Spring na inhoud

Uitdrukkings wat deur Jehovah se Getuies gebruik word

Uitdrukkings wat deur Jehovah se Getuies gebruik word

Dankie vir jou belangstelling om verslag te lewer oor die bedrywighede van Jehovah se Getuies. Die volgende uitdrukkings sal jou help met die spelling en gebruik van terme wat met ons godsdiensorganisasie geassosieer word. As jy enige vrae het oor ’n onderwerp wat nie in hierdie lys genoem word nie, kontak asseblief die takkantoor van Jehovah se Getuies.

bedieningskneg. ’n Geestelik volwasse man wat ’n Getuie is en wat aangestel is om ouermanne te help om na die gemeente om te sien. Om as ’n bedieningskneg te dien, moet hy aanhou om te voldoen aan die kwalifikasies soos dit in die Bybel genoem word in 1 Timoteus 3:8-10, 12, 13 en Titus 2:6-8. Bedieningsknegte sien om na belangrike organisatoriese dinge en speel ’n ondersteunende rol in die gemeente. ’n Bedieningskneg word nie betaal vir sy dienste nie en is ook nie ’n werknemer van sy gemeente of enige regsentiteite wat met Jehovah se Getuies geassosieer word nie. Die meeste bedieningsknegte werk sekulêr om vir hulleself en hulle gesin te sorg. Party bedieningsknegte kan mettertyd kwalifiseer om as ouermanne te dien. Die uitdrukking word nie as ’n eretitel gebruik nie.

Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies. ’n Klein groepie ouermanne wat aangestel is om na die geestelike behoeftes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld om te sien. Dikwels verkort na “Bestuursliggaam”. Hulle is direk betrokke by die voorbereiding van Bybelpublikasies. Al vat die Bestuursliggaam die leiding om die Getuies se internasionale bedrywighede te organiseer, beskou hulle Jesus Christus as die Leier van Jehovah se Getuies. Die kantoor van die Bestuursliggaam is by die Wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Warwick, New York, VSA.

Bethel, Betheliet, Bethelgesin. “Bethel” is ’n Hebreeuse term wat “Huis van God” beteken. Dit is die naam van die fasiliteite wat deur Jehovah se Getuies gebruik word om hulle geestelike bedrywighede wat op die Bybel gebaseer is, in elke land of streek te organiseer en te ondersteun. Getuies wat by hierdie fasiliteite dien, behoort aan ’n godsdiensorde en word “Betheliete” genoem. Hulle kry nie ’n salaris nie. As ’n groep word hulle die “Bethelgesin” genoem, want soos ’n gesin bly hulle saam, aanbid hulle saam en werk hulle saam by hierdie fasiliteite. Die uitdrukking “Betheliet” word nie as ’n eretitel gebruik nie.

broederskap. Die wêreldwye assosiasie van Jehovah se Getuies (beide mans en vrouens). – 1 Petrus 5:9.

broer. ’n Man wat gedoop is as een van Jehovah se Getuies. Dit word altyd met ’n kleinletter geskryf (bv. broer Smith). Dit word nie as ’n eretitel gebruik nie. Dit word op dieselfde manier gebruik vir ’n vrou wat ’n Getuie is (bv. suster Smith).

byeenkoms. Sien inskrywing:  kringbyeenkoms,  internasionale byeenkoms en  streekbyeenkoms.

Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies. ’n Groot plek van aanbidding wat deur Jehovah se Getuies besit word waar verskillende gemeentes in ’n spesifieke gebied vir groter vergaderinge bymekaarkom. Jy kan daarna verwys as ’n “Byeenkomssaal”.

Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling. Die volle titel van die Hebreeuse Geskrifte (“Ou Testament”) en die Griekse Geskrifte (“Nuwe Testament”) wat deur Jehovah se Getuies vertaal en uitgegee word. Dit kan ook die Nuwe Wêreld-vertaling genoem word.

