wees as liefde in ’n gesin gevoel en betoon word nie. Dit was blykbaar die geval met Tohroe. Toe hy ’n kind was, was sy pa altyd by die werk en het hy saans laat by die huis gekom. Hy het selde met Tohroe gepraat, en wanneer hy dit wel gedoen het, was hy beledigend. Tohroe se ma het ook voltyds gewerk en nie veel tyd saam met hom deurgebring nie. Die televisie was sy kinderwagter. In sy gesin was daar geen woorde van lof of kommunikasie nie.

Kultuur kan ook ’n faktor wees. In sommige dele van Latyns-Amerika is dit teen die algemene kultuur vir ’n man om geneentheid teenoor sy vrou te betoon. In baie Oosterse en Afrikalande is dit strydig met tradisie om jou geneentheid in woorde of dade uit te druk. Mans vind dit dalk moeilik om vir hulle vrou of kinders te sê: “Ek is lief vir jou.” Ons kan nietemin baie leer uit die voortreflikste gesinsverhouding wat daar is, een wat die toets van die tyd deurstaan het.

’n Voorbeeldige gesinsverhouding

Die beste voorbeeld vir die gesin word gevind in die intieme verhouding tussen Jehovah God en sy enigverwekte Seun. Hulle betoon liefde teenoor mekaar op ’n volmaakte wyse. Derduisende jare lank het die geesskepsel wat later Jesus Christus geword het, ’n gelukkige verhouding met sy Vader geniet. Hy het hulle band so beskryf: “Ek het die een geword vir wie hy dag na dag besonder lief was, terwyl ek die hele tyd voor hom verheug was” (Spreuke 8:30). Die Seun was so seker van sy Vader se liefde dat hy vir ander kon vertel dat Jehovah dag na dag besonder lief was vir hom. Hy was die hele tyd gelukkig voor sy Vader.

Selfs toe hy as die mens Jesus op aarde was, is God se Seun van sy Vader se innige liefde vir hom verseker. Nadat Jesus gedoop is, het hy sy Vader se stem gehoor: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Hoe bemoedigend was hierdie liefdevolle woorde tog aan die begin van Jesus se bediening op die aarde! Dit het ongetwyfeld sy hart geraak om te hoor dat sy Vader hom goedkeur, veral op hierdie tydstip toe hy al die besonderhede omtrent sy hemelse lewe onthou het.

Jehovah stel dus die beste voorbeeld in die betoning van volmaakte liefde teenoor sy universele gesin. As ons Jesus Christus aanvaar, kan ons ook Jehovah se geneentheid geniet (Johannes 16:27). Hoewel ons nie woorde uit die hemel sal hoor nie, sal ons blyke van Jehovah se liefde in die natuur, in die voorsiening van Jesus se losprysoffer en op ander maniere sien (1 Johannes 4:9, 10). Jehovah luister selfs na ons gebede en verhoor dit op ’n wyse wat ons tot voordeel strek (Psalm 145:18; Jesaja 48:17). Namate ons ’n intieme verhouding met Jehovah opbou, vergroot dit ons waardering vir sy liefdevolle sorg.

Jesus het by sy Vader geleer hoe om empatie, bedagsaamheid, goedhartigheid en diepe besorgdheid teenoor ander te betoon. Hy het verduidelik: “Alles wat [die Vader] doen, dít doen die Seun ook net so. Want die Vader het geneentheid vir die Seun en wys hom alles wat hy self doen” (Johannes 5:19, 20). Ons kan op ons beurt die kuns aanleer om geneentheid te betoon deur die voorbeeld te bestudeer wat Jesus gestel het terwyl hy op die aarde was.—Filippense 1:8.

Geneentheid in die gesin—Hoe?

