Die eerste brief aan die Korintiërs 15:1-58

  • Opstanding van Christus (1-11)

  • Opstanding die grondslag vir geloof (12-19)

  • Christus se opstanding ’n waarborg (20-34)

  • Fisiese liggaam, geestelike liggaam (35-49)

  • Liggame wat nie kan sterf of vergaan nie (50-57)

  • Baie om in werk van die Here te doen (58)

15  Broers, ek herinner julle nou aan die goeie nuus wat ek aan julle verkondig het,+ wat julle ook aanvaar het en waarvoor julle ook julle standpunt ingeneem het.  Julle word ook daardeur gered as julle stewig vashou aan die goeie nuus wat ek aan julle verkondig het, tensy julle verniet gelowiges geword het.  Want een van die eerste dinge wat ek aan julle oorgedra het, was iets wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het, volgens die Skrif,+  en dat hy begrawe is,+ ja, dat hy op die derde dag+ opgewek is,+ volgens die Skrif,+  en dat hy aan Seʹfas*+ verskyn het, en toe aan die Twaalf.+  Daarna het hy aan meer as 500 broers op dieselfde tyd verskyn.+ Die meeste van hulle lewe nou nog, maar party het al gesterf.*  Daarna het hy aan Jakobus+ verskyn, en toe aan al die apostels.+  Maar laaste van almal het hy ook aan my verskyn+ asof aan iemand wat te vroeg gebore is.  Want ek is die minste van die apostels, en ek is dit nie waardig om ’n apostel genoem te word nie omdat ek die gemeente van God vervolg het.+ 10  Maar deur God se onverdiende goedheid is ek wat ek is. En sy onverdiende goedheid teenoor my was nie verniet nie, want ek het harder as hulle almal gewerk. Tog was dit nie ek nie, maar die onverdiende goedheid van God wat met my is. 11  Of dit nou ek of hulle is, dit is hoe ons preek en dit is hoe julle geglo het. 12  As daar dan verkondig word dat Christus uit die dood opgewek is,+ hoekom sê party van julle dan dat daar geen opstanding van die dooies is nie? 13  As daar geen opstanding van die dooies is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 14  Maar as Christus nie opgewek is nie, is ons predikingswerk beslis verniet en is julle geloof ook verniet. 15  Dan word ons ook nog as valse getuies van God beskou,+ want ons het teen God getuig deur te sê dat hy die Christus opgewek het.+ Maar God sou Christus nie opgewek het as die dooies in werklikheid nie opgewek gaan word nie. 16  Want as die dooies nie opgewek gaan word nie, is Christus ook nie opgewek nie. 17  En as Christus nie opgewek is nie, beteken julle geloof niks. Julle bly in julle sondes.+ 18  En dan het dié wat in eenheid met Christus gesterf* het, vir ewig verdwyn.+ 19  As ons net in hierdie lewe op Christus gehoop het, is ons slegter af as enigiemand anders. 20  Maar nou is Christus wel uit die dood opgewek, en hy is die eerste een wat opgewek is van dié wat gesterf het.*+ 21  Want aangesien die dood deur ’n mens gekom het,+ kom die opstanding van die dooies ook deur ’n mens.+ 22  Want net soos almal in Adam sterf,+ só sal almal ook in die Christus lewend gemaak word.+ 23  Maar elkeen in die regte volgorde: Christus, die een wat eerste opgewek is,*+ en daarna dié wat aan die Christus behoort gedurende sy teenwoordigheid.+ 24  Dan, aan die einde, sal hy die Koninkryk aan sy God en Vader oorgee, wanneer hy alle regering en alle gesag en mag tot ’n einde gebring het.+ 25  Want hy moet as koning regeer totdat God alle vyande onder sy voete geplaas het.+ 26  En die laaste vyand, die dood, sal vernietig word.+ 27  Want God “het alles onder sy voete geplaas”.+ Maar wanneer hy sê dat ‘alles onder sy voete geplaas is’,+ is dit duidelik dat dit nie die Een insluit wat alles aan hom onderwerp het nie.+ 28  Maar wanneer alles aan hom onderwerp is, sal die Seun hom ook onderwerp aan die Een wat alles aan hom onderwerp het,+ sodat God alles vir elkeen kan wees.+ 29  Anders, wat sal die persone bereik wat gedoop word met die doel om dooies te wees?+ As die dooies glad nie opgewek gaan word nie, hoekom word hulle ook met hierdie doel gedoop? 30  Hoekom is ons ook elke uur* in gevaar?