Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Ons lesers vra . . .

Het almal ’n gelyke geleentheid om God te leer ken?

Het almal ’n gelyke geleentheid om God te leer ken?

Toe Jesus gevra is wat die grootste gebod is, het hy gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Maar voordat mense God kan liefhê, moet hulle juiste kennis van hom inneem (Johannes 17:3). Sal almal ’n gelyke geleentheid hê om hierdie kennis te verkry?

Die hoofbron van kennis van God is die Bybel (2 Timoteus 3:16). Baie woon in gemeenskappe waar die Bybel geredelik beskikbaar is. Daardie selfde mense word moontlik ook herhaaldelik uitgenooi om juiste kennis van God in te neem deur middel van ’n persoonlike Bybelstudie (Matteus 28:19). Party word grootgemaak deur hulle liefdevolle Christenouers, wat hulle daagliks die geleentheid gee om van God te leer.—Deuteronomium 6:6, 7; Efesiërs 6:4.

Ander lewe egter onder minder gunstige omstandighede. Party mense kom uit families waarin daar mishandeling plaasgevind het en ouers geen natuurlike geneentheid vir hulle kinders getoon het nie (2 Timoteus 3:1-5). Diegene wat in so ’n milieu grootgeword het, vind dit dalk moeilik om God as ’n liefdevolle hemelse Vader te beskou. Baie het nie toegang tot voldoende skoolopleiding gehad nie, wat dit vir hulle moeilik maak om die Bybel te lees. Nog ander se verstande is deur valse godsdiensleringe verblind of hulle bevind hulle in gesinne, gemeenskappe of lande waar mense nie toegelaat word om Bybelwaarheid te leer nie (2 Korintiërs 4:4). Ontneem die omstandighede van hierdie mense hulle die geleentheid om van God te leer en hom lief te kry?

Jesus het erken dat die uitdagings waarvoor party te staan kom, dit vir hulle moeilik sal maak om God lief te hê en te gehoorsaam (Matteus 19:23, 24). Jesus het egter sy dissipels daaraan herinner dat ‘alles by God moontlik is’, al lyk party struikelblokke vir mense onoorkomelik.—Matteus 19:25, 26.

Kyk na die volgende feite: Jehovah God het verseker dat sy Woord, die Bybel, die boek met die grootste verspreiding van alle tye is. Die Bybel het voorspel dat die goeie nuus oor God en sy voorneme met die aarde in “die hele bewoonde aarde” verkondig sou word (Matteus 24:14). Vandag verkondig Jehovah se Getuies hierdie goeie nuus in meer as 230 lande en versprei hulle Bybellektuur in sowat 500 tale. Selfs diegene wat geen toegang tot die Bybel het nie, kan nog steeds baie oor die ware God leer deur die dinge waar te neem wat hy gemaak het.—Romeine 1:20.

Daarbenewens sê God se Woord: “Jehovah deursoek alle harte, en hy onderskei elke neiging van die gedagtes. As jy hom soek, sal hy hom deur jou laat vind” (1 Kronieke 28:9). Al belowe Jehovah dus nie dat elke individu presies dieselfde geleentheid sal hê nie, maak hy wel seker dat alle opregtes van hart ’n geleentheid kry. Hy sal selfs seker maak dat diegene wat nog nooit die geleentheid gehad het om van hom te leer nie, ’n geleentheid gegee word deur middel van ’n opstanding tot lewe in ’n regverdige nuwe wêreld.—Handelinge 24:15.