Aangesien ‘God liefde is’ en ons “na sy beeld” geskep is, het ons die potensiaal om liefde vir ander te voel en dit teenoor hulle te betoon (1 Johannes 4:8; Genesis 1:26, 27). Maar daardie potensiaal is iets wat ontwikkel moet word. Om geneentheid te betoon, moet ons eers geneentheid vir ons huweliksmaat en kinders voel. Wees oplettend en soek na innemende eienskappe in hulle, ongeag hoe onbeduidend dit dalk aanvanklik lyk, en dink gedurig daaroor na. ‘Daar is niks aantrekliks omtrent my man [vrou of kinders] nie’, sê jy dalk. Diegene in ’n gereëlde huwelik voel moontlik min geneentheid vir hulle huweliksmaat. Party wou miskien nie kinders gehad het nie. Maar kyk hoe Jehovah in die tiende eeu v.G.J. oor sy figuurlike vrou, die nasie Israel, gevoel het. Hoewel sy profeet Elia tot die slotsom gekom het dat daar geen ander aanbidders van Jehovah in die tienstammeryk van Israel was nie, het Jehovah hulle noukeurig ondersoek en ’n aansienlike getal mense gevind—altesaam 7 000—wat in sy oë aantreklike eienskappe gehad het. Kan jy Jehovah navolg deur na die goeie eienskappe in jou gesinslede te soek?—1 Konings 19:14-18.

As jy egter wil hê dat ander gesinslede jou liefde vir hulle moet aanvoel, moet jy ’n doelbewuste poging aanwend om dit te toon. Wanneer jy ook al iets prysenswaardigs opmerk, kan jy gerus jou waardering uitspreek. Waar God se Woord ’n bekwame vrou beskryf, meld dit iets interessants omtrent haar gesin: “Haar seuns het opgestaan en haar gelukkig genoem; haar eienaar staan op, en hy prys haar” (Spreuke 31:28). Let op hoe vryelik die gesinslede hulle waardering teenoor mekaar uitgespreek het. Deur sy vrou te prys, stel ’n vader ’n goeie voorbeeld vir sy seun, wat hom sal aanspoor om eendag wanneer hy getroud is, ook sy vrou geredelik te prys.

Dit is ook goed as ouers hulle kinders prys. Dit kan help om selfrespek in die kinders se harte op te bou. Hoe kan iemand immers ‘sy naaste liefhê soos homself’ as hy geen respek vir homself het nie? (Matteus 22:39). As ouers hulle kinders daarenteen gedurig kritiseer en hulle nooit prys nie, kan die kinders maklik hulle selfrespek verloor en dit moeilik vind om geneentheid teenoor ander te betoon.—Efesiërs 4:31, 32.

Hulp is beskikbaar

Gestel jy het nie in ’n liefdevolle huis grootgeword nie. Jy kan nog steeds leer om geneentheid te betoon. Die eerste stap is om die probleem te identifiseer en te erken dat jy daaraan moet werk. God se Woord, die Bybel, kan grootliks hiermee help. Dit kan met ’n spieël vergelyk word. Wanneer ons onsself in die spieëlagtige leringe van die Bybel ondersoek, word die tekortkominge, of gebreke, in ons denke na ons toe teruggekaats (Jakobus 1:23). In ooreenstemming met Bybelleringe kan ons enige ongepaste neigings regstel (Efesiërs 4:20-24; Filippense 4:8, 9). Ons moet dit gereeld doen en nooit “ophou om te doen wat goed is nie”.—Galasiërs 6:9.

Sommige vind dit dalk moeilik om geneentheid te toon weens hulle opvoeding of kultuur. Maar onlangse studies dui daarop dat hierdie struikelblokke oorkom kan word. Dr. Daniel Goleman, ’n spesialis in geestesgesondheid, verduidelik dat ‘selfs die mees diepgewortelde neigings van die hart wat as kind aangeleer is, hervorm kan word’. Meer as 19 eeue gelede het die Bybel getoon dat selfs die diepste neigings van die hart met behulp van God se gees verander kan word. Dit vermaan ons: “Lê die ou persoonlikheid met sy gebruike af, en beklee julle met die nuwe persoonlikheid.”—Kolossense 3:9, 10.

Sodra die probleem geïdentifiseer is, kan die gesin die Bybel bestudeer met hulle behoeftes in gedagte. Slaan byvoorbeeld die woord “geneentheid” na in ’n Bybelkonkordansie. Julle vind dalk ’n teks soos die volgende: “Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het, dat Jehovah baie teer in geneentheid en barmhartig is” (Jakobus 5:11). Bespreek dan die Bybelverslag oor Job en let veral op hoe Jehovah teer in geneentheid en barmhartig teenoor hom was. Julle sal Jehovah ongetwyfeld wil navolg deur baie teer in geneentheid en barmhartig teenoor julle gesinslede te wees.

