Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Dit kan nie waar wees nie!”

“Dit kan nie waar wees nie!”

EEN man van New York (VSA) vertel: “My seun Jonathan het vriende ’n paar myl van ons af besoek. My vrou, Valentina, het nie daarvan gehou dat hy soontoe gaan nie. Sy het haar altyd oor die verkeer bekommer. Maar hy het in elektronika belanggestel, en sy vriende het ’n werkswinkel gehad waar hy praktiese ondervinding kon opdoen. Ek was by die huis in Wes-Manhattan, New York. My vrou het by haar familie in Puerto Rico gekuier. ‘Jonathan sal enige oomblik terug wees’, het ek gedink. Toe lui die deurklokkie. ‘Dit moet hy wees.’ Dit was nie. Dit was die polisie en die paramedici. ‘Herken u hierdie rybewys?’ het die polisieman gevra. ‘Ja, dis my seun s’n, Jonathan s’n.’ ‘Ons het slegte nuus vir u. Daar was ’n ongeluk, en . . . u seun, . . . u seun is dood.’ My eerste reaksie was: ‘Dit kan nie waar wees nie!’ Daardie skok het ’n wond in ons harte gelaat wat, selfs jare later, nog nie heeltemal genees het nie.”

‘Ons het slegte nuus vir u. Daar was ’n ongeluk, en . . . u seun, . . . u seun is dood.’

’n Vader in Barcelona (Spanje) skryf: “Destyds, in die Spanje van die sestigerjare, was ons ’n gelukkige gesin. Daar was María, my vrou, en ons drie kinders David, Paquito en Isabel, onderskeidelik 13, 11 en 9 jaar oud.

“Eendag in Maart 1963 het Paquito van die skool af tuisgekom en gekla dat hy kwaai hoofpyn het. Ons het geen idee gehad wat die oorsaak kon wees nie—maar ons het gou uitgevind. Drie uur later was hy dood. Breinbloeding het sy lewe kortgeknip.

“Paquito is meer as 30 jaar gelede dood. Ons voel nietemin vandag nog die diep pyn van daardie verlies. Dit is onmoontlik vir ouers om ’n kind te verloor en nie te voel dat hulle iets van hulleself verloor het nie—ongeag hoeveel tyd verloop of hoeveel ander kinders hulle het.”

Hierdie twee ondervindinge, waar ouers ’n kind verloor het, illustreer hoe diep en blywend die wond is wanneer ’n kind sterf. Hoe waar is die woorde tog van ’n dokter wat geskryf het: “Die dood van ’n kind is gewoonlik tragieser en traumatieser as die dood van ’n ouer persoon, want ’n kind is die laaste persoon in die gesin wat ’n mens verwag sal sterf. . . . Die dood van enige kind beteken die verlies van toekomsdrome, verhoudings [seun, skoondogter, kleinkinders], ervarings . . . wat nog nie geniet is nie.” En enige vrou wat ’n baba weens ’n miskraam verloor het, kan ook hierdie intense gevoel van verlies ervaar.

’n Weduwee verduidelik: “My man, Russell, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog as ’n hulpverpleër aan die oorlogsfront in die Stille Oseaan-gebied gewerk. Hy het etlike hewige gevegte aanskou en oorleef. Hy het teruggekeer na die Verenigde State en na ’n stiller lewe. Later het hy ’n bedienaar van God se Woord geword. In sy vroeë sestigerjare het hy die simptome van ’n hartprobleem begin ondervind. Hy het probeer om ’n aktiewe lewe te lei. Toe, op ’n dag in Julie 1988, het hy ’n ernstige hartaanval gehad en gesterf. Sy dood was verpletterend. Ek het nie eens kans gehad om van hom afskeid te neem nie. Hy was nie net my man nie. Hy was my beste vriend. Ons het 40 jaar van ons lewe saam deurgebring. Nou sou ek met ’n buitengewone eensaamheid moes saamleef.”

Dit is net ’n paar van die duisende tragedies waardeur gesinne dwarsdeur die wêreld daagliks getref word. Soos die meeste treurendes sal getuig, is die dood, wanneer dit jou kind, jou man, jou vrou, jou ouer of jou vriend neem, werklik “die laaste vyand”, soos die Christenskrywer Paulus dit genoem het. Dikwels is die eerste natuurlike reaksie op die skokkende tyding ontkenning: “Dit kan nie waar wees nie! Ek glo dit nie.” Ander reaksies volg dikwels, soos ons sal sien.—1 Korinthiërs 15:25, 26.

