Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DEEL 8

Die volk Israel gaan Kanaän binne

Die volk Israel gaan Kanaän binne

Josua voer Israel aan in die verowering van Kanaän. Jehovah stel die rigters in staat om sy volk van onderdrukking te bevry

EEUE voordat Israel Kanaän binnegegaan het, het Jehovah dié land aan Abraham se nakomelinge belowe. Nou was die Israeliete onder Josua se leierskap en het hulle op die punt gestaan om die Beloofde Land in besit te neem.

God het besluit dat die Kanaäniete verdien om vernietig te word. Hulle het die land met uiters verdorwe seksuele gebruike asook met grootskaalse bloedvergieting gevul. Daarom moes die Kanaänitiese stede wat deur die Israeliete verower is, heeltemal vernietig word.

Maar voordat hulle die land binnegegaan het, het Josua twee spioene uitgestuur, wat in die stad Jerigo by ’n vrou met die naam Ragab gebly het. Sy het die spioene in haar huis ingeneem en hulle beskerm al het sy geweet dat hulle Israeliete is. Ragab het geloof gehad in die God van die Israeliete omdat sy van Jehovah se reddingsdade ten behoewe van sy volk gehoor het. Sy het die spioene laat sweer dat sy en haar familie gespaar sou word.

Later, toe die Israeliete Kanaän binnegegaan en teen Jerigo opgetrek het, het Jehovah Jerigo se mure wonderdadig laat inmekaarstort. Josua se troepe het die stad binnegestorm en dit vernietig, maar hulle het Ragab en haar familie gespaar. Toe het Josua, in ’n snelle veldtog van net ses jaar, groot dele van die Beloofde Land verower. Daarna is die land onder die stamme van Israel verdeel.

Teen die einde van sy lang loopbaan het Josua die volk bymekaargeroep. Hy het Jehovah se handelinge met hulle voorvaders met hulle hersien en ’n beroep op hulle gedoen om Jehovah te dien. Maar nadat Josua en sy hegte metgeselle gesterf het, het die Israeliete Jehovah verlaat om valse gode te dien. Omtrent 300 jaar lank het die nasie Jehovah se wette nie deurentyd gehoorsaam nie. Gedurende hierdie tyd het Jehovah toegelaat dat Israel se vyande, soos die Filistyne, hulle onderdruk. Maar wanneer die Israeliete tot Jehovah om hulp geroep het, het hy rigters—altesaam 12—verwek om hulle te red.

Die tydperk van die rigters wat in die boek Rigters beskryf word, het begin met Otniël en geëindig met Simson, die sterkste man wat nog gelewe het. Die grondwaarheid wat keer op keer in die opwindende verslag in die Bybelboek Rigters na vore kom, is: Gehoorsaamheid aan Jehovah lei tot seëninge, ongehoorsaamheid tot rampspoed.

—Gebaseer op Josua; Rigters; Levitikus 18:24, 25.