Spring na inhoud

Jehovah se Getuies het die webwerf watchtower.org 25 jaar gelede vrygestel. In 2012 het jw.org beskikbaar geword, en dit is die mees vertaalde webwerf in die wêreld

17 AUGUSTUS 2022
WÊRELDNUUS

“Goeie nuus op die Internet”

Jehovah se Getuies al 25 jaar op die Wêreldwye Web

“Goeie nuus op die Internet”

Jehovah se Getuies het al 25 jaar ’n amptelike webwerf op die internet. In die artikel “Goeie nuus op die Internet” in Ons Koninkryksbediening van November 1997 is die nuwe webwerf, watchtower.org, bekendgestel. Die artikel het verduidelik: “Die Genootskap [het] juiste inligting oor die opvattings en bedrywighede van Jehovah se Getuies op die Internet geplaas. . . . Die doel van ons webruimte is nie om nuwe publikasies vry te stel nie, maar om inligting in ’n elektroniese vorm aan die publiek beskikbaar te stel.”

Vanaf daardie tyd kon die publiek party pamflette, brosjures en artikels van Die Wagtoring en Ontwaak! op watchtower.org aflaai. Die webwerf watchtower.org het op 15 Januarie 1997 vir die publiek beskikbaar geword. Toe het jw-media.org in 1999 beskikbaar geword. Dit het akkurate inligting aan die media gegee oor huidige gebeure waarby Jehovah se Getuies betrokke is, insluitende regsake en ander organisatoriese aktiwiteite.

In 2005 het jw.org beskikbaar geword, en later kon dit gebruik word om sekere publikasies en oudio-opnames af te laai.

In Augustus 2012 is al drie webwerwe gekombineer en jw.org genoem. Ons Koninkryksbediening van Desember 2012 het oor die nuwe webwerf gesê: “Ongeveer ’n derde van die aarde se bevolking gebruik die Internet. Dit het vir baie, veral jongmense, die hoofbron van inligting geword. . . . Dit stel die goeie nuus in staat om gebiede te bereik waar mense min geleenthede het om die Koninkryksboodskap te hoor.”

Nog inligting het op jw.org beskikbaar geword, insluitende geskrewe, oudio- en video-inhoud. Publikasies kon in 411 tale afgelaai word. Sowat sewe jaar nadat die webwerf in 2012 herontwerp is, was jw.org die eerste webwerf wat lektuur in 1 000 tale beskikbaar gemaak het, insluitende 100 gebaretale.

Toe die COVID-19-pandemie begin het, het jw.org veral ’n waardevolle hulpmiddel geword. Meer mense het die webwerf besoek toe ons nie meer vergaderinge in persoon kon bywoon nie en dit al hoe moeiliker geword het om publikasies te druk en te versprei. ’n Hoogtepunt was op 7 April 2020 bereik – die dag van die Herdenking van Jesus se dood. Op hierdie dag was daar meer as sewemiljoen unieke besoekers. Die webwerf het meer as eenmiljard besoekers in 2020 gekry in vergelyking met die 800 miljoen in 2019. Vanaf Januarie 2022 word die webwerf gemiddeld driemiljoen keer per dag besoek.

Die akkurate inligting op jw.org het mense gehelp om diskriminasie teen Jehovah se Getuies te oorkom. Byvoorbeeld, Tenesha Gordon het gesê: “Ek waardeer hoe maklik dit was om inligting oor die Getuies te kry, soos wie hulle is, wat hulle glo en waarop hulle hulle oortuigings baseer. Dit het my gehelp om ontslae te raak van my verkeerde idees.”

Tenesha was in 2017 gedoop. Nou dien sy as ’n pendelaar by Bethel in Jamaika.

Akkurate inligting op jw.org het Tenesha gemotiveer om die Bybel met Jehovah se Getuies te studeer

Broer Clive Martin, wat die opsiener is van die afdeling wat die webwerf hanteer, het gesê: “Dit is baie lekker om te sien hoe Jehovah jw.org gebruik het om so baie mense van verskillende agtergronde regoor die wêreld te bereik met die goeie nuus van God se Koninkryk.”

Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir hierdie hulpmiddel wat aanhou om ons in die predikingswerk te help, ons op hoogte hou van wat in die organisasie gebeur en ons wêreldwye broederskap verenig. En dit is alles tot eer van Jehovah. – Psalm 145:1, 2.