Spring na inhoud

Broer Geoffrey Jackson stel die Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Batak Toba vry

4 DESEMBER 2020
INDONESIË

Jehovah se Getuies stel die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in vier inheemse tale van Indonesië vry

Jehovah se Getuies stel die volledige Nuwe Wêreld-vertaling in vier inheemse tale van Indonesië vry

Op 28 November 2020 is die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in gedrukte en elektroniese formaat vrygestel in vier inheemse tale van Indonesië: Batak Karo, Batak Toba, Javaans en Nias. Broer Geoffrey Jackson, ’n lid van die Bestuursliggaam, het die Bybels in ’n spesiale vooraf opgeneemde program vir al die gemeentes op die baie eilande van Indonesië vrygestel. Omtrent 41 265 mense het na die program gekyk. Gedurende die program het broer Jackson ook aangekondig dat die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte binnekort in elektroniese formaat in die Sunda-taal vrygestel sal word.

Die vertalers het meer as drie en ’n half jaar hard gewerk om hierdie Bybelvertalings beskikbaar te maak. Meer as 100 miljoen mense praat ten minste een van die vier inheemse tale waarin hierdie vertalings vrygestel is. Meer as 2 600 verkondigers gebruik ook hierdie tale in die bediening en gedurende gemeentelike vergaderinge.

Vandag se lesers verstaan baie keer nie die verouderde spelling en taal wat oor die algemeen gebruik word in die vorige vertalings van die Bybel wat beskikbaar is nie. ’n Vertaler sê: “Hierdie moderne volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel oortuig my selfs meer dat Jehovah God wil hê dat almal sy Woord in ’n taal moet hoor wat maklik is om te verstaan en die hart raak.”

Daniel Purnomo, ’n lid van die Takkomitee in Indonesië, sê: “Ons lewe in moeilike tye, veral as gevolg van die COVID-19-pandemie. Ons liewe broers en susters wat hierdie tale praat, is baie dankbaar om hierdie geestelike geskenk op die regte tyd te kry.”

Ons is dankbaar dat Jehovah hierdie kosbare geskenk van sy Woord aan selfs meer mense beskikbaar gemaak het. Ons hoop dat nog baie mense wat hierdie inheemse tale praat, bevoordeel sal word deur wat die Bybel leer. – Jakobus 1:17.