Die Wagtoring—Kondig Jehovah se Koninkryk aan. Die volle titel van die vernaamste tydskrif wat uitgegee en versprei word deur Jehovah se Getuies. Dit word ook Die Wagtoring genoem. Die naam kom van die idee dat die tydskrif lesers se aandag help vestig op die feit dat God se wil vervul word (Matteus 24:42). Die publieke uitgawe van Die Wagtoring word gratis aangebied aan mense wat belangstel. ’n Studie-uitgawe van Die Wagtoring word elke week gebruik vir ’n vraag-en-antwoord-bespreking by gemeentes regoor die wêreld. Die Wagtoring word sedert 1879 uitgegee en het die grootste maandelikse verspreiding van enige tydskrif in die wêreld.

gemeente. ’n Georganiseerde groep Getuies wat gereeld bymekaarkom om te aanbid. ’n Liggaam van ouermanne is aangestel om die verantwoordelikheid te deel om verskillende programme van Bybelonderrigting te hou en om geestelike leiding aan die gemeente as ’n groep en aan individue te gee. Gemeentelike vergaderinge is oop vir die publiek. Dit is gratis, en geen kollektes word geneem nie.

Gilead, Gileadskool. Verkorte vorm vir die Wagtoring-Bybelskool Gilead, wat in 1943 begin is met die aanvanklike doel om sendelinge op te lei. Dit is vandag ’n vyf maande lange gespesialiseerde Bybelstudiekursus vir Jehovah se Getuies wat genooi is om dit by te woon. Die woord “skool” word met kleinletters geskryf as dit op sy eie gebruik word.

Herdenking van Christus se dood. Die jaarlikse herdenking van Jesus Christus se dood. Dit word ook die Here se Aandmaal, die nagmaal van die Here, die Laaste Avondmaal, die Gedenkmaal of die Herdenking van Jesus se dood genoem. Dit word deur Jehovah se Getuies as die belangrikste geleentheid van die jaar beskou en as die enigste godsdiensseremonie wat Christus sy volgelinge spesifiek beveel het om te onderhou. – Lukas 22:19, 20.

 internasionale byeenkoms. ’n Drie dae lange vergadering vir aanbidding en Bybelonderrigting wat elke paar jaar deur Jehovah se Getuies gereël word in verskillende plekke regoor die wêreld. Getuies van verskillende lande word genooi om dit by te woon. Hierdie streekbyeenkomste is oop vir die publiek met die doel om hulle te help om nader aan God te kom en om die wêreldwye eenheid van Jehovah se Getuies te versterk. Internasionale byeenkomste word gewoonlik van Vrydag tot Sondag in gehuurde fasiliteite gehou. Hierdie geleenthede is gratis, en geen kollektes word geneem nie.

Jehovah. Die persoonlike naam van die almagtige God en Skepper soos hy in die Bybel geopenbaar word (Psalm 83:18). Die naam “Jehovah” moet nie gebruik word om na een van Jehovah se Getuies te verwys nie (bv. “’n Jehovah”).

 Jehovah se Getuies. Mense van ’n Christelike godsdiensgroep wat Jehovah God aanbid en hulle tyd gebruik om Bybelonderrigting op verskillende maniere te ondersteun. Die doel van hulle Bybelonderrigtingswerk is om die goeie nuus van God se Koninkryk, of regering, met ander te deel (Matteus 24:14). Die naam onderskei hulle van ander godsdienste en verwys nie net na die Persoon wat hulle verteenwoordig nie, maar ook na die godsdienstige werk wat hulle vrywilliglik in God se naam doen. ’n Persoon word slegs as een van Jehovah se Getuies beskou wanneer hy ’n redelike begrip het van basiese Bybelleringe, kwalifiseer om aan die openbare bediening deel te neem saam met ’n gemeente van Jehovah se Getuies en gedoop is as ’n simbool van sy persoonlike toewyding aan Jehovah God. Die eerste verwysing in ’n artikel moet die amptelike volle naam, “Jehovah se Getuies”, wees. ’n Aanvaarbare alternatief is “die Getuies”. Wanneer daar na ’n individu verwys word, gebruik “’n Getuie” of “een van Jehovah se Getuies”. Dit sal verkeerd wees om “Jehovah se Getuies” sonder “een van” of om “Jehovah Getuie” te gebruik. – Jesaja 43:10.

