Spring na inhoud

Van links na regs: Broer Andrei Andrejef, broer Artem Bagratyan en sy vrou, Aleftina, en broer Andrei Risjkof

16 MAART 2021
RUSLAND

Getroude paartjie en drie ander broers kan tronk toe gaan in Koersk-streek vir hulle geloof

Getroude paartjie en drie ander broers kan tronk toe gaan in Koersk-streek vir hulle geloof

JONGSTE NUUS | Russiese hof weier appèl vir vyf Getuies

Op 20 Januarie 2022 het die Koersk-streekhof die appèl van broer Andrei Andrejef, Andrei Risjkof, Aleksandr Wospitanjoek en Artem Bagratyan en sy vrou, Aleftina, geweier. Hulle vonnisse bly onveranderd.

Op 3 Junie 2021 het die arbeidshof in Koersk ’n getroude paartjie en drie broers skuldig bevind. Broer Andrejef het ’n vonnis van vier en ’n half jaar en broer Risjkof het ’n vonnis van drie jaar gekry. Broer Bagratyan het ’n vonnis van twee en ’n half jaar en sy vrou, Aleftina, het ’n vonnis van twee jaar gekry. Broer Wospitanjoek, wat by die saak gevoeg is, is gevonnis tot ’n parooltydperk van twee jaar met ekstra beperkings.

Profiel

Andrei Andrejef

  • Gebore: 1976 (Koersk)

  • Agtergrond: Trou met Swetlana in 1999. Het twee dogters grootgemaak. Het in die Bybel begin belangstel toe hy geleer het oor die vervulling van Bybelprofesieë. Gedoop in 2002

Aleftina Bagratyan

  • Gebore: 1977 (Koersk)

  • Agtergrond: Het as kind van kuns gehou. Het die Bybel begin studeer toe sy nog jonk was. Gedoop in 1997. Trou met Artem in 2012. Het as ’n haarkapster gewerk terwyl sy haar ma versorg het

Artem Bagratyan

  • Gebore: 1972 (Abovyan, Armenië)

  • Agtergrond: Het geïmmigreer van Armenië na Rusland. Het Aleftina in Koersk ontmoet. Die paartjie is lief vir die natuur. Gedoop in 2000

Andrei Risjkof

  • Gebore: 1987 (Koersk)

  • Agtergrond: Sy pa is oorlede toe hy ’n seuntjie was. Terwyl hy jonk was, het hy die meeste van sy tyd saam met sy oupa spandeer terwyl sy ma twee werke gehad het. Het in die Bybel begin belangstel nadat hy antwoorde op vrae gekry het wat hom jare lank gepla het. Gedoop in 2011. Trou met Marina in 2016. Het voorheen instandhouding by woonstelle gedoen

Geskiedenis van saak

Op 16 Oktober 2019 het agente van die Federale Veiligheidsdiens (FSB) baie huise van Jehovah se Getuies in Koersk deursoek en hulle ondervra. Dit het daartoe gelei dat broer Andrei Andrejef en die Bagratyan-paartjie gearresteer is. Toe, op 21 Januarie 2020, het die owerhede broer Risjkof gearresteer. Aleftina Bagratyan is op 17 Desember 2020 vrygelaat, nadat sy meer as 13 maande in die detensiesentrum voor haar verhoor was. Sy is nou onder huisarres. Die drie broers is nog in die detensiesentrum.

Artem Bagratyan is ’n diabeet. Oor die tyd wat sy en haar man in aparte selle was, sê Aleftina: “Vir ’n baie lang ruk het ek nie geweet hoe dit met hom gaan nie, of sy gesondheid versleg het nie. Ek het hom vreeslik baie gemis.”

Aleftina sê dat sy vol vertroue was dat Jehovah vir haar en die broers sou sorg terwyl hulle in aanhouding is. Sy verduidelik: “[Jehovah] het my nog altyd versterk. Ek weet dat hy sal aanhou om dit te doen. Ek twyfel nie in hom nie.”

Ons is oortuig dat Jehovah sal aanhou om ’n sterk toring vir ons drie broers en ons suster te wees terwyl hierdie moeilike tyd voortduur. – Spreuke 18:10.