Spring na inhoud

Het God evolusie gebruik om verskillende lewende dinge te skep?

Het God evolusie gebruik om verskillende lewende dinge te skep?

Die Bybel se antwoord

 Nee. Die Bybel sê duidelik dat God mense sowel as verskillende “soorte” diere en plante geskep het (Genesis 1:12, 21, 25, 27; Openbaring 4:11). a Dit sê dat alle mense van Adam en Eva, ons eerste ouers, afkom (Genesis 3:20; 4:1). Die Bybel ondersteun nie die teorie dat God evolusie gebruik het om verskillende soorte lewende dinge te skep nie. Hierdie teorie word soms teïstiese evolusie genoem. Wetenskaplikes het gesien dat daar verskeidenheid binne elke soort lewensvorm is, en niks in die Bybel weerspreek dit nie. b

 Het God evolusie gebruik?

 Mense wat glo dat God evolusie gebruik het om lewe te skep, het verskillende idees oor hoe hy dit gedoen het. Volgens die Encyclopædia Britannica glo party mense dat “natuurlike seleksie een van die maniere is wat God gebruik om die sigbare wêreld te beheer”.

 Teïstiese evolusie sluit die volgende idees in:

  •   Alle lewende organismes kom van gemeenskaplike voorouers af wat lank gelede gelewe het.

  •   Een soort lewensvorm kan in ’n heeltemal ander lewensvorm evolueer. Dit word makro-evolusie genoem.

  •   God is op die een of ander manier heeltemal verantwoordelik vir hierdie prosesse.

 Stem evolusie ooreen met die Bybel?

 Teïstiese evolusie impliseer dat die Bybel se verslag van die skepping in Genesis nie heeltemal akkuraat is nie. Maar Jesus het na die verslag in Genesis as ’n geskiedkundige feit verwys (Genesis 1:26, 27; 2:18-24; Matteus 19:4-6). Die Bybel sê dat Jesus in die hemel saam met God gewoon het voordat hy aarde toe gekom het. Hy het God gehelp om “alles” te skep (Johannes 1:3). Daarom stem die idee dat God evolusie gebruik het om verskillende lewensvorme te skep, nie ooreen met wat die Bybel sê nie.

 Wat van die feit dat plante en diere kan verander om by hulle omgewing aan te pas?

 Die Bybel verduidelik nie hoeveel verskeidenheid daar binne ’n soort kan wees nie. Maar dit stry nie met die feit dat die verskillende soorte diere en plante wat deur God geskep is, kan verander terwyl hulle aanteel of aanpas by ’n nuwe omgewing nie. Al word sulke veranderinge deur party as evolusie beskou, ontstaan daar nie ’n nuwe soort lewensvorm nie.

a Die Bybel gebruik die woord “soort” wat ’n breër betekenis het as die woord “spesie”, soos wetenskaplikes dit gebruik. Soms sê wetenskaplikes dat ’n nuwe spesie geëvolueer het, maar in werklikheid het dit nie geëvolueer nie. Dit is net verskeidenheid in elke soort lewensvorm, soos die woord in die Genesisverslag gebruik word.

b Dit word soms mikro-evolusie genoem.