Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’N GESPREK MET ’N BUURVROU

Waarom laat God lyding toe?

Waarom laat God lyding toe?

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurvrou. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Michelle besoek aflê by die huis van ’n vrou met die naam Susan.

HOE VOEL GOD OOR DIE LYDING WAT ONS VERDUUR?

Michelle: Hallo, Susan. Ek is bly om jou by die huis te kry.

Susan: Ek is ook bly om jou te sien.

Michelle: Toe ek laas hier was, het ons bespreek hoe God voel oor die lyding wat ons verduur. * Jy het gesê dat jy lank daaroor gewonder het, veral nadat jou ma in ’n motorongeluk beseer is. Hoe gaan dit nou met haar?

Susan: Party dae goed en ander dae sleg. Vandag gaan dit redelik goed.

Michelle: Ek is bly om dit te hoor. Dis seker moeilik om positief te bly in so ’n situasie.

Susan: Ja, dit is. Soms wonder ek hoe lank sy nog sal moet ly.

Michelle: Dis ’n natuurlike reaksie. Jy onthou dalk dat ek aan die einde van my vorige besoek gesê het dat ons die vraag sal bespreek: Waarom laat God toe dat lyding voortduur as hy die krag het om ’n einde daaraan te maak?

Susan: Ja, ek onthou.

Michelle: Voordat ons kyk wat die Bybel se antwoord is, kan ons ’n paar van die gedagtes hersien wat ons verlede keer bespreek het.

Susan: Nou goed.

Michelle: Om maar een ding te noem, ons het geleer dat selfs ’n getroue man in Bybeltye gewonder het waarom God lyding toelaat. Tog het God hom nooit bestraf omdat hy vrae hieroor gevra het nie, en God het ook nie vir hom gesê dat hy eenvoudig meer geloof nodig het nie.

Susan: Dit was vir my ’n nuwe gedagte.

Michelle: Ons het ook geleer dat Jehovah God dit haat om te sien dat ons ly. Die Bybel sê byvoorbeeld dat “dit vir hom benoudheid veroorsaak” het toe sy volk in benoudheid was. * Is dit nie vertroostend om te weet dat God medelye met ons het wanneer ons ly nie?

Susan: Ja, beslis.

Michelle: Ons het toe saamgestem dat ons Skepper, wat ontsaglike krag het, beslis die vermoë het om te eniger tyd in te gryp en ’n einde aan lyding te maak.

Susan: Dis wat ek nie verstaan nie. Waarom laat God toe dat al hierdie slegte dinge gebeur as hy die krag het om dit stop te sit?

WIE HET DIE WAARHEID GEPRAAT?

Michelle: Ons kan jou vraag beantwoord deur na die eerste boek van die Bybel, Genesis, te blaai. Ken jy die verslag oor Adam en Eva en die verbode vrug?

Susan: Ja, ek het die verhaal by die Sondagskool geleer. God het gesê dat hulle nie van ’n sekere boom mag eet nie, maar hulle het toe daarvan geëet.

Michelle: Dis reg. Kom ons kyk wat daartoe gelei het dat Adam en Eva gesondig het. Dit hou regstreeks verband met die vraag oor waarom ons ly. Sal jy asseblief Genesis hoofstuk 3, verse 1 tot 5 , lees?

Susan: Sekerlik. “En die slang was die versigtigste van al die wilde diere van die veld wat Jehovah God gemaak het. Toe het hy vir die vrou begin sê: ‘Is dit werklik so dat God gesê het dat julle nie van al die bome van die tuin mag eet nie?’ Hierop het die vrou vir die slang gesê: ‘Van die vrugte van die bome van die tuin mag ons eet. Maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: “Julle mag daarvan nie eet nie, nee, julle mag daaraan nie raak nie, sodat julle nie sterf nie.”’ Hierop het die slang vir die vrou gesê: ‘Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.’”

Michelle: Dankie. Kom ons bespreek hierdie verse. Let daarop dat ’n slang met die vrou, Eva, gepraat het. Op ’n ander plek in die Bybel sien ons dat dit eintlik Satan die Duiwel was wat deur die slang met haar gepraat het. * Satan het Eva gevra watter bevel God oor ’n sekere boom gegee het. Het jy gesien wat God gesê het die straf sou wees as Adam en Eva daarvan eet?

Susan: Hulle sou sterf.

Michelle: Dis reg. Satan het toe ’n ernstige aantyging teen God gemaak. Kyk wat hy gesê het: “Julle sal sekerlik nie sterf nie.” Satan het te kenne gegee dat God ’n leuenaar is!

Susan: Ek het nooit daardie deel van die verhaal gehoor nie.

