Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is alle “Christene” Christelik?

Is alle “Christene” Christelik?

Is alle “Christene” Christelik?

HOEVEEL Christene is daar? Volgens die Atlas of Global Christianity was daar in 2010 wêreldwyd byna 2,3 miljard Christene. Maar dieselfde publikasie dui ook aan dat daardie Christene aan meer as 41 000 kerke behoort—elk met sy eie leerstellings en gedragsreëls. Wanneer party mense kyk na hierdie verbysterende aantal “Christelike” godsdienste, is dit te verstane dat hulle verwar of selfs ontnugter word. Hulle wonder dalk: ‘Is almal wat beweer dat hulle Christene is, werklik Christelik?’

Kom ons beskou die saak uit ’n ander hoek. Daar word gewoonlik van ’n reisiger vereis om aan ’n grensbeampte te verklaar van watter land hy ’n burger is. Hy moet ook bewys dat hy is wie hy sê hy is deur die een of ander identiteitsbewys, moontlik ’n paspoort, te toon. Net so moet ’n ware Christen meer doen as om net te bely dat hy in Christus glo. Hy moet bykomende bewys van sy identiteit kan lewer. Wat behels dit?

Die woord “Christen” is vir die eerste keer die een of ander tyd ná 44 HJ gebruik. Die Bybelgeskiedskrywer Lukas het gesê: “Dit was in Antiogië dat die dissipels vir die eerste keer deur goddelike voorsienigheid Christene genoem is” (Handelinge 11:26). Let op dat diegene wat Christene genoem is, Christus se dissipels was. Wat maak van iemand ’n dissipel van Jesus Christus? The New International Dictionary of New Testament Theology verduidelik: “Om Jesus as ’n dissipel te volg, beteken dat [’n mens] jou hele lewe onvoorwaardelik en lewenslank opoffer.” ’n Ware Christen is dus iemand wat die leringe en instruksies van Jesus, die Stigter van die Christelike godsdiens, ten volle en onvoorwaardelik volg.

Is dit moontlik om sulke mense onder die talle te vind wat vandag sê dat hulle Christene is? Wat het Jesus self gesê sou sy ware volgelinge identifiseer? Ons nooi jou om te kyk hoe die Bybel hierdie vrae beantwoord. In die artikels wat volg, sal ons vyf van Jesus se verklarings ondersoek wat toon waaraan sy ware dissipels gekenmerk word en wat ons help om hulle te identifiseer. Ons gaan kyk na hoe die eerste-eeuse Christene in hierdie verband gevaar het. En ons sal probeer vasstel wie van die talle mense wat vandag sê dat hulle Christene is, aan die vereistes voldoen.