Spring na inhoud

Is Jehovah se Getuies Christene?

Is Jehovah se Getuies Christene?

 Ja. Ons is Christene weens die volgende redes:

  •   Ons probeer die leringe en gedrag van Jesus Christus noukeurig volg.—1 Petrus 2:21.

  •   Ons glo dat Jesus die sleutel tot redding is, dat daar “nie ’n ander naam onder die hemel [is] wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie”.—Handelinge 4:12.

  •   Wanneer mense Jehovah se Getuies word, word hulle in die naam van Jesus gedoop.—Matteus 28:18, 19.

  •   Ons bid in Jesus se naam.—Johannes 15:16.

  •   Ons glo dat Jesus die Hoof van elke man is, met ander woorde dat hy gesag gegee is oor elke man.—1 Korintiërs 11:3.

 Ons verskil egter in ’n aantal opsigte van ander godsdiensgroepe wat Christene genoem word. Byvoorbeeld, ons glo dat die Bybel leer dat Jesus die Seun van God is, nie deel van ’n Drie-eenheid nie (Markus 12:29). Ons glo nie dat die siel onsterflik is nie, dat daar enige skriftuurlike grondslag is om te sê dat God mense vir ewig in die hel pynig nie of dat diegene wat die leiding in godsdiensbedrywighede neem, titels behoort te hê wat hulle bo ander verhef nie.—Prediker 9:5; Esegiël 18:4; Matteus 23:8-10.