Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Korrupsie—Hoe wydverspreid is dit?

Korrupsie—Hoe wydverspreid is dit?

“Ons maatskappy lewer dienste aan ’n plaaslike staatsinstansie. Ons moet dikwels twee of drie maande lank wag voordat ons vir ons dienste betaal word. Onlangs het ek egter ’n oproep van ’n staatsamptenaar ontvang. Hy het aangebied om die betalings te bespoedig—as ons agteraf vir hom deel van die geld gee.”—JOHN. *

WAS jy al ooit die slagoffer van korrupsie? Moontlik nie van die soort korrupsie wat hierbo genoem word nie, maar jy het heel waarskynlik al as gevolg van korrupsie gely.

Volgens Transparency International (TI) se Korrupsie-persepsie-indeks * vir 2011 “kry die oorgrote meerderheid van die 183 lande en gebiede wat geëvalueer is, minder as vyf punte op ’n skaal van 0 (hoogs korrup) tot 10 (baie skoon)”. Twee jaar vroeër het TI erken dat sy jaarverslag vir 2009 aan die lig gebring het hoe wydverspreid korrupsie in werklikheid is: “Dit is duidelik dat geen wêrelddeel immuun is teen die invloed van korrupsie nie.”

“Korrupsie is die misbruik van toevertroude mag vir persoonlike gewin. Dit benadeel almal wie se lewe, lewensonderhoud of geluk afhang van die eerlikheid van mense in gesagsposisies.”—TRANSPARENCY INTERNATIONAL

Soms kan die gevolge van korrupsie rampspoedig wees. Die tydskrif Time het byvoorbeeld berig dat “korrupsie en agterlosigheid” ten minste gedeeltelik verantwoordelik was vir die uiters hoë sterftesyfer in die groot aardbewing wat Haïti in 2010 getref het. Dit het bygevoeg: “Geboue word opgerig met min of geen insette van ingenieurs en baie omkoopgeskenke word aan sogenaamde staatsinspekteurs gegee.”

Is daar ’n blywende oplossing vir die plaag van korrupsie? Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons die onderliggende oorsake van korrupsie verstaan. Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

^ par. 2 Naam is verander.

^ par. 4 “Die Korrupsie-persepsie-indeks plaas lande op ’n ranglys volgens hulle vermeende vlakke van korrupsie in die openbare sektor.”—Transparency International.