Spring na inhoud

17 MEI 2017
KAZAKSTAN

Kazakstan gooi siek Getuie van Jehovah in die tronk en verbied sy aanbidding

Kazakstan gooi siek Getuie van Jehovah in die tronk en verbied sy aanbidding

ALMATY, Kazakstan—Op 2 Mei 2017 het ’n hof in Astana, die hoofstad van Kazakstan, Teymur Akhmedov tot vyf jaar tronkstraf gevonnis omdat hy sy vreedsame Bybelonderrigtingswerk gedoen het. Die hof het hom aangekla van “aanhitsing tot godsdiensverdeeldheid” en dat hy verkondig dat sy godsdiens beter is as ander godsdienste. Behalwe vir die tronkstraf het die regter mnr. Akhmedov ook verbied om vir die volgende drie jaar deel te neem aan sy Bybelonderrigtingswerk. Die beslissing plaas die 61-jarige mnr. Akhmedov, wat getroud is en drie seuns het, in ’n baie gevaarlike situasie. Hy het ’n bloeiende gewas en het behandeling dringend nodig, maar die owerheid weier dat hy die behandeling ontvang. Mnr. Akhmedov sal die hof se beslissing appelleer. Die appèlsaak sal heel moontlik later in Mei of vroeg in Junie plaasvind.

Die beslissing is die nuutste ontstellende verwikkeling in ’n wetlike drama wat op 18 Januarie 2017 begin het. Mnr. Akhmedov is op hierdie dag deur Kazakstan se Nasionale Veiligheidskomitee gearresteer en aangekla onder Artikel 174(2) van Kazakstan se Strafwet. Hy is maande lank aangehou en kon nie mediese behandeling ontvang nie. David A. Semonian, ’n woordvoerder by die Getuies se wêreldhoofkwartier, sê: “Jehovah se Getuies regoor die wêreld is baie bekommerd oor Teymur. Ons hoop dat die owerheid hierdie ongegronde aanklagtes sal laat vaar en uiteindelik sal toelaat dat hierdie lojale, wetsgehoorsame Christen met sy gesin verenig word en die mediese sorg ontvang wat hy so dringend nodig het.”

Jehovah se Getuies beskou die optrede van die hof in Astana as bewys dat Kazakstan Rusland se voorbeeld van godsdiensvervolging navolg. Dit hou veral verband met die onlangse beslissing deur die Hooggeregshof van die Russiese Federasie om die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland te likwideer. Mnr. Semonian verduidelik: “Soos die geval was met ons aanbidding in Rusland, is Teymur Akhmedov ’n slagoffer van ’n wet wat blykbaar ontwerp is om [die land] teen terrorisme te beskerm en wat verkeerd op ons aanbidding toegepas word. Internasionale instansies, insluitende die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee en die Verenigde State se Internasionale Kommissie vir Godsdiensvryheid, het Kazakstan gevra om op te hou om sulke wette verkeerdelik te gebruik om vreedsame aanbidding te vervolg. Ons is bekommerd oor al ons medegelowiges in Kazakstan en hoop dat hulle nie langer vervolg sal word omdat hulle hulle Bybelonderrigtingswerk doen nie, ’n werk wat gemeenskappe regoor die wêreld help. Ons stel almal baie belang in die uiteinde van hierdie saak.”

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Kazakstan: Bekzat Smagulov, +7-747-671-45-01

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000