Spring na inhoud

Waarom bly Jehovah se Getuies polities neutraal?

Waarom bly Jehovah se Getuies polities neutraal?

 Jehovah se Getuies bly polities neutraal weens godsdiensredes, wat gegrond is op wat die Bybel leer. Ons werf nie stemme nie, stem nie vir politieke partye of kandidate nie, stel ons nie verkiesbaar nie en neem nie deel aan enige bewegings om die regering te verander nie. Ons glo dat die Bybel grondige redes hiervoor gee.

  •   Ons volg die voorbeeld van Jesus, wat geweier het om ’n politieke amp te beklee (Johannes 6:15). Hy het sy dissipels geleer om “geen deel van die wêreld” te wees nie en het duidelik getoon dat hulle nie moet kant kies wanneer dit kom by politieke geskille nie.—Johannes 17:14, 16; 18:36; Markus 12:13-17.

  •   Ons is lojaal aan God se Koninkryk, waarvan Jesus gepraat het toe hy gesê het: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word” (Matteus 24:14). As verteenwoordigers van God se Koninkryk, wat die opdrag ontvang het om die koms daarvan te verkondig, bly ons neutraal wat die politieke aangeleenthede van alle lande betref, insluitende die land waarin ons woon.—2 Korintiërs 5:20; Efesiërs 6:20.

  •   Deur neutraal te bly, kan ons vryelik met mense van alle politieke oortuigings oor die goeie nuus van God se Koninkryk praat. Ons probeer om deur ons woorde en dade te toon dat ons ons vertroue in God se Koninkryk stel om die wêreld se probleme op te los.—Psalm 56:11.

  •   Aangesien ons nie polities verdeeld is nie, geniet ons eenheid as ’n internasionale broederskap (Kolossense 3:14; 1 Petrus 2:17). In teenstelling hiermee veroorsaak godsdienste wat hulle met die politiek bemoei, verdeeldheid onder hulle lede.—1 Korintiërs 1:10.

 Respek vir regerings. Hoewel ons nie aan die politiek deelneem nie, respekteer ons die gesag van die regering van die land. Dit stem ooreen met die Bybel se opdrag: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede” (Romeine 13:1). Ons gehoorsaam die wet, betaal belasting en gee ons samewerking wanneer die regering pogings aanwend om die welsyn van sy burgers te bevorder. Ons neem nie deel aan enige pogings om die regering te ondermyn nie; ons volg eerder die Bybel se raad om te bid aangaande “konings en almal wat ’n hoë posisie beklee,” veral wanneer hulle besluite neem wat ons vryheid van aanbidding kan raak.—1 Timoteus 2:1, 2, voetnoot in NW.

 Ons respekteer ook die reg van ander om hulle eie besluite in verband met politieke aangeleenthede te neem. Ons ontwrig byvoorbeeld nie verkiesings nie en meng nie in met diegene wat besluit om te stem nie.

 Is ons neutraliteit ’n hedendaagse verskynsel? Nee. Die apostels en ander eerste-eeuse Christene het dieselfde standpunt teenoor regeringsowerhede ingeneem. Die boek Beyond Good Intentions sê: “Hoewel die vroeë Christene geglo het dat hulle die regeringsowerheid moet eer, het hulle nie geglo dat hulle by politieke aangeleenthede betrokke moet raak nie.” Die boek On the Road to Civilization sê ook dat vroeë Christene “nie ’n politieke amp beklee het nie”.

 Is ons politieke neutraliteit ’n bedreiging vir landsveiligheid? Nee. Ons is vredeliewende burgers wat geen bedreiging vir die regeringsowerheid inhou nie. Let op ’n verslag van 2001 wat deur die Nasionale Akademie vir Wetenskappe van die Oekraïne vrygestel is. Die verslag lewer kommentaar oor ons politieke neutraliteit en sê: “Vandag is party moontlik nie ten gunste van die standpunt wat Jehovah se Getuies inneem nie; dit was een van die grondredes waarom hulle deur die totalitêre Nazi- en Kommunistiese bewind van die verlede aangekla is.” Maar selfs onder Sowjet-onderdrukking was die Getuies “steeds wetsgehoorsame burgers. Hulle het eerlike en harde werk gedoen op gemeenskapsplase en by industriële werkplase, en hulle het geen bedreiging vir die Kommunistiese bewind ingehou nie.” Die verslag sluit af deur te sê dat die oortuigings en gebruike van Jehovah se Getuies “nie die veiligheid en integriteit van enige land ondermyn nie”, soos vandag ook die geval is.