Spring na inhoud

Verander God van gedagte?

Verander God van gedagte?

Die Bybel se antwoord

 Ja, in die sin dat hy sy gesindheid verander wanneer mense hulle gedrag verander. Toe God byvoorbeeld ’n oordeelsboodskap aan die eertydse Israeliete gestuur het, het hy gesê: “Miskien sal hulle luister en terugkeer, elkeen van sy slegte weg, en ek sal moet spyt voel oor die rampspoed wat ek dink om oor hulle te bring weens die slegtheid van hulle handelinge.”—Jeremia 26:3.

 Baie ander Bybelvertalings sê in hierdie vers dat God “berou” sou hê oor die voorspelde rampspoed. Maar “spyt voel” en “berou hê” kan dit laat klink asof God ’n fout begaan het. Die oorspronklike Hebreeuse woord kan egter beteken “om van gedagte of voorneme te verander”. Een geleerde het geskryf: “’n Verandering in ’n persoon se gedrag bring ’n verandering in God se oordeel mee.”

 Maar net omdat God van gedagte kan verander, beteken nie dat hy dit moet doen nie. Kyk na ’n paar gevalle in die Bybel waar God nie van gedagte verander het nie:

  •   God het nie toegelaat dat Balak Hom van gedagte laat verander sodat Hy die nasie van Israel sou vervloek nie.—Numeri 23:18-20.

  •   Toe koning Saul van Israel in sy slegte weg verstok geraak het, het God nie van gedagte verander nie, maar by sy besluit gebly om hom as koning te verwerp.—1 Samuel 15:28, 29.

  •   God sal sy belofte vervul om sy Seun ’n ewige priester te maak. God sal nie van gedagte verander nie.—Psalm 110:4.

Sê die Bybel nie dat God nooit verander nie?

 Ja, in die Bybel sê God: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Die Bybel sê ook van God: “By hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie” (Jakobus 1:17). Maar dit bots nie met wat die Bybel sê oor God wat van gedagte verander nie. God is onveranderlik in die sin dat sy persoonlikheid en standaarde van liefde en geregtigheid altyd dieselfde bly (Deuteronomium 32:4; 1 Johannes 4:8). Maar hy kan mense verskillende instruksies op verskillende tye gee. God het koning Dawid byvoorbeeld verskillende instruksies vir twee opeenvolgende gevegte gegee, en tog het albei metodes sukses behaal.—2 Samuel 5:18-25.

Is God spyt dat hy die mens geskep het?

 Nee, maar hy is wel spyt dat die meeste mense hom ignoreer of verwerp. In ’n beskrywing van toestande voor die wêreldwye Vloed van Noag se dag sê die Bybel: “Jehovah het spyt gevoel dat hy mense op die aarde gemaak het, en hy het gekrenk gevoel in sy hart” (Genesis 6:6). In hierdie vers kom die uitdrukking “spyt gevoel” van die Hebreeuse woord wat “van gedagte verander” kan beteken. God het van gedagte verander met betrekking tot die meeste mense wat voor die Vloed gelewe het omdat hulle goddeloos geword het (Genesis 6:5, 11). Hoewel hy jammer was dat hulle ’n slegte weg gekies het, het hy nie sy gesindheid teenoor die hele mensdom verander nie. Trouens, hy het die mensdom deur die Vloed heen bewaar deur middel van Noag en sy gesin.—Genesis 8:21; 2 Petrus 2:5, 9.