Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 12

Hoe kan jy nader aan God kom?

Hoe kan jy nader aan God kom?

1. Luister God na alle gebede?

God nooi alle soorte mense om nader aan hom te kom in gebed (Psalm 65:2). Maar hy luister nie na, of aanvaar nie, alle gebede nie. Byvoorbeeld, God luister nie na die gebede van ’n man wat sy vrou mishandel nie (1 Petrus 3:7). Toe die Israeliete aangehou het om slegte dinge te doen, het God ook geweier om na hulle gebede te luister. Dit is duidelik dat gebed ’n voorreg is. Maar God sal selfs die gebede aanvaar van ’n persoon wat ’n ernstige sonde gedoen het as hy berou toon. – Lees Jesaja 1:15; 55:7.

Kyk na die video Luister God na alle gebede?

2. Hoe moet ons bid?

Gebed is deel van ons aanbidding. Daarom moet ons net tot ons Skepper, Jehovah, bid (Matteus 4:10; 6:9). En omdat ons onvolmaak is, moet ons in die naam van Jesus bid, want hy het vir ons sondes gesterf (Johannes 14:6). Jehovah wil nie hê dat ons dieselfde dinge oor en oor moet opsê in ons gebede nie. Hy wil ook nie hê dat ons geskrewe gebede moet herhaal nie. Hy wil hê dat ons uit ons hart moet bid. – Lees Matteus 6:7; Filippense 4:6, 7.

Ons Skepper kan selfs stille gebede hoor (1 Samuel 1:12, 13). Hy nooi ons om by elke geleentheid te bid, soos aan die begin en die einde van die dag, wanneer ons gaan eet en wanneer ons probleme het. – Lees Psalm 55:22; Matteus 15:36.

3. Hoekom kom Christene bymekaar?

Dit is nie maklik om nader aan God te kom nie, want oral om ons is mense wat nie geloof in God het nie en wat spot met sy belofte van vrede op die aarde (2 Timoteus 3:1, 4; 2 Petrus 3:3, 13). Daarom moet ons mekaar aanmoedig, want ons almal het mekaar nodig. – Lees Hebreërs 10:24, 25.

As ons vriende is met mense wat vir God lief is, help dit ons om nader aan God te kom. By die vergaderinge van Jehovah se Getuies kan ons deur ander se geloof aangemoedig word. – Lees Romeine 1:11, 12.

4. Hoe kan jy nader aan God kom?

Jy kan nader aan Jehovah kom deur na te dink oor wat jy uit sy Woord geleer het. Dink na oor wat jy kan leer by sy bedrywighede, sy raad en sy beloftes. Wanneer ons hieroor bid en nadink, bou dit waardering in ons hart op vir God se liefde en wysheid. – Lees Josua 1:8; Psalm 1:1-3.

Jy kan net na aan God wees as jy op hom vertrou en geloof in hom het. Maar geloof kan vergelyk word met iets wat lewe en wat gevoed moet word. Jy moet jou geloof gereeld voed deur na te dink oor die redes vir jou geloof. – Lees Matteus 4:4; Hebreërs 11:1, 6.

5. Hoe sal dit jou help as jy nader aan God kom?

Jehovah gee om vir mense wat hom liefhet. Hy kan hulle beskerm teen enigiets wat hulle geloof en hulle hoop op die ewige lewe in gevaar kan stel (Psalm 91:1, 2, 7-10). Hy waarsku ons teen lewenswyses wat gevaarlik is vir ons gesondheid en geluk. Jehovah leer ons wat die beste manier is om te lewe. – Lees Psalm 73:27, 28; Jakobus 4:4, 8.