Spring na inhoud

3 OKTOBER 2017
WÊRELDNUUS

Oorsig van die toestande ná orkaan Irma

Oorsig van die toestande ná orkaan Irma

NEW YORK — Die takkantore in Barbados, die Dominikaanse Republiek, Frankryk en die Verenigde State het ons laat weet hoe dit met ons broers gaan ná orkaan Irma:

Gebiede onder die takkantoor in Barbados — Anguilla, Antigua en Barbuda, Montserrat, Saba, St. Eustatius, St. Kitts en Nevis en St. Maarten (Nederlandse deel). Daar was ernstige skade op Barbuda en St. Maarten.

Barbuda is ’n klein eiland waar daar omtrent 1 800 mense bly. Die eiland is tot rampgebied verklaar en ’n noodtoestand is afgekondig omdat die meeste dienste en omtrent 95 persent van die huise op die eiland beskadig is. Volgens berigte is nie een van die 11 verkondigers op die eiland beseer nie. Hulle almal is na Antigua, ’n eiland daar naby, geneem en ’n Noodlenigings-komitee (DRC) sien na hulle behoeftes om.

Daar woon omtrent 700 verkondigers op die eiland St. Martin (in die Nederlandse en die Franse deel). Een suster is beseer. Lede van die takkantore in Barbados en Frankryk en mediese personeel is na St. Martin gestuur om die broers te gaan help.

Gebiede onder die takkantoor in Frankryk — Guadeloupe, Martinique, St. Barthélemy en St. Martin (Franse deel). Volgens berigte is niemand in Guadeloupe of Martinique dood of beseer nie.

Die eiland St. Barthélemy (die Franse naam vir St. Barts) is verwoes, en dit is amper onmoontlik om met verkondigers op hierdie eiland te kommunikeer. Maar die kringopsiener van hierdie eiland het die takkantoor laat weet dat die 30 verkondigers wat op die eiland woon, veilig is en dat die Koninkryksaal nie erg beskadig is nie. ’n DRC is georganiseer en hulle reël dat drinkwater, kos en ander noodvoorraad vanaf die eilande Guadeloupe en Martinique na die broers op St. Barthélemy en St. Martin gestuur word.

Noodlenigings-voorraad word gereedgekry om na ’n byeenkomssaal in Guadeloupe gestuur te word.

Gebiede onder die takkantoor van die Dominikaanse Republiek. Die takkantoor het vyf permanente DRC’s georganiseer om na die 38 000 verkondigers in die land om te sien. Die kringopsieners het ouer manne aangespoor om al die verkondigers ’n paar dae voordat Irma die eiland bereik het, te besoek en seker te maak dat almal voorbereid is vir die storm. In gebiede aan die noordelike kus wat maklik oorstroom, het die ouer manne 1 273 verkondigers gehelp om by veiliger plekke uit te kom. En hulle het 2 068 verkondigers wie se huise maklik deur die storm verwoes kon word, gehelp om na veiliger plekke te gaan soos Koninkryksale of ander Getuies se huise.

Daar is skade aan ’n paar Koninkryksale wat onlangs gebou is, maar dit is nie ernstig nie. Die huise van vyf Getuie-families is ook beskadig. Van die herstelwerk word deur die plaaslike gemeentes gedoen en ander herstelwerk word deur die DRC’s gereël. Geen berigte is ontvang dat iemand dood is of beseer is nie.

Gebiede onder die takkantoor van die Verenigde State — die Bahamas, Florida, Georgia, Puerto Rico, die Turks- en Caicos-eilande en die Britse en Amerikaanse Maagde-eilande. Ons het reeds berig dat een broer en een suster gesterf het. Hoewel daar nie nog van ons broers en susters dood is nie, het die takkantoor bevestig dat 6 van ons broers beseer is en meer as 3 000 hulle huise moes verlaat. Honderde van ons broers in sentraal-Florida en Georgia het blyplek gegee aan hulle broers wat deur die ramp geraak is.

In Florida moes die broers wat by die vertaalkantoor (RTO) in Fort Lauderdale werk, die kantoor verlaat en vir ’n hele paar dae by die byeenkomssaal in West Palm Beach gaan bly. Die vertaalkantoor is deur water beskadig en die woongebou het ’n paar dae lank nie elektrisiteit en toegang tot die Internet gehad nie. Alles is nou weer reg en die werk is weer aan die gang.

By ons skoolfasiliteit in Palm Coast, Florida, moes al die studente van ’n klas van die Skool vir Kringopsieners en hulle Vrouens en drie klasse van die Skool vir Koninkrykspredikers die gebou verlaat. ’n Groepie van omtrent 20 het wel by die fasiliteit agtergebly. Die eiendom is nie ernstig beskadig nie, maar daar was ’n kragonderbreking.

Noodlenigings-voorraad by ’n byeenkomssaal in Caguas, Puerto Rico.

Die Noodlenigings-kantoor in die Diensafdeling en die Plaaslike Kantoor vir Ontwerp en Konstruksie reël die noodlenigings-pogings om seker te maak dat ons broers betyds en op ’n veilige manier gehelp word.

Sentrums vir noodleniging is in Amerika georganiseer om kos en drinkwater te voorsien aan almal op die vasteland wat deur die ramp geraak is. Daar is ook ’n DRC in Puerto Rico wat hulp voorsien aan ons broers op die eilande.

In die Karibiese Eilande is ten minste 2 Koninkryksale en 55 huise erg beskadig. Daar is ook skade aan omtrent 61 ander huise in die gebied.

Vloedwaters buite ’n Koninkryksaal in die Turks- en Caicos-eilande.

Broers van die takkantoor en die wêreldhoofkwartier is op pad na Florida en die eilande toe om die broers daar by te staan. Daar word nog vasgestel wat die totale skade is.

Ons dink aan almal wat deur orkaan Irma geraak word en ook aan diegene wat met die noodleniging help en hulle broers bystaan. Ons bid vir almal van hulle. — Romeine 15:5; 2 Korintiërs 1:3, 4, 7; 8:14.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Barbados: John Medford, +1-246-438-0655

Dominikaanse Republiek: Josué Féliz, +1-809-595-4007

Frankryk: Guy Canonici, +33-2-32-25-55-55