Spring na inhoud

Die besoekersentrum in Patterson, New York, VSA. Kleiner foto’s: Besoekers geniet die interaktiewe museum met die naam “’n Eerste-eeuse Bybeldorpie”

26 JANUARIE 2024
WÊRELDNUUS

Nuwe besoekersentrum in Patterson bied ’n unieke, interaktiewe ondervinding

Nuwe besoekersentrum in Patterson bied ’n unieke, interaktiewe ondervinding

Op 1 Januarie 2024 is die Patterson-besoekersentrum by die Wagtoring-onderrigsentrum in Patterson, New York, VSA, oopgemaak. ’n Spesiale deel van die museum in die besoekersentrum word “’n Eerste-eeuse Bybeldorpie” genoem. Broer Isaiah Miller, wat in die Museumafdeling by Bethel werk, het gesê: “Die Bybeldorpie is ontwerp om ’n realistiese en opvoedkundige ondervinding aan almal te bied. Navorsing toon dat interaktiewe onderrigting ’n kragtige uitwerking op mense van alle ouderdomme het.” Ná haar besoek het een van die besoekers opgewonde gesê: “Hierdie museum het my laat voel asof ek in die land van eertydse Israel was. Dit was pragtig!”

In hierdie deel van die museum kan mense meer leer oor die diere, kos, plante en die daaglikse aktiwiteite van die mense wat in ’n eertydse Israelitiese dorpie gebly het. Byvoorbeeld, die olyfbome in die museum is gemaak met behulp van handgemaakte vorme van die olyfbome in Israel. Besoekers kan graan met ’n lewensgrootte meulsteen maal en op ’n vissersboot klim wat net soos die een lyk wat Jesus en sy dissipels gebruik het. Een broer het opgewonde gesê: “Dit het gevoel asof ek deel was van die Bybelverslag waar Jesus vir die see gesê het: ‘Bedaar! Wees stil!’” (Markus 4:39). Wanneer besoekers ’n weergawe van ’n eertydse sinagoge besoek, kan hulle hulle indink hoe dit was om daar te sit en aandagtig te luister terwyl God se Woord hardop gelees word.

Tonele van die Bybeldorpie (kloksgewys van links bo): ’n eerste-eeuse vissersboot, ’n meulsteen wat gebruik word, ’n sinagoge en ’n markplein

Rebecca en Marcos leer hoe om ’n houtstoel in die Bybeldorpie te maak

Nog ’n besondere aspek van die museum is die geleentheid om meer te leer oor die lewe in die eerste eeu deur met “inwoners van ’n Israelitiese dorpie” te praat wat deur broers en susters gespeel word. Besoekers kan deelneem aan verskillende werke en take wat algemeen in Jesus se dag was. Marcos, wat tien jaar oud is, het gesê: “My gunsteling deel was toe ek ’n Israelitiese timmerman kon help om ’n stoel te maak!” Rebecca, wat agt jaar oud is, het gesê: “Dit was ook my gunsteling deel. Ek het ook daarvan gehou om die graan te maal om meel te maak.”

Die besoekersentrum het ook drie ander dele. “Eerste-eeuse Bybelmuntstukke” is ’n uitstalling van oorspronklike eerste-eeuse muntstukke, insluitende ’n tetradragma wat skaars is. “Al jou seuns sal deur Jehovah geleer word” is ’n museum wat besoekers help om oor die verskillende teokratiese skole te leer en wys wat die voordele is om deur Jehovah geleer te word. “Verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus” vertel ons van die getroue voorbeelde van broers en susters in verskillende lande wat vervolg is, en dit wys hoe Jehovah se organisasie hulle lojaal ondersteun het.

Van links na regs: ’n Uitstalling van “Eerste-eeuse Bybelmuntstukke”, die museums “Al jou seuns sal deur Jehovah geleer word” en “Verdediging en wetlike bevestiging van die goeie nuus”

Ons nooi ons broers en susters wêreldwyd uit om die besoekersentrum in Patterson te besoek en self die geloofversterkende geskenk van Jehovah te ervaar. Dit is net nog ’n manier hoe Jehovah wys hoeveel hy sy volk liefhet en waardeer. – Jakobus 1:17.