Spring na inhoud

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

“Ek het meer vrae as antwoorde gehad”

“Ek het meer vrae as antwoorde gehad”
  • Gebore: 1976

  • Geboorteland: Honduras

  • Geskiedenis: Predikant

MY VERLEDE

 Ek is gebore in La Ceiba, Honduras. Ek is die jongste van vyf kinders en die enigste seun. Ek is ook die enigste dowe persoon in die familie. Ek en my familie het in ’n gevaarlike buurt gebly, en ons was baie arm. Die lewe het moeiliker vir ons geword nadat my pa in ’n ongeluk by die werk gesterf het toe ek omtrent vier jaar oud was.

 My ma het die beste gedoen wat sy kon om vir my en my susters te sorg, maar sy het baie keer nie genoeg geld gehad om vir my klere te koop nie. As dit gereën het, het ek dikwels koud gekry omdat ek nie warm klere gehad het nie.

 Toe ek groter word, het ek Hondurese Gebaretaal (LESHO) geleer. Dit het my gehelp om met ander dowe mense te kommunikeer. Ongelukkig het my ma en susters nie LESHO geken nie en kon hulle net ’n paar gebare en opgemaakte tekens gebruik om met my te kommunikeer. Maar my ma was lief vir my en het my teen gevare beskerm. Met die paar tekens wat sy geken het, het sy my gewaarsku teen slegte dinge soos rook en alkoholmisbruik. So, ek is dankbaar dat ek nooit aan enige van hierdie dinge verslaaf geraak het nie.

 Toe ek jonk was, het my ma my na die Katolieke Kerk toe gevat, maar ek het niks verstaan nie omdat niemand vir my in gebaretaal vertaal het nie. Ek was so verveeld dat ek opgehou het om kerk toe te gaan toe ek tien jaar oud was. Maar ek wou nog steeds meer oor God leer.

 In 1999, toe ek 23 jaar oud was, het ek ’n vrou van die Verenigde State ontmoet wat aan ’n evangeliese kerk behoort het. Sy het vir my Bybellesse gegee en vir my Amerikaanse Gebaretaal (ASL) geleer. Ek het so baie gehou van wat ek oor die Bybel geleer het dat ek besluit het om ’n predikant te word. Daarom het ek na Puerto Rico getrek om ’n Christelike opleidingsentrum vir die dowes by te woon. Toe ek in 2002 na La Ceiba teruggekeer het, het ek ’n kerk vir die dowes gevorm met die ondersteuning van party van my vriende. Een van hierdie vriende, Patricia, het later my vrou geword.

 As die predikant van ons kerk, het ek preke in LESHO gegee, prentjies van Bybelverhale gewys en die verhale opgevoer om die dowes te help verstaan. Ek het ook dowe mense in dorpe daar naby besoek om hulle aan te moedig en hulle met hulle probleme te help. Ek het selfs op ’n sendingreis na die Verenigde State en Zambië gegaan. Maar eintlik het ek nie veel oor die Bybel geweet nie. Ek het net vir hulle gesê wat vir my gesê was en wat ek uit die prentjies verstaan het. Ek het meer vrae as antwoorde gehad.

 Eendag het party lede van my kerk leuens oor my versprei. Hulle het gesê dat ek ’n dronklap is en dat ek my vrou verneuk het. Ek was teleurgesteld en kwaad. Nie lank daarna nie, het ek en Patricia die kerk verlaat.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET

 Jehovah se Getuies het altyd vir my en Patricia besoek, maar ons het nooit na hulle geluister nie. Maar nadat ons ons kerk verlaat het, het Patricia die Bybel saam met ’n Getuiepaartjie begin studeer. Hulle name was Thomas en Liccy. Ek was beïndruk dat hulle gebaretaal geken het al was hulle nie doof nie. So ek het kort voor lank by Patricia se studie aangesluit.

 Ons studie het ’n paar maande aangehou en hulle het video’s in ASL gebruik om ons te leer. Maar toe van ons vriende Jehovah se Getuies daarvan beskuldig het dat hulle navolgers van mense is, het ons die Bybelstudie stopgesit. Selfs nadat Thomas vir my bewyse gegee het dat Jehovah se Getuies nie menseleiers volg nie, het ek hom nie geglo nie.

 ’n Paar maande later, toe Patricia baie depressief geword het, het sy tot God gebid om Jehovah se Getuies weer na haar toe te stuur. Kort daarna het ’n buurvrou wat een van Jehovah se Getuies is, Patricia besoek. Sy het Liccy gevra om weer na Patricia toe te gaan. Liccy was ’n ware vriendin. Sy het Patricia elke week besoek om haar aan te moedig en om die Bybel met haar te studeer. Maar ek het die Getuies nog steeds nie heeltemal vertrou nie.

 In 2012 het Jehovah se Getuies aan ’n spesiale kampanje deelgeneem om die LESHO-video Die waarheid—Wil jy dit graag vind? aan te bied. Liccy het die video vir ons gebring. Toe ek dit gekyk het, was ek geskok om uit te vind dat baie van die leerstellings wat ek vir ander geleer het, soos die hel en die onsterflikheid van die siel, nie in die Bybel staan nie.

 Die week daarna het ek na die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies gegaan om met Thomas te praat. Ek het vir hom gesê dat ek die waarheid oor die Bybel vir die dowes wou leer, maar nie as een van Jehovah se Getuies nie. Ek het die idee gehad om my eie nuwe kerk vir die dowes te stig. Thomas het my geprys vir my ywer, maar het my toe Efesiërs 4:5 gewys. Daar wys dit hoe belangrik eenheid in die ware Christengemeente is.

 Thomas het ook vir my die video Jehovah se Getuies​—Geloof in aksie, Deel 1: Uit die duisternis in ASL gegee. Hierdie video het gewys hoe ’n groep mans die Bybel deeglik ondersoek het om die waarheid oor basiese leerstellings te verstaan. Terwyl ek na die video gekyk het, kon ek verstaan hoe daardie mans gevoel het. Soos hulle, het ek na die waarheid gesoek. Daardie video het my oortuig dat die Getuies die waarheid leer omdat hulle oortuigings net op die Bybel gebaseer is. So ek het weer met my Bybelstudie begin, en in 2014 is ek en Patricia albei as Jehovah se Getuies gedoop.

HOE DIT MY LEWE BETER GEMAAK HET

 Ek hou van die gemeente van Jehovah se Getuies omdat dit rein is, net soos God rein is. Aanbidders bly by die Bybel se standaarde wanneer dit kom by hoe hulle praat en hoe hulle ander behandel. Hulle maak vrede en moedig mekaar aan. Die Getuies is verenig en hulle leer ander dieselfde Bybelwaarhede maak nie saak watter land hulle in is of watter taal hulle praat nie.

 Ek geniet dit om uit te vind wat die Bybel werklik leer. Byvoorbeeld, ek het geleer dat Jehovah die Almagtige God is, die Soewerein oor die hele aarde. Hy is lief vir dié wat doof is en vir dié wat kan hoor. Ek waardeer God se liefde vir my. Ek het ook geleer dat die aarde ’n pragtige paradys sal word en dat ons die geleentheid sal hê om ewige lewe met volmaakte gesondheid te geniet. Ek sien baie uit daarna!

 Ek en Patricia hou baie daarvan om ander dowe mense oor die Bybel te leer. Ons studeer nou die Bybel met party van die lede van ons vorige kerk. Toe ek ’n predikant was, het ek baie vrae gehad oor die Bybel, maar nou het ek nie meer daardie vrae nie. Ek het uiteindelik al die antwoorde op my vrae gekry omdat ek die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer het.