Spring na inhoud

Kanselierskantoor van die staat Noord-Ryn-Wesfale

10 OKTOBER 2017
DUITSLAND

Duitsland gee Jehovah se Getuies die hoogste wetlike status

Duitsland gee Jehovah se Getuies die hoogste wetlike status

Ná 26 jaar van hofsake het Jehovah se Getuies in Duitsland nou dieselfde wetlike status as ander groot godsdienste in die land gekry. Op 27 Januarie 2017 het Noord-Ryn-Wesfale die laaste van die 16 Duitse state geword om publieke reg-status vir Jehovah se Getuies te gee. Die beslissing is baie belangrik vir die Getuies. Al was hulle meer as 100 jaar lank in Duitsland, is hulle nasionale hoofkwartier en die duisende gemeentes in die land as onafhanklike godsdiensorganisasies beskou. Noudat die Getuies uiteindelik publieke reg-status in al die Duitse state gekry het, word hulle as een godsdiensentiteit beskou en geniet hulle die voordele wat saam met hierdie status kom.

Die lang stryd om publieke reg-status te kry

In 1921 is Jehovah se Getuies in Duitsland onder privaatreg geregistreer. Ná die hereniging van Duitsland in 1990 het die Getuies aansoek gedoen vir publieke reg-status omdat dit baie voordele vir godsdiensorganisasies inhou.

As ’n godsdiensorganisasie in Duitsland as ’n regsentiteit geregistreer wil word, moet dit eers publieke reg-status in die staat kry waar dit gevestig is. Daarna kan hulle in die ander 15 Duitse state aansoek doen vir hierdie status. In 1990 het die godsdiensorganisasie Jehovas Zeugen in Deutschland (Jehovah se Getuies in Duitsland) eerste in die staat Berlyn, waar hulle wettige adres is, aansoek gedoen. Hoewel die meeste godsdiensorganisasies wat vir publieke reg-status aansoek doen, dit vinnig kry, dalk binne ’n jaar of twee, het die owerheid in Berlyn jare lank geweier om publieke reg-status vir Jehovah se Getuies te gee. Een rede wat die owerheid hiervoor gegee het, is omdat die Getuies nie in nasionale verkiesings stem nie. Maar dit is nie ’n goeie rede nie, want die wet vereis nie dat Duitse burgers stem nie. Dit is totaal en al vrywillig.

Die saak het uiteindelik voor die hof gekom. Op 24 Maart 2005 het die hoër administratiewe hof in Berlyn beslis dat Jehovah se Getuies in Duitsland as ’n “publieke regsentiteit” erken moet word. Meer as ’n jaar later het die staat Berlyn toegegee en vir Jehovah se Getuies publieke reg-status gegee. Hierdie regstryd met die owerheid in Berlyn het 16 jaar lank aangehou.

Die Getuies het toe in die ander 15 Duitse state vir publieke reg-status aansoek gedoen. In 2009 het 11 van die state hierdie status vir hulle gegee. In die jare daarna het nog 3 state dieselfde gedoen, en op 27 Januarie 2017 het die laaste staat, Noord-Ryn-Wesfale, ook vir Jehovah se Getuies publieke reg-status gegee. Ná 26 jaar van hofsake was Jehovah se Getuies se stryd uiteindelik verby om dieselfde wetlike status as ander groot godsdienste in Duitsland te kry.

Die voordele van publieke reg-status

Die nasionale hoofkwartier en die meer as 2 000 gemeentes van Jehovah se Getuies in Duitsland word nou as een regsentiteit bestuur. In die verlede was elke gemeente as ’n afsonderlike godsdiensorganisasie beskou, en daarom moes elke gemeente volgens die wet jaarlikse verslae en belastingopgawes indien. Elke keer as ’n nuwe ouer man aangestel is, ’n eiendom gekoop is, ’n gemeente se naam verander is of gemeentes saamgesmelt het, moes hierdie verandering aan die owerheid gerapporteer word. In die verlede moes gemeentelike ouer manne baie tyd hieraan spandeer, maar nou kan hulle eerder daarop fokus om geestelik vir die gemeente te sorg. Omdat gemeentes nie publieke reg-status gehad het nie, moes hulle elke keer betaal wanneer hulle verslae ingedien het. ’n Broer wat al lank as ’n ouer man dien, het gesê: “Ons het nou meer vryheid om bydraes te gebruik om die gemeente se openbare bediening te ondersteun.”

Sonder publieke reg-status is Jehovah se Getuies nie as ’n erkende godsdiens beskou nie, al het 274 000 Getuies en ander hulle vergaderinge in Duitsland bygewoon. Armin Pikl, ’n regsverteenwoordiger vir die nasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Duitsland, het gesê: “Die media het gedurende die 26 jaar lange regstryd amper elke week leuens en lasterlike dinge oor ons godsdiens gesê. Nou het dit opgehou.” Werner Rudtke, wat al jare lank ’n Getuie is, het gesê: “Omdat ’n godsdiensorganisasie wat as ’n publieke regsentiteit erken wil word, heeltemal wetsgehoorsaam moet wees, kon baie van die dinge wat oor die Getuies gesê is, as vals bewys word.” Nog ’n Getuie, Petra, het vertel hoe moeilik dit vir skoolkinders was. Sy het gesê: “Hierdie status sal skoolkinders baie help. Tot nou toe het onderwysers gewoonlik teen Getuie-kinders gediskrimineer as gevolg van die leuen dat hulle aan ’n ‘sekte’ behoort en nie ’n godsdiens nie.”

Jehovah se Getuies in Duitsland is baie bly dat hulle opregte godsdiensbedrywighede deur die owerheid erken word en dat hulle nou publieke reg-status het. Hulle hoop dat hierdie erkenning die probleme wat hulle in die verlede gehad het, sal verminder, en dat dit hulle as individue en as ’n godsdiensgemeenskap sal bevoordeel.