Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor tiendes?

Wat sê die Bybel oor tiendes?

Die Bybel se antwoord

 Die eertydse Israeliete is beveel om ’n tiende a te gee van hulle jaarlikse inkomste as deel van hulle bydrae om ware aanbidding te ondersteun. God het vir hulle gesê: “Jy moet vir seker ’n tiende gee van alles wat jou saad jaar ná jaar op die landerye voortbring.” – Deuteronomium 14:22.

 Die bevel om ’n tiende te gee is, is deel van die Wet van Moses. Dit is die Wet wat God aan eertydse Israel gegee het. Christene is nie meer onder die Wet van Moses nie, en daarom is dit nie vir hulle nodig om ’n tiende te gee nie (Kolossense 2:13, 14). Elke Christen moet eerder ’n geldelike bydrae gee “net soos hy in sy hart besluit het, nie teësinnig of omdat hy gedwing word nie, want God is lief vir iemand wat met vreugde gee”. – 2 Korintiërs 9:7.

 Tiendes in die Bybel – Die “Ou Testament”

 Tiendes word ’n paar keer genoem in die deel van die Bybel wat oor die algemeen bekend staan as die Ou Testament. Die meeste gevalle het te doen met ’n tydperk nadat die Wet van Moses aan Israel gegee is. Maar ’n paar gevalle het te doen met ’n tydperk voordat die Wet van Moses gegee is.

Voor die Wet van Moses

 Die eerste persoon wat ’n tiende gegee het waarvan ons in die Bybel lees, is Abram (Abraham) (Genesis 14:18-20; Hebreërs 7:4). Dit lyk asof die tiende wat Abram aan die koning-priester van Salem gegee het, net eenkeer gebeur het. Daar is geen bewyse in die Bybel dat Abraham of sy kinders weer tiendes gegee het nie.

 Die tweede persoon wat in die Bybel genoem word wat ’n tiende gegee het, was Abraham se kleinseun Jakob. Hy het belowe dat as God hom seën, sal hy vir God “’n tiende gee van alles” wat hy ontvang (Genesis 28:20-22). Volgens party Bybelgeleerdes het Jakob moontlik hierdie tiende in die vorm van diereofferandes betaal. Hoewel Jakob sy belofte gehou het en hierdie tiende gegee het, het hy nooit sy familie gedwing om tiendes te gee nie.

Onder die Wet van Moses

 Die eertydse Israeliete is beveel om ’n tiende te gee as ’n manier om hulle godsdiensbedrywigheid te ondersteun.

  •   Die tiendes het voorsien in die behoeftes van voltydse godsdienswerkers. Dit het die Leviete en die priesters ingesluit wat nie hulle eie land kon bewerk nie (Numeri 18:26-29). Die Leviete wat nie priesters was nie, het tiendes van die mense ontvang. Hulle moes weer “’n tiende van daardie tiendes” vir die priesters gee, en dit moes die beste deel daarvan wees. – Numeri 18:26-29.

  •   Dit lyk asof nog ’n bykomende tiende elke jaar gegee moes word. Dit het die Leviete sowel as die mense wat nie Leviete is nie, bevoordeel (Deuteronomium 14:22, 23). Israelitiese gesinne het hierdie tiendes gebruik wanneer hulle vir spesiale feeste bymekaargekom het. Sekere jare is dit gedeel met mense wat baie arm is om hulle te help sodat hulle genoeg kos kon hê. – Deuteronomium 14:28, 29; 26:12.

 Hoe is die tiende uitgewerk? Israeliete het ’n tiende opsygesit van die jaarlikse opbrengs van hulle land (Levitikus 27:30). As hulle gekies het om die tiende in geld te betaal eerder as die opbrengs van hulle land, moes hulle ’n ekstra 20 persent betaal (Levitikus 27:31). Hulle is ook beveel om “die tiendes van die beeste en kleinvee” te gee, wat blykbaar verwys het na ’n tiende van die toename in die beeste en die kleinvee. – Levitikus 27:32.

