Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WIL JY GRAAG DIE BYBEL STUDEER?

’n Bybelstudieprogram vir almal

’n Bybelstudieprogram vir almal

Jehovah se Getuies is welbekend vir hulle openbare predikingswerk. Maar het jy geweet dat ons ook wêreldwyd ’n Bybelstudieprogram aanbied?

In 2014 het meer as 8 000 000 Getuies in 240 lande elke maand byna 9 500 000 Bybelstudies gehou. * Trouens, meer mense studeer die Bybel saam met ons as die afsonderlike bevolkings van ongeveer 140 lande!

Om hierdie onderrigtingswerk te doen, publiseer Jehovah se Getuies elke jaar byna een en ’n half miljard Bybels, boeke, tydskrifte en ander Bybelstudiehulpe in sowat 700 tale—’n ongeëwenaarde prestasie! Dit maak dit vir mense moontlik om die Bybel in die taal van hulle keuse te studeer.

ANTWOORDE OP ALGEMENE VRAE OOR ONS BYBELSTUDIEPROGRAM

Hoe is die studiekursus saamgestel?

Ons neem verskeie Bybelonderwerpe en ondersoek dan Bybelverse wat met hierdie onderwerpe verband hou. Die Bybel beantwoord byvoorbeeld vrae soos die volgende: Wie is God? Watter soort persoon is hy? Het hy ’n naam? Waar woon hy? Kan ons nader aan hom kom? Die uitdaging is om te weet waar om die antwoorde in die Bybel te vind.

Ons gebruik gewoonlik die boek Wat leer die Bybel werklik?, met 224 bladsye, om mense te help om antwoorde te vind. * Hierdie boek is spesiaal saamgestel om mense te help om die basiese leringe van die Bybel te verstaan. Dit sluit lesse in oor God, Jesus Christus, menselyding, die opstanding, gebed en baie ander onderwerpe.

Waar en wanneer kan die studie gehou word?

Die studie kan gehou word op ’n tyd en plek wat jou pas.

Hoe lank is ’n studiesessie?

Baie mense sit elke week ’n uur of wat opsy om die Bybel te studeer. Maar jy kan besluit hoe lank die studiesessie moet wees. Ons sal ons by jou rooster aanpas. Party mense studeer net 10 of 15 minute elke week.

Hoeveel kos die kursus?

Die kursus en die studiemateriaal is gratis. Dit stem ooreen met die riglyne wat Jesus sy dissipels gegee het: “Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee.”—Matteus 10:8.

Hoe lank is die kursus?

Die lengte van die kursus hang van jou af. Die boek Wat leer die Bybel werklik? bevat 19 lesse. Jy kan enige of al die lesse deurgaan teen ’n tempo wat jou pas.

Moet ek een van Jehovah se Getuies word?

Nee. Ons erken respekvol dat elke persoon die reg het om te kies wat hy of sy wil glo. Maar mense wat ’n basiese kennis van die Bybel opdoen, kan ’n ingeligte besluit neem.

Waar kan ek meer inligting kry?

Die webwerf jw.org voorsien akkurate inligting oor die opvattings en bedrywighede van Jehovah se Getuies.

Hoe kan ek ’n Bybelstudie aanvra?

  • Vra ’n Bybelstudie aanlyn by www.ps8318.com/af aan.

  •  
  • Kom in aanraking met Jehovah se Getuies in jou gebied deur in die telefoonboek onder “Jehovah se Getuies” te kyk.

^ par. 4 Bybelstudies word gewoonlik met individue of klein groepies mense gehou.

^ par. 9 Uitgegee deur Jehovah se Getuies. Meer as 230 miljoen eksemplare van hierdie boek is al in meer as 260 tale gedruk.