Jesus Christus. Die eniggebore Seun van God (Johannes 3:16). Jehovah se Getuies beskou Jesus Christus as hulle Leier en probeer sy voorbeeld en leringe navolg. Die Getuies beskou hom as die grootste mens wat nog gelewe het, die belangrikste Getuie van Jehovah en die een wat Jehovah God gaan gebruik om die mensdom te red. – Jesaja 9:6, 7; Openbaring 1:5.

Koninkryksaal van Jehovah se Getuies. ’n Plaaslike plek van aanbidding wat deur een of meer gemeentes gebruik word. Word dikwels ’n “Koninkryksaal” genoem. Vermy asseblief die gebruik van die uitdrukking “kerk”.

kring. ’n Groep gemeentes van Jehovah se Getuies in ’n spesifieke gebied.

 kringbyeenkoms. ’n Vergadering van ’n hele paar gemeentes van Jehovah se Getuies wat op een dag twee keer per jaar gehou word. Kringbyeenkomste is oop vir die publiek en is ontwerp om mense te help om nader aan God te kom. Die program sluit voorstelle in om mense van alle ouderdomme te help om baat te vind by die Bybel se raad. Demonstrasies van alledaagse situasies word ingesluit om te wys hoe ons Bybellesse in ons daaglikse lewe kan toepas. Dit word dikwels in Byeenkomssale van Jehovah se Getuies gehou. Dit kan ook in ’n gehuurde fasiliteit gehou word of aanlyn gekyk word. Gewoonlik word die byeenkomste oor naweke gehou. Alle sessies is gratis, en geen kollektes word geneem nie.

kringopsiener. ’n Ervare ouerman wat dien onder die leiding van die takkantoor wat (saam met sy vrou, as hy getroud is) gereeld die gemeentes in ’n kring besoek, gewoonlik twee keer ’n jaar. Saam met persoonlike aanmoediging wat hy aan diegene gee wat met die gemeente assosieer, voorsien hy ook aanmoediging en leiding aan die ouermanne en bedieningsknegte. Kringopsieners berei ’n spesifieke program van onderrigting vir elke gemeente voor. Die uitdrukking word nie as ’n eretitel gebruik nie.

Lewe en Bediening-vergadering. ’n Weeklikse vergadering wat gewoonlik op ’n weeksaand gehou word. Hierdie vergadering bestaan uit drie dele en word Ons Christelike Lewe en Bediening genoem. Die doel van hierdie vergadering is om Getuies te help om doeltreffender bedienaars van God te wees. Alle vergaderinge van Jehovah se Getuies, of dit nou in persoon bygewoon word of gestroom word, is gratis, en geen kollektes word geneem nie.

Ontwaak! ’n Tydskrif wat gedruk en versprei word deur Jehovah se Getuies. Dit is oorspronklik in 1919 uitgegee as The Golden Age. Die titel is in 1937 na Vertroosting verander. Vanaf die uitgawe van 22 Augustus 1946 is die titel na Ontwaak! verander. Die naam Ontwaak! is gekies om lesers bewus te maak van die belangrikheid van wêreldgebeure. Dit is een van die tydskrifte met die grootste verspreiding in die wêreld.

Openbare Vergadering. ’n Weeklikse gemeentelike vergadering wat gewoonlik oor die naweek gehou word. Dit sluit ’n 30 minuut lange Bybelbespreking vir die publiek in. Dit word gewoonlik gevolg deur die Wagtoring-studie, wat ’n uur lange vraag-en-antwoord-bespreking is oor ’n Bybelonderwerp deur middel van ’n artikel in die studie-uitgawe van Die Wagtoring. Alle vergaderinge van Jehovah se Getuies, of dit nou in persoon bygewoon word of gestroom word, is gratis, en geen kollektes word geneem nie.

ouerman. ’n Geestelik volwasse man wat ’n Getuie is en wat aangestel is om onderrigting te gee en om om te sien na die welstand van die broers en susters in die gemeente. ’n Ouerman moet aanhou om te voldoen aan die kwalifikasies soos dit in die Bybel genoem word in 1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9; Jakobus 3:17, 18 en 1 Petrus 5:2. Ouermanne is nie betaalde bedienaars nie en is ook nie werknemers van hulle gemeente of enige regsentiteite wat met Jehovah se Getuies geassosieer word nie. Die meeste ouermanne werk sekulêr om vir hulleself en hulle gesin te sorg. Die ouermanne is nie ’n geestelikeklas nie, en daar is nie enige onderskeid tussen hulle en die ander broers en susters in die gemeente nie. Die uitdrukking word nie as ’n titel of ’n eretitel gebruik nie.

