Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

’n Beter siening van irriterende gewoontes

’n Beter siening van irriterende gewoontes
  •   Jy hou daarvan om spontaan te wees; jou maat kan niks doen sonder dat dit beplan is nie.

  •   Jy is stil en teruggetrokke; jou maat is ’n ekstrovert en is die hart en siel van ’n partytjie.

 Het jou maat ’n eienskap wat jou irriteer? As jy heeltyd daarop fokus, kan dit sleg wees vir julle huwelik. Die Bybel sê juis: “Die een wat oor ’n oortreding bly praat, dryf goeie vriende uitmekaar.” – Spreuke 17:9.

 Pleks van toe te laat dat ’n irriterende eienskap stryery tussen jou en jou maat veroorsaak, kan jy dalk leer om daardie eienskap in ’n beter lig te sien.

In hierdie artikel

 ’n Beter siening van gewoontes wat jou irriteer

 Die gewoonte in jou maat wat jou irriteer, kan verband hou met ’n eienskap waarvan jy hou. Kom ons kyk na drie voorbeelde:

 “Dit vat my man dikwels lank om dinge gedoen te kry of om homself gereed te kry wanneer ons uitgaan. Maar daardie einste gewoonte maak hom geduldig – selfs met my. Die feit dat hy so stadig is, irriteer my soms, maar dit is ook een van die redes hoekom ek vir hom lief is.” – Chelsea.

 “My vrou is presies met hoe sy dinge beplan; sy moet voel dat sy alles onder beheer het, en dit kan irriterend wees. Maar haar aandag aan detail beteken dat sy nooit onvoorbereid is nie.” – Christopher.

 “Dit lyk soms of my man in niks belangstel nie, en dit is frustrerend. Terselfdertyd is die ontspanne manier waarop hy dinge aanpak een van die eienskappe wat my in die eerste plek na hom toe aangetrek het. Ek bewonder die feit dat hy kalm kan bly in stresvolle situasies.” – Danielle

 Soos Chelsea, Christopher en Danielle uitgevind het, is ’n maat se sterk punte en swak punte dikwels verskillende fasette van dieselfde eienskap. As dit die geval is, kan jy nie van die swak punt ontslae raak sonder om ook die sterk punt uit te skakel nie, net soos jy nie net van die een kant van ’n muntstuk ontslae kan raak nie.

 Daar is natuurlik party gewoontes wat nie ’n positiewe faset het nie. Die Bybel erken byvoorbeeld dat party mense “gou kwaad word” (Spreuke 29:22). In daardie geval moet ’n persoon hard daaraan werk om nie “enige soort wrok [te] koester nie, en . . . alle woede, geskree en beledigende taal” te laat vaar. aEfesiërs 4:31.

 Maar as ’n gewoonte sommer net irriterend is, moet ons die Bybel se raad volg: “Hou aan om mekaar te verdra . . . selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla.” – Kolossense 3:13.

 Verder moet ons ook soek na die positiewe faset van die eienskap – iets wat jou dalk in die eerste plek na jou huweliksmaat toe aangetrek het. ’n Man met die naam Joseph sê: “As ’n mens op ’n irriterende gewoonte fokus, is dit soos om op die skerp rand van ’n diamant te fokus sonder om te sien hoe dit blink.”

 Punte om te bespreek

 Julle kan eers die volgende vrae op julle eie oordink. Dan kan julle die antwoorde met mekaar bespreek.

  •   Het jou maat ’n eienskap wat volgens jou konflik in julle huwelik veroorsaak? Indien wel, wat is dit?

  •   Is die eienskap ’n ernstige swakheid, of is dit net iets irriterend?

  •   Het die eienskap ook ’n positiewe kant? Indien wel, wat is dit, en hoekom waardeer jy daardie aspek van jou maat se persoonlikheid?