Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Swaarkry — Is dit straf van God?

Swaarkry — Is dit straf van God?

LUZIA SE LINKERBEEN IS MANK. As ’n jong kind het sy polio gehad, ’n baie aansteeklike siekte wat die liggaam se senustelsel aanval. Toe sy 16 jaar oud was, het ’n vrou vir wie sy gewerk het, vir haar gesê: “God het jou gestraf en jou verlam gemaak omdat jy ongehoorsaam en lelik met jou ma was.” Jare later onthou Luzia nog steeds hoe dit haar hart gebreek het.

TOE DAMARIS UITGEVIND HET DAT SY BREINKANKER HET, het haar pa haar gevra: “Wat het jy gedoen sodat dit met jou gebeur het? Jy moes seker iets baie slegs gedoen het. Dis hoekom God jou straf.” Sy woorde het Damaris diep seergemaak.

Mense glo al duisende jare lank dat siekte ’n straf van God is. Die boek Manners and Customs of Bible Lands sê dat baie mense in Christus se tyd geglo het dat “siekte veroorsaak word deur die sonde van die siek persoon, of van sy familielede, en dat dit gestuur is as straf vir daardie sonde”. Medieval Medicine and the Plague sê dat “party mense [in die Middeleeue] geglo het dat God plae bring om hulle vir hulle sondes te straf”. Was God besig om goddelose mense te straf toe miljoene mense regoor Europa as gevolg van die plaag in die 14de eeu gesterf het? Of was die plaag eenvoudig veroorsaak deur ’n bakteriële infeksie, soos mediese navorsers intussen vasgestel het? Party wonder dalk, gebruik God regtig siekte om mense te straf vir hulle sondes? *

DINK HIERAAN: Hoekom het Jesus siek mense gesond gemaak as mense dit verdien het om deur God met siekte en swaarkry gestraf te word? Sou dit nie beteken dat hy teen God se regverdigheid en geregtigheid werk nie? (Matteus 4:23, 24). Jesus sou dit nooit doen nie. Hy het gesê: ‘Ek doen altyd die dinge wat hom behaag’, en ‘ek doen net soos die Vader my die gebod gegee het om te doen’. — Johannes 8:29; 14:31.

Die Bybel sê duidelik: Jehovah God is iemand “by wie daar geen onreg is nie” (Deuteronomium 32:4). Byvoorbeeld, God sou nooit ’n vliegtuigongeluk veroorsaak wat honderde onskuldige mense doodmaak net omdat hy een persoon op die vlug wou straf nie! As gevolg van God se regverdigheid het Abraham, ’n getroue kneg van God, gesê dat God nooit “die regverdige saam met die goddelose [sou] wegvee” nie. Hy het gesê dat dit “ondenkbaar” sou wees (Genesis 18:23, 25). Die Bybel sê ook dat God nie “goddeloos” of “onregverdig” handel nie. — Job 34:10-12.

WAT DIE BYBEL ONS LEER OOR SWAARKRY

Die feit dat ons swaarkry, beteken nie dat God ons vir ’n spesifieke sonde straf nie. Jesus het hierdie punt duidelik gemaak toe hy en sy dissipels ’n man gesien het wat blind gebore is. “Sy dissipels het hom gevra: ‘Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?’ Jesus het geantwoord: ‘Nie hierdie man of sy ouers het gesondig nie, maar dit was sodat die werke van God in sy geval openbaar gemaak kon word.’” — Johannes 9:1-3.

As gevolg van wat die mense destyds geglo het, moes Jesus se dissipels verbaas gewees het toe hy vir hulle sê dat nie die man of sy ouers op ’n manier gesondig het wat hierdie gebrek veroorsaak het nie. Jesus het nie net die man gesond gemaak nie, maar hy het ook die idee dat God mense straf deur hulle te laat swaarkry, verkeerd bewys (Johannes 9:6, 7). Mense wat vandag ernstige gesondheidsprobleme het, word vertroos omdat hulle weet dat God nie die oorsaak van hulle swaarkry is nie.

Hoekom sou Jesus siek mense gesond maak as God hulle gestraf het omdat hulle verkeerde dinge doen?

Die Bybel verseker ons

  • “Met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (JAKOBUS 1:13). Die “bose dinge” wat al honderde jare lank vir die mens probleme veroorsaak, soos siekte, pyn en die dood, sal binnekort heeltemal weggeneem word.

  • Jesus Christus “het almal genees met wie dit sleg gegaan het” (MATTEUS 8:16). Omdat hy almal wat na hom toe gekom het, gesond gemaak het, het God se Seun gewys wat God se Koninkryk wêreldwyd sal doen.

  • “Hy [God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.” — OPENBARING 21:3-5.

WIE IS VERANTWOORDELIK VIR ONS SWAARKRY?

Hoekom gaan die mens deur soveel pyn en swaarkry? Mense wonder al honderde jare lank hieroor. Wie is dan verantwoordelik as dit nie God se skuld is nie? Die antwoorde op hierdie vrae sal in die volgende artikel bespreek word.

^ par. 4 Alhoewel God mense in die verlede vir spesifieke sondes gestraf het, wys die Bybel nie dat Jehovah nou siektes of rampe gebruik om mense vir hulle sondes te straf nie.