Spring na inhoud

’n Koninkryksaal op die eiland van Groot Abaco, die Bahamas, heeltemal vernietig deur orkaan Dorian

18 SEPTEMBER 2019
VERENIGDE STATE

Orkaan Dorian verwoes alles in sy pad

Orkaan Dorian verwoes alles in sy pad

Nadat orkaan Dorian die eilande van die Bahamas as ’n kategorie-5-storm getref het, het dit aanbeweeg na die ooskus van die Verenigde State. Dit het Vrydagoggend 6 September 2019 as ’n kategorie-1-storm oor Cape Hatteras, Noord-Carolina, getrek. Dit het oorstromings by huise en besighede veroorsaak. Op 7 September 2019 het die storm orkaansterkte winde in Nieu-Skotland, Kanada, veroorsaak.

Verkondigers van Nassau op die lughawe verwelkom hulle broers en susters van Groot Abaco-eiland wat moes vlug

Die takkantoor in die Verenigde State het laat weet dat net een suster ligtelik beseer is uit die 1 742 verkondigers wat in die Bahamas woon. Op hierdie stadium weet ons van altesaam 48 huise van Getuies wat beskadig is en 8 huise wat vernietig is.

Baie van die verkondigers van Groot Abaco-eiland moes hulle huise verlaat en na Nassau, die hoofstad van die Bahamas, vlug. Hulle was vriendelik verwelkom deur die plaaslike broers en susters op die lughawe.

Ons broers en susters maak noodlenigingsvoorraad bymekaar en verpak dit by die West Palm Beach-Byeenkomssaal

Die Noodlenigingskomitee en die plaaslike kringopsiener is besig om noodleniging te reël en besoek en ondersteun die verkondigers wat geraak is. Broers van die takkantoor in die Verenigde State het ook na die gebied gereis om te help met die noodleniging en om die gemeentes geestelik aan te moedig.

Die noodlenigingsvoorraad wat by die West Palm Beach-Byeenkomssaal verpak is, is per boot in Freeport, Bahamas, afgelewer. Die plaaslike broers laai die bokse op ’n trok sodat dit uitgedeel kan word

In die Verenigde State het die storm hoofsaaklik Noord- en Suid-Carolina geraak. Geen van ons broers en susters is in die ramp beseer nie, maar 737 broers moes hulle huise verlaat. Die meeste moes tydelik vlug totdat hulle weer na hulle huise kan terugkeer. Daar is ook 50 huise en 12 Koninkryksale wat beskadig is.

Nie een van ons broers of susters in Kanada is beseer nie. Die storm het min skade aan die eiendom van ons broers gedoen, maar daar was kragonderbrekings. Die broers en susters in die plaaslike gemeentes kon diegene help wat geraak is.

Ons is dankbaar dat Jehovah die “smekinge om hulp” van ons broers en susters hoor wat op hom vertrou gedurende hierdie moeilike tye. – Psalm 28:6.