Michelle: En toe Satan te kenne gegee het dat God ’n leuenaar is, het hy ’n geskil geopper wat tyd sou verg om te besleg. Kan jy sien waarom?

Susan: Hmm. Ek is nie seker nie.

Michelle: Wel, dalk kan ek die gedagte so toelig. Gestel ek kom eendag na jou toe en beweer dat ek sterker as jy is. Hoe sal jy my verkeerd bewys?

Susan: Seker deur die een of ander kragmeting.

Michelle: Presies. Miskien kan ons kyk wie van ons ’n swaar voorwerp kan optel. Dit is eintlik redelik maklik om te bewys wie die sterkste is.

Susan: Ek verstaan.

Michelle: Maar sê nou ek beweer nie dat ek sterker is nie, maar dat ek eerliker as jy is? Dis ’n heel ander saak, nie waar nie?

Susan: Ja, dit is seker.

Michelle: Eerlikheid kan immers nie met ’n eenvoudige kragmeting bewys word nie.

Susan: Nee, dit kan nie.

Michelle: Eintlik is die enigste manier waarop ’n mens die geskil kan besleg, om genoeg tyd te laat verbygaan sodat ander kan sien wie van ons werklik die eerlikste is.

Susan: Dit maak sin.

Michelle: Kyk nou weer na hierdie verslag in Genesis. Het Satan beweer dat hy sterker as God is?

Susan: Nee.

Michelle: God sou hom maklik verkeerd kon bewys. Maar Satan het beweer dat hy eerliker as God is. Hy het as ’t ware vir Eva gesê: ‘God lieg vir jou, maar ek vertel vir jou die waarheid.’

Susan: Dis interessant.

Michelle: God het in sy wysheid geweet dat die beste manier om die geskil te besleg, sou wees om tyd te laat verbygaan. Dit sou uiteindelik duidelik wees wie die waarheid gepraat het en wie gelieg het.

’N BELANGRIKE GESKIL

Susan: Maar het Eva se dood dan nie bewys dat God die waarheid gepraat het nie?

Michelle: In sekere sin het dit. Maar Satan se uitdaging het meer behels. Kyk weer na vers 5. Sien jy wat anders Satan vir Eva gesê het?

Susan: Hy het gesê dat haar oë geopen sal word as sy van die vrug eet.

Michelle: Ja, en dat sy “soos God sal word deur goed en kwaad te ken”. Satan het dus beweer dat God iets goeds van die mens weerhou.

Susan: Ek sien.

Michelle: En dit was ook ’n groot geskil.

Susan: Wat bedoel jy?

Michelle: Deur dit te sê, het Satan beweer dat Evaen by uitbreiding, alle mensebeter sou vaar sonder God se heerskappy. Ook in hierdie geval het Jehovah geweet dat die beste manier om die geskil te besleg, sou wees om Satan toe te laat om sy bewering te probeer staaf. Daarom het God Satan toegelaat om ’n tyd lank oor hierdie wêreld te regeer. Dit verklaar waarom ons soveel lyding om ons sienSatan is die eintlike heerser van die wêreld, nie God nie. * Maar daar is goeie nuus.

Susan: Wat is dit?

Michelle: Die Bybel leer ons twee pragtige waarhede omtrent God. Eerstens, Jehovah is besorg oor ons wanneer ons ly. Kyk byvoorbeeld na die woorde van koning Dawid in Psalm 31:7. Dawid het gedurende sy lewe baie lyding verduur, maar let op wat hy in gebed vir God kon sê. Sal jy asseblief hierdie vers lees?

Susan: Sekerlik. Dit sê: “Ek sal bly wees en my in u liefderyke goedhartigheid verbly, omdat u my ellende gesien het; u het geweet van die benoudhede van my siel.”

Michelle: Al het Dawid lyding verduur, is hy vertroos deur die wete dat Jehovah alles gesien het wat hy deurgemaak het. Is dit vir jou vertroostenddie gedagte dat Jehovah van alles bewus is, selfs van ons pynlike emosies wat ander mense dalk nie ten volle verstaan nie?

Susan: Ja, dit is.

Michelle: Die tweede pragtige waarheid is dat God nie sal toelaat dat ons lyding vir ewig voortduur nie. Die Bybel leer dat hy binnekort ’n einde sal maak aan Satan se goddelose heerskappy. En hy sal al die slegte dinge wat al gebeur het, insluitende die lyding wat jy en jou ma verduur, heeltemal ongedaan maak. Kan ek volgende week terugkom en vir jou wys waarom ons seker kan wees dat God binnekort alle lyding sal beëindig? *

Susan: Dit klink goed.

Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Wil jy meer weet van enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies? Moet dan nie huiwer om een van Jehovah se Getuies daaroor te vra nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.