Spring na inhoud

16 JANUARIE 2020
VERENIGDE KONINKRYK

Bethelgesin in Brittanje trek na nuwe Bethel in Chelmsford

Bethelgesin in Brittanje trek na nuwe Bethel in Chelmsford

Op 1 Januarie 2020 het die Bethelgesin van Brittanje na die nuwe Bethelfasiliteit naby Chelmsford, Essex, getrek. Teen die begin van Maart 2020 sal al die voltydse takkantoor-vrywilligers by die nuwe takkantoor woon en werk.

Die takkantoor in Brittanje is al vanaf 1959 in Mill Hill, Londen. Omdat die predikingswerk uitgebrei het en daar meer werk was, is nog geboue in verskillende dele van Londen gekoop. As gevolg hiervan was daar meer geboue wat in stand gehou moes word en omdat die geboue nie bymekaar was nie, moes die Bethelgesin meer reis. Vir ’n tyd het die takkantoor ook lektuur gedruk. Op een punt het die takkantoor lektuur vir meer as 10 persent van die wêreldwye veld gedruk. In Maart 2018, ná 92 jaar van drukwerk, is die drukperse afgesit en verkoop. a

Broers en susters wat met die konstruksie van die nuwe takkantoor gehelp het, verwelkom Betheliete wat op 1 Januarie 2020 intrek

Dit het vyf jaar gevat om die nuwe takkantoor in Brittanje te bou. Al die Bethel-afdelings is nou op een plek. So die Bethelgesin is nou meer doeltreffend en spaar geld. Die takkantoor sluit twee produksiegeboue, kantore en ses woongeboue in, met akkommodasie vir meer as 400 mense. ’n Gebou wat vir verskillende dinge gebruik kan word, sal dien as ’n ouditorium, ’n eetsaal en ander geleenthede.

Op die oomblik hou die takkantoor in Brittanje toesig oor die predikingswerk in ’n hele paar gebiede, insluitende die Falklandeilande, Guernsey, Ierland, die eiland Man, Jersey en Malta. Die nuwe takkantoor sal nou fokus op die produsering van oudio- en videomateriaal en digitale publikasies. Die takkantoor sal ook aanhou om die geestelike bedrywighede van die meer as 150 000 verkondigers te ondersteun, wat in meer as 1 800 gemeentes dien.

Vanaf 6 April 2020 sal die nuwe Bethel oop wees vir toere. Besoekers kan uitsien na uitstallings oor onderwerpe soos die geskiedenis van die Bybel in Brittanje en Ierland en die rol van Bethel in Jehovah se vinnig-groeiende organisasie.

Broer Stephen Hardy, ’n lid van die Takkomitee in Brittanje, is al van die begin af by die projek betrokke. Hy het die gevoelens van baie opgesom: “Jehovah het so baie gewillige broers en susters van Brittanje en ander lande gemotiveer om aan die projek te werk. Die resultate het al ons verwagtinge oortref, en dit alles is tot eer van Jehovah.” – Efesiërs 3:20.

a Die drukwerk vir die takkantoor se gebied van Brittanje word nou gedoen deur die takkantoor van Sentraal-Europa wat in Selters, Duitsland, is.

 

’n Lugfoto van die takkantoor in Brittanje se pragtige groen landskap

’n Suster pak lektuur uit in die ontvangsarea vir die besoekers

Broers en susters wat by Bethel kom help, woon ’n oriëntasievergadering in een van die nuwe konferensiekamers by

Broers en susters eet middagete in die eetsaal

’n Padteken by die ingang van Bethel met “Kingdom Way” daarop