Omdat ons egter onvolmaak is, ‘struikel ons almal dikwels’ in die gebruik van die tong (Jakobus 3:2). In die gesin gebruik ons dalk nie altyd ons tong op ’n aanmoedigende wyse nie. Dit is wanneer gebed en vertroue op Jehovah nodig is. Moenie moed opgee nie. “Bid onophoudelik” (1 Tessalonisense 5:17). Jehovah sal dié in die gesin help wat na geneentheid smag, sowel as dié wat dit wil toon, maar dit moeilik vind.

Jehovah het ook op liefdevolle wyse hulp in die Christengemeente voorsien. Jakobus het geskryf: “Is iemand onder julle [geestelik] siek? Laat hom die ouer manne van die gemeente na hom toe roep, en laat hulle oor hom bid en hom in die naam van Jehovah met olie salf” (Jakobus 5:14). Ja, ouer manne in die gemeentes van Jehovah se Getuies kan van groot hulp wees vir gesinne wat dit moeilik vind om geneentheid teenoor mekaar te betoon. Hoewel die ouer manne nie terapeute is nie, kan hulle medegelowiges geduldig help, nie deur vir hulle te sê wat om te doen nie, maar deur hulle te herinner aan Jehovah se beskouing en deur saam met hulle en vir hulle te bid.—Psalm 119:105; Galasiërs 6:1.

Wat Tohroe en Joko betref, die Christen- ouer manne het altyd na hulle probleme geluister en hulle vertroos (1 Petrus 5:2, 3). Soms het ’n ouer man en sy vrou hulle besoek sodat Joko baat kon vind by die geselskap van ’n ervare Christenvrou wat haar kon help om te besef dat ‘sy haar man moet liefhê’ (Titus 2:3, 4). Deur hulle begrip en simpatie met die lyding en hartseer van mede-Christene word die ouer manne “’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm”.—Jesaja 32:1, 2.

Met die hulp van liefdevolle ouer manne het Tohroe tot die besef gekom dat hy sukkel om sy emosies te toon en dat Satan in “die laaste dae” die gesinsreëling aanval (2 Timoteus 3:1). Tohroe het besluit om werk te maak van sy probleem. Hy het begin insien dat hy nie liefde betoon nie omdat hy in ’n liefdelose huis grootgeword het. Deur ernstige Bybelstudie en gebed het Tohroe mettertyd beter begin reageer op Joko se emosionele behoeftes.

Al was Joko kwaad vir Tohroe, het sy ’n ernstige poging aangewend om haar man se goeie eienskappe raak te sien, veral nadat sy sy gesinsagtergrond verstaan het en haar eie swakhede gesien het (Matteus 7:1-3; Romeine 5:12; Kolossense 3:12-14). Sy het Jehovah opreg gesmeek vir krag om vir haar man lief te bly (Filippense 4:6, 7). Mettertyd het Tohroe sy geneentheid begin toon, tot sy vrou se vreugde.

Ja, al vind jy dit moeilik om geneentheid in die gesin te voel of te betoon, kan jy hierdie probleem beslis oorkom. God se Woord gee ons betroubare leiding (Psalm 19:7). As jy die erns van die saak besef, die goeie eienskappe in jou gesinslede probeer sien, God se Woord bestudeer en toepas, op Jehovah vertrou deur opregte gebed en die hulp van ryp Christen- ouer manne vra, kan jy ’n oënskynlik onoorkombare struikelblok tussen jou en jou gesin oorkom (1 Petrus 5:7). Net soos ’n man in die Verenigde State, kan jy ook vreugde ervaar. Hy is aangemoedig om sy liefde vir sy vrou te toon. Toe hy uiteindelik die moed bymekaargeskraap het om vir sy vrou te sê: “Ek is lief vir jou”, was hy verbaas oor haar reaksie. Met trane van vreugde in haar oë het sy gesê: “Ek is ook lief vir jou, maar dis die eerste keer in 25 jaar dat jy dit só vir my sê.” Moenie so lank wag voordat jy jou geneentheid teenoor jou huweliksmaat en jou kinders toon nie!

[Voetnoot]

a Van die name is verander.

[Prent op bladsy 28]

Jehovah voorsien hulp in sy Woord, die Bybel