Maar kom ons beantwoord eers ’n paar belangrike vrae voordat ons die droefheid bespreek. Beteken die dood die einde van daardie persoon? Is daar enige hoop dat ons ons geliefdes weer sal sien?

Daar is ’n ware hoop

Die Bybelskrywer Paulus het ons die hoop gegee dat ons van daardie “laaste vyand”, die dood, verlos kan word. Hy het geskryf: “Die dood [gaan] tot niet gemaak word” (NW). “Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood” (1 Korinthiërs 15:26). Waarom kon Paulus so seker daarvan wees? Omdat hy onderrig is deur die een wat uit die dood opgewek is, Jesus Christus (Handelinge 9:3-19). Dit is ook waarom Paulus kon skryf: “Aangesien die dood deur ’n mens [Adam] is, is die opstanding van die dode ook deur ’n mens [Jesus Christus]. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.”—1 Korinthiërs 15:21, 22.

Jesus was diep bedroef toe hy ’n weduwee van Nain teëgekom en haar dooie seun gesien het. Die Bybelverslag sê: “Toe [Jesus] naby die poort van die stad [Nain] kom, word daar net ’n dooie uitgedra, die enigste seun van sy moeder, en sy was ’n weduwee; en ’n groot menigte van die stad was by haar. En toe die Here haar sien, het Hy innig jammer vir haar gevoel en vir haar gesê: Moenie ween nie! En Hy het nader gegaan en die baar aangeraak. Daarop staan die draers stil. En Hy sê: Jongman, Ek sê vir jou, staan op! En die dooie het regop gaan sit en begin praat; en Hy het hom aan sy moeder teruggegee. En vrees het almal aangegryp terwyl hulle God verheerlik en sê: ’n Groot profeet het onder ons opgestaan; en: God het sy volk besoek.” Let op dat Jesus die weduwee so jammer gekry het dat hy haar seun opgewek het! Dink net wat dit vir die toekoms aandui!—Lukas 7:12-16.

Daar het Jesus iemand, voor ooggetuies, op ’n onvergeetlike wyse opgewek. Dit was ’n waarborg van die opstanding wat hy reeds ’n tydjie voor dié gebeurtenis voorspel het, ’n herstel tot lewe op die aarde onder “’n nuwe hemel”. By daardie geleentheid het Jesus gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan.”—Openbaring 21:1, 3, 4; Johannes 5:28, 29; 2 Petrus 3:13.

Petrus en party ander van die 12 wat Jesus op sy reise vergesel het, was ook ooggetuies van ’n opstanding. Hulle het die verrese Jesus by die See van Galilea hoor praat. Die verslag lui: “Jesus sê vir hulle: Kom eet! En niemand van die dissipels het gewaag om Hom te vra: Wie is U nie? omdat hulle wis dat dit die Here was. En Jesus het gekom en die brood geneem en dit aan hulle gegee, en so ook die vis. Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.”—Johannes 21:12-14.

Petrus kon derhalwe met volle oortuiging skryf: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode.”—1 Petrus 1:3.

Die apostel Paulus het sy vaste vertroue uitgespreek toe hy gesê het: “Terwyl ek alles glo wat in die wet en in die profete geskrywe is, en ’n hoop op God het, ’n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges.”—Handelinge 24:14, 15.

Miljoene kan dus die vaste hoop hê om hulle geliefdes weer lewend op die aarde te sien, maar onder omstandighede wat heeltemal anders sal wees. Wat sal daardie omstandighede wees? Verdere besonderhede oor die Bybelse hoop vir ons geliefdes wat gesterf het, sal in die laaste deel van hierdie brosjure, “’n Vaste hoop vir die dooies”, bespreek word.

Maar laat ons eers vrae bespreek wat dalk by jou opkom as jy oor die dood van ’n geliefde treur: Is dit normaal om so te treur? Hoe kan ek my smart verwerk? Wat kan ander doen om my te help? Hoe kan ek ander help wat treur? En van die allergrootste belang: Wat sê die Bybel oor ’n vaste hoop vir die dooies? Sal ek my geliefdes ooit weer sien? En waar?