Spring na inhoud

Wat is die wilde dier met sewe koppe van Openbaring hoofstuk 13?

Wat is die wilde dier met sewe koppe van Openbaring hoofstuk 13?

Die Bybel se antwoord

 Die wilde dier met sewe koppe wat in Openbaring 13:1 gemeld word, stel die wêreldwye politieke stelsel voor.

  •   Dit het gesag, krag en ’n troon, wat toon dat dit ’n politieke entiteit is.—Openbaring 13:2.

  •   Dit regeer oor “elke stam en volk en taal en nasie”; dit is dus groter as een nasionale regering.—Openbaring 13:7.

  •   Dit kombineer kenmerke van die vier diere wat in die profesie in Daniël 7:2-8 beskryf word, insluitende die voorkoms van ’n luiperd, die pote van ’n beer, ’n leeu se bek en tien horings. Die diere in Daniël se profesie word geïdentifiseer as spesifieke konings, of politieke koninkryke, wat ná mekaar oor ryke regeer (Daniël 7:17, 23). Die wilde dier van Openbaring hoofstuk 13 stel dus ’n saamgestelde politieke organisasie voor.

  •   Dit kom “uit die see” op, dit wil sê uit die onstuimige mensemassa wat die bron van menseregerings is.—Openbaring 13:1; Jesaja 17:12, 13.

  •   Die Bybel sê dat die getal, of naam, van die dier—666—“’n mens se getal” is (Openbaring 13:17, 18). Hierdie uitdrukking gee te kenne dat die dier van Openbaring hoofstuk 13 ’n menslike entiteit is, nie ’n geestelike of demoniese entiteit nie.

 Hoewel nasies miskien oor min dinge saamstem, is hulle verenig in hulle vasbeslotenheid om hulle gesag te behou eerder as om hulle aan die heerskappy van God se Koninkryk te onderwerp (Psalm 2:2). Hulle sal ook saamspan om by Armageddon teen God se leërs onder aanvoering van Jesus Christus te veg, maar hierdie oorlog sal die vernietiging van die nasies beteken.—Openbaring 16:14, 16; 19:19, 20.

“Tien horings en sewe koppe”

 Sekere getalle word in die Bybel simbolies gebruik. Byvoorbeeld, tien en sewe stel volkomenheid voor. Die sleutel om die spesifieke betekenis van die “tien horings en sewe koppe” van die dier van Openbaring hoofstuk 13 te verstaan, is ’n “beeld van die wilde dier” wat later in Openbaring geïdentifiseer word—’n helderrooi dier met sewe koppe en tien horings (Openbaring 13:​1, 14, 15; 17:3). Die Bybel sê dat die sewe koppe van hierdie rooi dier “sewe konings”, of regerings, beteken.—Openbaring 17:9, 10.

 Die sewe koppe van die dier van Openbaring 13:1 stel ook sewe regerings voor: die vernaamste moondhede wat ’n oorheersende rol in die geskiedenis gespeel het en die leiding geneem het in die verdrukking van God se volk—Egipte, Assirië, Babilon, Medo-Persië, Griekeland, Rome en Anglo-Amerika. As ons tot die gevolgtrekking kom dat die tien horings al die soewereine state, klein en groot, voorstel, dan toon die kroon op elke horing dat elke nasie terselfdertyd as die vernaamste moondheid van die dag regeer.