pionier. Die naam word gebruik vir ’n gedoopte Getuie wat probeer om ’n spesifieke aantal ure in die openbare bediening te spandeer. Dit word dikwels gebruik as ’n afkorting vir “gewone pionier”, iemand wat 600 uur per jaar (50 uur per maand) in die bediening spandeer. Partykeer word dit ook gebruik as ’n afkorting vir “hulppionier”, iemand wat 15 of 30 uur ’n maand of ’n aantal opeenvolgende maande in die bediening spandeer. Pioniers word nie betaal vir hulle openbare bediening nie en is ook nie werknemers van hulle gemeente of enige regsentiteite wat met Jehovah se Getuies geassosieer word nie. Die meeste pioniers werk sekulêr om vir hulleself te sorg. Die uitdrukking word nie as ’n eretitel gebruik nie.

preek. Sien inskrywing:  velddiens.

sendeling. ’n Gedoopte Getuie wat deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies na verskillende dele regoor die wêreld gestuur word. Sendelinge is bereid om hulle huis te verlaat en om dalk na ’n ander land te trek om te help om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig. – Matteus 24:14.

 streekbyeenkoms. ’n Jaarlikse vergadering wat drie dae lank is waartydens baie gemeentes in ’n spesifieke streek bymekaarkom vir geestelike aanmoediging. Dit is oop vir die publiek. Die program, wat deur mense van alle ouderdomme bygewoon word, help hulle om baat te vind by die raad in die Bybel. Demonstrasies van alledaagse situasies en van Bybelverslae word ingesluit om te wys hoe ons Bybelbeginsels in ons daaglikse lewe kan toepas. Streekbyeenkomste word dikwels in groot gehuurde plekke gehou, soos arenas, stadions en konferensiesentrums. Kleiner streekbyeenkomste kan ook gehou word in Byeenkomssale van Jehovah se Getuies. Gewoonlik word sessies wat in persoon bygewoon kan word, van Vrydag tot Sondag gehou. In onlangse jare is opnames aanlyn beskikbaar gemaak. Soos alle vergaderinge van Jehovah se Getuies, is dit gratis, en geen kollektes word geneem nie.

suster. ’n Vrou wat gedoop is as een van Jehovah se Getuies. Dit word altyd met ’n kleinletter geskryf (bv. suster Smith). Dit word nie as ’n eretitel gebruik nie. Dit word op dieselfde manier gebruik vir ’n man wat ’n Getuie is (bv. broer Smith).

takkantoor. Die plaaslike administratiewe sentrum van ’n Takkomitee wat gebruik word om na die geestelike bedrywighede van Jehovah se Getuies in een of meer lande om te sien en te ondersteun. Dit word soms verkort na “tak”.

Takkomitee. Wanneer ’n takkantoor opgerig word, word ’n Takkomitee van drie of meer ouermanne aangestel om na die bedrywighede van die land of lande waarvoor hulle verantwoordelik is, om te sien.

 velddiens. Die Getuies se openbare bediening om Jesus se opdrag uit te voer om die “goeie nuus van die Koninkryk” met mense te deel “oor die hele bewoonde aarde . . . as ’n getuienis vir al die nasies”. – Matteus 24:14; 28:19.

verkondiger. Iemand wat aan die openbare bediening deelneem en wat deel is van ’n gemeente van Jehovah se Getuies. Kwalifikasies sluit in om die basiese Bybelleringe te verstaan en om daarin te glo asook om in ooreenstemming met God se beginsels te lewe. Verkondigers word nie betaal om aan die bediening deel te neem nie en is ook nie werknemers van hulle gemeente of enige regsentiteite wat met Jehovah se Getuies geassosieer word nie. Die uitdrukking word nie as ’n eretitel gebruik nie.

LET WEL: Wanneer jy verslag lewer oor Jehovah se Getuies, gebruik asseblief die volle naam in die eerste verwysing. Vir meer inligting, sien die inskrywing:  Jehovah se Getuies.