Spring na inhoud

Die Bethelwassery: Alles van vadoeke tot sydasse

Die Bethelwassery: Alles van vadoeke tot sydasse

Jong mans en vroue by die takkantoor van Jehovah se Getuies in die Verenigde State bestee tyd en energie daaraan om elke jaar ongeveer 1 800 ton wasgoed by drie geaffilieerde komplekse in Brooklyn, Patterson en Wallkill, New York, te was. Die hoeveelheid op sigself is verstommend. Maar dit is die groot verskeidenheid artikels wat die werkers was, wat hierdie taak uniek maak.

Diegene wat by die Bethelkomplekse in die Verenigde State woon, stuur elke werksdag meer as 11 000 kledingstukke na die Bethelwasserye—2 300 hemde en 650 langbroeke, sowel as sokkies, onderklere en T-hemde. Hulle stuur ook 900 artikels in wat droogskoongemaak moet word.

Daarbenewens word ook ’n ontsaglike hoeveelheid linne ingestuur, insluitende lakens, handdoeke en komberse, sowel as die uniforms van kelners asook skoonmaaklappe. Alles moet gewas, drooggemaak en afgelewer word. Artikels soos lappe word in groot hoeveelhede saam gewas, maar delikate sydasse en bloese word individueel hanteer.

Die werkers in die wassery kyk of kledingstukke enige skeure het of knope kortkom. Knope word dan met ’n geoutomatiseerde masjien of met die hand aangewerk. As ’n kledingstuk heelgemaak of ietwat verstel moet word, word dit deur ’n bedrewe persoon gedoen.

Om tred te hou met die duisende kledingstukke wat ingestuur word, bring ’n masjien ’n klein etiket met ’n unieke staafkode op elke artikel aan. Danksy die staafkode word kledingstukke outomaties gesorteer sodat skoon, gestrykte klere by die verskillende woongeboue van die Bethelgesin in die Verenigde State afgelewer kan word.

Nuwelinge in die wassery word deur vaardige medewerkers opgelei. ’n Nuwe werker kan tot 20 verskillende take leer. ’n Oënskynlik eenvoudige taak wat ’n ruk neem om te bemeester, is om vlekke te verwyder. ’n Nuweling moet ’n deeglike kennis verkry van kledingstowwe en hoe dit op verskillende middels en tegnieke reageer.

Tajh, wat al ’n jaar en ’n half in die wassery werk, sê van diegene saam met wie hy werk: “Daar is ’n sterk gees van kameraadskap—dit is baie lekker om saam met mense van verskillende agtergronde te werk.” Shelly, nog ’n werker, sê: “Dit is ’n voorreg om ons Bethelgesin te help om goed te lyk.”