Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Leerling se dilemma

’n Leerling se dilemma

Pieter skuif ongemaklik op sy stoel rond, en sy maag trek op ’n knop. Sy onderwyseres, ’n vrou wat hy respekteer, het so pas beskryf hoe Charles Darwin en sy evolusieteorie wetenskaplike begrip bevorder en die mensdom van bygelowe bevry het. Nou het sy haar leerlinge genooi om hulle mening oor hierdie onderwerp te gee.

Pieter bevind hom in ’n dilemma. Sy ouers het hom geleer dat God die aarde en alle lewe daarop geskep het. Hulle sê dat die Bybel se skeppingsverslag betroubaar is en dat evolusie net ’n teorie is, waarvoor daar geen bewyse is nie. Pieter se onderwyseres sowel as sy ouers dra sy belange op die hart. Maar wie moet Pieter glo?

Elke skooljaar speel sulke scenario’s hulle in duisende klaskamers regoor die wêreld af. Wat moet Pieter en leerlinge soos hy doen? Stem jy nie saam dat hulle self ’n mening oor hierdie saak moet vorm nie? Hulle moet die bewyse vir evolusie en vir die skepping ondersoek en dan self besluit wat hulle sal glo.

Trouens, die Bybel waarsku ons om nie blindweg te glo wat ander sê nie. “Iemand wat onervare is, glo elke woord”, sê een Bybelskrywer, “maar die skerpsinnige gee ag op sy voetstappe” (Spreuke 14:15). Die Bybel spoor Christene aan om hulle “denkvermoë” te gebruik en self seker te maak dat die dinge wat hulle geleer word, waar is.—Romeine 12:1, 2.

Hierdie brosjure is nie bedoel om die pogings te ondersteun van godsdiensgroepe wat wil hê dat die skepping in skole geleer moet word nie. Die doel van hierdie brosjure is om die bewerings te ondersoek van mense wat sê dat lewe spontaan ontstaan het en dat die Bybel se skeppingsverslag ’n mite is.

Ons gaan op die sel konsentreer, want dit is die grondeenheid van lewe. Jy sal ’n paar ongelooflike feite oor die bou van die sel teëkom. Jy sal ook gevra word om die veronderstellings waarop die evolusieteorie gegrond is, te ontleed.

Ons kom almal vroeër of later te staan voor die vraag: Is lewe geskep of het dit geëvolueer? Jy het waarskynlik al ernstig oor hierdie onderwerp nagedink. Hierdie brosjure sal net party van die bewyse voorlê wat baie laat glo dat lewe geskep is.