Spring na inhoud

3 DESEMBER 2014
DENEMARKE

Jehovah se Getuies baan die weg vir bloedlose chirurgie in Denemarke

Jehovah se Getuies baan die weg vir bloedlose chirurgie in Denemarke

KOPENHAGEN, Denemarke—Denemarke se vernaamste mediamaatskappye berig dat die hoofstadstreek se mediese gemeenskap nou ’n nuwe benadering tot die gebruik van bloed begin volg. Die tydskrif Kristeligt Dagblad sê: “Daar is bevind dat baie meer pasiënte sonder geskenkte bloed kan klaarkom.” Die tydskrif sê verder: “Jehovah se Getuies is die rede waarom die mediese gemeenskap bloedlose chirurgie begin gebruik het.” Weens hulle godsdiensoortuigings soek die meer as 8 000 000 Getuies van Jehovah regoor die wêreld, insluitende meer as 14 000 lede in Denemarke, die beste beskikbare mediese sorg sonder bloedoortappings.

Deense hospitale is bekend as die grootste per capita-verbruikers van geskenkte bloed ter wêreld, selfs tot 50-100 persent meer as ander Europese hospitale. Maar in die artikel “Bloedlose chirurgie wen veld” sê die nuuswebwerf Politiken: “Jehovah se Getuies beweeg dokters om alternatiewe te ondersoek” vir behandelings wat gewoonlik geskenkte bloed behels. Toe hulle Getuiepasiënte behandel het, het party dokters ’n aantal bloedbesparingsmetodes begin gebruik, soos om die pasiënt voor die operasie eritropoiëtien, yster en vitamien B-kompleks te gee en gedurende die operasie antifibrinolitiese middels te gebruik. The Copenhagen Post sê: “Elke jaar ondergaan tussen vyf en tien van Jehovah se Getuies ’n groot hartoperasie by die Universiteitshospitaal van Aarhus, Skejby,” sonder die gebruik van geskenkte bloed.

Rigshospitalet, ’n hoogs gespesialiseerde hospitaal en een van Denemarke se grootste opvoedkundige institute vir die mediese wetenskappe, het in 2009 in die hoofstadstreek ’n projek begin om die gebruik van bloed te beheer.

Die mediese gemeenskap in Denemarke erken ook toenemende kliniese bewyse dat bloedoortappings noemenswaardige risiko’s inhou. Rigshospitalet, in Kopenhagen, het in 2009 ’n projek begin om die gebruik van bloed te beheer, wat volgens die koerant Berlingske die gebruik van geskenkte bloed aansienlik verminder het en tot “minder komplikasies en ’n laer sterftesyfer” onder pasiënte gelei het. Die meeste ander hospitale in die hoofstadstreek het sedertdien by die projek aangesluit, en hospitale in ander streke beplan om dit ook te doen.

Berlingske het ook berig dat dr. Morten Bagge Hansen, ’n navorser en hoof van die bloedbank by Rigshospitalet, die aansienlike vermindering in die gebruik van bloed in Denemarke beskryf het as “groot vooruitgang wat die pasiënte werklik tot voordeel strek”. Wat meer is, Denmark Radio sowel as Kristeligt Dagblad het dr. Astrid Nørgaard, mediese direkteur by Rigshospitalet, aangehaal, wat tot die slotsom gekom het dat “bloedlose chirurgie nie sou gewees het waar dit vandag is sonder Jehovah se Getuies nie”.

Mediaverteenwoordiger(s):

Internasionaal: J.R. Brown, Office of Public Information, tel. +1 718 560 5000

Denemarke: Erik Jørgensen, tel. +45 59 45 60 00

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000