 Om vas te stel wat die tiende van hulle vee is, het die Israeliete elke tiende dier wat uit die kraal uitgekom het, gekies. Die Wet het gesê dat hulle nie die diere wat hulle gekies het, kon ondersoek of omruil nie. Hulle kon ook nie die waarde van hulle vee in geld omskakel nie (Levitikus 27:32, 33). Maar die bykomende tiende wat vir die jaarlikse feeste gebruik was, kon in geld omgeskakel word. Hierdie voorsiening het dit makliker gemaak vir die Israeliete wat ver moes reis om die feeste by te woon. – Deuteronomium 14:25, 26.

 Wanneer het die Israeliete ’n tiende gegee? Die Israeliete het elke jaar ’n tiende gegee (Deuteronomium 14:22). Maar elke sewende jaar was ’n uitsondering. Dit was ’n sabbatsjaar, of ’n jaar van rus, wanneer die Israeliete nie die land bewerk het nie (Levitikus 25:4, 5). Om te erken dat dit spesiale omstandighede was, is geen tiendes ingesamel tydens oestyd nie. Elke derde en sesde jaar van die Sabbat-siklus van sewe jaar, het die Israeliete die bykomende tiende met die arm mense en die Leviete gedeel. – Deuteronomium 14:28, 29.

 Wat was die straf as iemand nie ’n tiende gegee het nie? Die Wet van Moses het nie gesê dat daar ’n straf sou wees as jy nie ’n tiende gee nie. Hulle het ’n tiende gegee omdat hulle geweet het dat dit die regte ding is om te doen, nie omdat hulle gestraf sou word as hulle dit nie doen nie. Die Israeliete moes vir God sê dat hulle die tiende gegee het en vir God vra om dit te seën (Deuteronomium 26:12-15). God het dit as diefstal beskou as hulle dit nie vir hom gegee het nie. – Maleagi 3:8, 9.

 Was dit ’n swaar las om ’n tiende te gee? Nee. God het die nasie belowe dat as hulle die tiendes ingesamel het, hy ’n seën op hulle sou uitstort en dat hulle niks sou kortkom nie (Maleagi 3:10). Maar die nasie het swaargekry as hulle nie die tiendes ingesamel het nie. Hulle het God se seën verloor. Die priesters en Leviete moes ook gaan werk om vir hulleself te sorg. So hulle kon dan nie daarop fokus om die Israeliete te help om God te aanbid nie. – Nehemia 13:10; Maleagi 3:7.

 Tiendes in die Bybel – Die “Nuwe Testament”

 Gedurende Jesus se lewe as mens was tiendes nog steeds ’n vereiste vir God se aanbidders. Maar dit was nie meer ’n vereiste nadat Jesus gesterf het nie.

In Jesus se tyd

 In wat oor die algemeen bekend staan as die Nuwe Testament, wys die Bybel dat die Israeliete aangehou het om tiendes te gee terwyl Jesus op die aarde was. Hy het erken dat om tiendes te gee, ’n vereiste vir hulle was. Maar hy het die godsdiensleiers veroordeel wat tot op die sent die tiendes gegee het, maar wat “die belangriker sake van die Wet geïgnoreer [het], naamlik geregtigheid, genade en getrouheid”. – Matteus 23:23.

Ná Jesus se dood

 Dit was nie meer nodig om tiendes te gee nadat Jesus gesterf het nie. Jesus se offerdood het die Wet van Moses ongeldig gemaak, insluitende om die ‘tiendes van die volk in te samel’. – Hebreërs 7:5, 18; Efesiërs 2:13-15; Kolossense 2:13, 14.

a Die tiende wat hier genoem word, “verwys na ’n tiende deel van ’n persoon se inkomste wat eenkant gesit word vir ’n spesifieke doel. . . . Gewoonlik is die tiende wat in die Bybel genoem word vir godsdiens doeleindes.” – Harper’s Bible Dictionary, bladsy 765.