Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Romeine 12:2 – “Verander deur julle denke te vernuwe”

Romeine 12:2 – “Verander deur julle denke te vernuwe”

 “Moenie langer toelaat dat hierdie wêreld julle vorm nie, maar verander julle denkwyse sodat julle aan julleself kan bewys wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.” – Romeine 12:2, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.” – Romeine 12:2, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling (1983).

Betekenis van Romeine 12:2

 Mense wat God gelukkig wil maak, moenie net stry teen dinge wat ’n negatiewe uitwerking op hulle kan hê nie, maar hulle moet ook hulle persoonlikheid verander. God dwing niemand om te verander nie. Mense verander omdat hulle lief is vir God en besef dat sy vereistes liefdevol en redelik is en hulle bevoordeel. – Jesaja 48:17.

 “Moenie langer toelaat dat hierdie wêreld julle vorm nie.” Die “wêreld” se standaarde, gebruike en maniere weerspieël nie God se waardes of denke nie (1 Johannes 2:15-17). Dit sit konstante druk op mense, wat hulle gedrag en persoonlikheid kan vorm. Om God op ’n aanvaarbare manier te aanbid, moet ’n persoon die wêreld se invloed weerstaan. Anders sal hy eienskappe ontwikkel wat sleg is en wat God nie goedkeur nie. – Efesiërs 2:1-3; 4:17-19.

 “Verander julle denkwyse.” ’n Persoon moet ook sy bes doen om sy diepste gevoelens en gesindheid te verander. Maar hoe groot moet hierdie verandering wees? Die Griekse woord wat met “verander” vertaal word, beskryf ’n verandering wat soortgelyk is aan dié van ’n ruspe wat in ’n vlinder verander. Aanbidders van God moet ’n “nuwe persoonlikheid” aantrek. – Efesiërs 4:23, 24; Kolossense 3:9, 10.

 “Sodat julle aan julleself kan bewys wat die goeie en aanvaarbare en volmaakte wil van God is.” God wil hê dat sy aanbidders heeltemal oortuig moet wees van wat hulle glo. Hulle doen dit deur God se Woord te studeer en toe te pas wat hulle leer. Hulle ondervind ook die voordele daarvan om volgens God se standaarde te lewe. Op hierdie manier bewys hulle aan hulleself dat God se standaarde die beste is. – Psalm 34:8.

Konteks van Romeine 12:2

 Romeine hoofstuk 12 verduidelik wat daarby betrokke is om God op ’n aanvaarbare manier te aanbid. Sulke aanbidding raak jou hele lewe. Dit beteken dat ’n mens jou “denkvermoë” gebruik eerder as om volgens blinde geloof of misplaaste emosies op te tree (Romeine 12:1, 3). Die hoofstuk bevat praktiese raad oor hoe om eienskappe te ontwikkel wat God gelukkig maak, hoe om ander te behandel en hoe om te reageer as jy sleg behandel word. – Romeine 12:9-21.