+ 31  Ek kom elke dag voor die dood te staan. Broers, dit is so seker as wat ek trots is op julle in Christus Jesus, ons Here. 32  As ek, soos ander mense,* in Efeʹse+ met wilde diere geveg het, wat help dit my? As die dooies nie opgewek gaan word nie, “laat ons eet en drink, want môre gaan ons sterf”.+ 33  Moenie mislei word nie. Slegte assosiasie bederf goeie gewoontes.*+ 34  Kom tot julle sinne en doen wat reg is. Moenie sondig nie, want party van julle het geen kennis van God nie. Ek sê dit om julle skaam te maak. 35  Tog sal iemand vra: “Hoe gaan die dooies opgewek word? Ja, met watter soort liggaam kom hulle?”+ 36  Jou onredelike mens! Wat jy saai, moet eers sterf voordat dit lewend gemaak word. 37  En wat jy saai, is nie die liggaam wat sal ontwikkel nie. Dit is maar net ’n korrel, of dit nou koring of ’n ander soort saad is, 38  maar God gee dit ’n liggaam volgens sy wil, en hy gee aan elkeen van die sade sy eie liggaam. 39  Nie alle liggame* is dieselfde nie. Die liggame* van mense, vee, voëls en visse verskil almal van mekaar. 40  En daar is hemelse liggame+ en aardse liggame,+ maar die prag van die hemelse liggame is anders as die prag van die aardse liggame. 41  Die son, die maan en die sterre het elkeen sy eie soort prag.+ Om die waarheid te sê, die prag van een ster is anders as dié van ’n ander ster. 42  So is dit ook met die opstanding van die dooies. Die liggaam wat gesaai word, vergaan, maar die liggaam wat opgewek word, vergaan nie.+ 43  Dit word in oneer gesaai, maar dit word in prag opgewek.+ Dit word in swakheid gesaai, maar dit word in krag opgewek.+ 44  Dit word as ’n fisiese liggaam gesaai, maar dit word as ’n geestelike liggaam opgewek. As daar ’n fisiese liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. 45  So is daar geskryf: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende persoon* geword.”+ Die laaste Adam het ’n lewegewende gees geword.+ 46  Maar wat geestelik is, is nie eerste nie. Wat fisies is, is eerste, en daarna kom wat geestelik is. 47  Die eerste mens is uit die aarde en is van stof gemaak.+ Die tweede mens is uit die hemel.+ 48  Dié wat God van stof gemaak het, is soos die eerste een wat God van stof gemaak het, en dié in die hemel is soos die een wat uit die hemel gekom het.+ 49  Ons het geword soos die een wat van stof gemaak is,+ en net so sal ons ook word soos die een wat uit die hemel is.+ 50  Maar ek sê vir julle, broers, dat vlees en bloed God se Koninkryk nie kan erf nie, en dit wat kan vergaan, erf ook nie dit wat nie kan vergaan nie. 51  Kyk! Ek vertel julle ’n heilige geheim: Ons sal nie almal sterf* nie, maar ons sal almal verander word,+ 52  in ’n oomblik, in ’n oogwink, wanneer daar op die laaste trompet geblaas word. Want daar sal op die trompet geblaas word,+ en die dooies sal opgewek word met liggame wat nie kan vergaan nie, en ons sal verander word. 53  Want die een wat kan vergaan, verander in een wat nie kan vergaan nie,+ en die een wat kan sterf, verander in een wat nie kan sterf nie.+ 54  Maar wanneer die een wat kan vergaan, verander in een wat nie kan vergaan nie, en die een wat kan sterf, verander in een wat nie kan sterf nie, sal die volgende woorde vervul word: “Die dood is vir ewig weggeneem.”+ 55  “Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”+ 56  Die angel wat die dood veroorsaak, is die sonde,+ en die Wet gee sonde sy krag.+ 57  Maar ons dank God, want hy gee ons die oorwinning deur ons Here Jesus Christus!+ 58  Daarom, my geliefde broers, wees standvastig,+ onbeweeglik, terwyl julle altyd baie het om in die werk van die Here te doen,+ want julle weet dat julle werk vir die Here nie verniet is nie.+

Voetnote

D.w.s. Petrus.
Lett. “gaan slaap”.
Lett. “gaan slaap”.
Of “die eersteling van dié wat in die dood gaan slaap het”.
Of “die eersteling”. Sien Woordelys.
Of “die hele tyd”.
Of moontlik “uit ’n menslike oogpunt”.
Of “sedes”.
Lett. “vlees”.
Lett. “vlees”.
Of “siel”.
Lett. “gaan slaap”.