Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat was die “regterstoel” waarna die apostel Paulus gelei is?

Die verslag in Handelinge 18:12, 13 sê dat Jode in Korinte Paulus van onwettige proselitisme beskuldig het en dat hulle hom gelei het na “die regterstoel”, of beʹma (’n Griekse woord wat “trap” beteken). In antieke Korinte was daar ’n verhoogde opelugplatform, of verhoog, naby die middel van die agora, of markplein, wat dalk net ’n paar treë van die sinagoge af was. Die posisie van hierdie platform het dit ’n geskikte plek gemaak waarvandaan mense toegespreek kon word. Die platform is van blou en wit marmer gemaak wat ryklik versier is met fyn snywerk, en dit het twee wagkamers met marmersitbanke en mosaïekvloere gehad.

Die platform was blykbaar die regterstoel waar die apostel Paulus voor die prokonsul Gallio, die Romeinse goewerneur van Agaje, verskyn het. Hier het sittende amptenare sake verhoor en hulle regterlike beslissings aan die vergaderde skare bekend gemaak.

In Griekse stadstate was dit nie ongewoon dat mense voor die beʹma vergader het nie, waarvandaan daar na alle gemeenskapsaangeleenthede omgesien is. In verband met Jesus se verhoor sê die Griekse teks van Matteus 27:19 sowel as van Johannes 19:13 dat Pontius Pilatus die skare van sy beʹma af toegespreek het.—Handelinge 12:21.

Waarom het die manier waarop Jesus gesterf het party Jode laat struikel?

Die apostel Paulus het oor die vroeë Christene gesê: “Ons verkondig Christus wat aan die paal gehang is, vir die Jode ’n oorsaak van struikeling maar vir die nasies dwaasheid” (1 Korintiërs 1:23). Waarom het die manier waarop Jesus gesterf het party laat struikel?

Aangaande die manier waarop Jesus gesterf het en met die oog op die kultuur van die mense wat in die eerste eeu in die Midde-Ooste gelewe het, sê die Bybelkommentator Ben Witherington III dat dit “in daardie wêreld die skandelikste manier was om te sterf. Dit was in geen opsig as ’n edele marteldood beskou nie.” Witherington sê verder: “Mense van daardie kultuur het geglo dat die manier waarop iemand sterf, die duidelikste aanduiding is van watter soort persoon hy was. Uit daardie oogpunt was Jesus ’n skurk, iemand wat hoogverraad gepleeg het, iemand wat die straf verdien het wat opstandige slawe toekom.” Dit lyk in die lig van hierdie kulturele agtergrond dus nie redelik om te sê dat die vroeë Christene die verslae oor Jesus se dood en opstanding versin het nie.