Die eerste brief aan die Korintiërs 7:1-40

  • Raad vir ongetroudes en getroudes (1-16)

  • Bly soos jy was toe jy geroep is (17-24)

  • Ongetroudes en weduwees (25-40)

    • Voordele van ongetroude lewe (32-35)

    • Trou “net in die Here” (39)

7  Ek wil nou die dinge bespreek waaroor julle aan my geskryf het. Dit is beter vir ’n man om nie aan ’n vrou te raak* nie,  maar omdat seksuele onsedelikheid* so algemeen is, moet elke man sy eie vrou hê,+ en elke vrou haar eie man.+  Laat die man sy plig teenoor sy vrou nakom, en laat die vrou ook dieselfde teenoor haar man doen.+  Die vrou het nie gesag oor haar eie liggaam nie, maar haar man het. Net so het die man nie gesag oor sy eie liggaam nie, maar sy vrou het.  Moenie seksuele omgang van mekaar weerhou nie, behalwe as julle albei saam besluit dat julle dit vir ’n spesifieke tyd sal doen sodat julle tyd kan opsysit vir gebed. Daarna moet julle weer bymekaarkom, sodat Satan julle nie kan verlei as gevolg van ’n gebrek aan selfbeheersing nie.  Wat ek hierbo sê, is iets wat julle mag doen, maar dit is nie ’n opdrag nie.  Ek wens dat alle mense soos ek is. Maar elkeen het sy eie gawe+ van God, die een op hierdie manier, die ander op daardie manier.  En vir dié wat nie getroud is nie en vir die weduwees sê ek dat dit vir hulle beter is as hulle bly soos ek is.+  Maar as hulle nie selfbeheersing het nie, laat hulle trou, want dit is beter om te trou as om van begeerte te brand.+ 10  Aan die getroudes gee ek instruksies, nie ek nie, maar die Here, dat ’n vrou nie van haar man moet weggaan nie.+ 11  Maar as sy wel weggaan, moet sy ongetroud bly of teruggaan na haar man toe.* ’n Man moet ook nie sy vrou verlaat nie.+ 12  Maar vir die ander sê ek, ja ek, nie die Here nie:+ As enige broer ’n ongelowige vrou het en sy bereid is om by hom te bly, moet hy haar nie verlaat nie. 13  En as ’n vrou ’n ongelowige man het en hy bereid is om by haar te bly, moet sy haar man nie verlaat nie. 14  Want die ongelowige man is geheilig as gevolg van sy vrou, en die ongelowige vrou is geheilig as gevolg van haar gelowige man.* Anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig. 15  Maar as die ongelowige kies om weg te gaan, laat hom weggaan. Onder sulke omstandighede is die gelowige maat* nie gebind nie, maar God het julle geroep om in vrede te lewe.+ 16  Want vrou, hoe weet jy of jy nie dalk jou man sal red nie?+ Of man, hoe weet jy of jy nie dalk jou vrou sal red nie? 17  Laat elkeen lewe volgens die omstandighede wat Jehovah* vir hom toegelaat het en soos God hom geroep het.+ Ek gee hierdie opdrag aan al die gemeentes. 18  Was iemand reeds besny toe hy geroep is?+ Laat hom so bly. Is iemand geroep toe hy nie besny was nie? Laat hom nie besny word nie.+ 19  Om besny te wees, is nie belangrik nie, en om nie besny te wees nie, is nie belangrik nie.+ Wat wel belangrik is, is om aan God se gebooie gehoorsaam te wees.+ 20  Laat elkeen bly soos hy was toe hy geroep is.+ 21  Was jy ’n slaaf toe jy geroep is? Moenie dat dit jou bekommer nie.+ Maar as jy die geleentheid het om vry te word, maak gebruik daarvan. 22  Want enigeen wat ’n slaaf was toe hy in die Here geroep is, is ’n vrygelatene en behoort aan die Here.+ Net so is enigeen wat ’n vryman was toe hy geroep is, ’n slaaf van Christus. 23  Julle is met ’n prys gekoop.+ Hou op om slawe van mense te word. 24  Broers, laat elkeen voor God bly soos hy was toe hy geroep is. 25  Vir die maagde* het ek nie ’n bevel van die Here nie, maar ek gee my mening+ as iemand wat betroubaar is weens die genade wat die Here betoon het. 26  Omdat ons in hierdie moeilike tyd lewe, dink ek dus dat dit vir ’n mens beter is om te bly soos hy is. 27  Is jy gebind aan ’n vrou? Hou op om te probeer vrykom.+ Is jy nie aan ’n vrou gebind nie? Hou op om ’n vrou te soek. 28  Maar al trou jy, pleeg jy nie sonde nie. En as ’n maagd trou, pleeg so iemand nie sonde nie. Mense wat wel trou, sal probleme ondervind.* Maar ek probeer julle dit spaar. 29  En ek wil ook byvoeg, broers: Die oorblywende tyd is kort.+ Laat dié wat vrouens het, van nou af wees asof hulle nie vrouens het nie, 30  en dié wat huil, soos dié wat nie huil nie, en dié wat bly is, soos dié wat nie bly is nie, en dié wat koop, soos dié wat nie besit nie, 31  en dié wat van die wêreld gebruik maak, soos dié wat dit nie ten volle gebruik nie, want die toneel van hierdie wêreld is besig om te verander. 32  Ja, ek wil hê dat julle sonder bekommernisse moet wees. Die ongetroude man is besorg oor die dinge van die Here, hoe hy die Here se goedkeuring kan verkry. 33  Maar die getroude man is besorg oor die dinge van die wêreld,+ hoe hy sy vrou se goedkeuring kan verkry, 34  en hy is verdeeld. En die ongetroude vrou en die maagd is besorg oor die dinge van die Here,+ sodat sy in haar liggaam sowel as in haar gees heilig kan wees. Maar die getroude vrou is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy haar man se goedkeuring kan verkry. 35  Maar ek sê dit tot julle eie voordeel, nie om beperkings op julle te plaas nie, maar om julle aan te spoor om te doen wat gepas is en om die Here heelhartig te bly dien sonder dat julle aandag afgetrek word. 36  Maar as iemand dink dat hy hom onbehoorlik gedra deur ongetroud te bly* en hy verby die bloei van die jeug is, laat hom doen wat hy wil. Hy sondig nie. Laat hulle trou.+ 37  Maar as iemand in sy hart vasbeslote is en nie die behoefte het nie, maar hy beheer oor homself het en in sy hart besluit het om ongetroud te bly,* sal hy goed doen.+ 38  Die een wat trou,* doen ook goed, maar die een wat nie trou nie, doen beter.+ 39  ’n Vrou is gebind solank as wat haar man lewe.+ Maar as haar man sterf,* is sy vry om te trou met wie sy wil, maar net in die Here.+ 40  Maar in my opinie is sy gelukkiger as sy bly soos sy is. Ek dink beslis dat ek ook God se gees het.

Voetnote

Verwys na seksuele kontak.
Die meervoud van die Griekse woord por·neiʹa. Sien Woordelys.
Of “weer met haar man versoen raak”.
Lett. “die broer”.
Lett. “’n broer of ’n suster”.
Of “dié wat nooit getrou het nie”.
Lett. “sal verdrukking in hulle vlees hê”.
Of “ten opsigte van sy maagdelikheid”.
Of “om sy maagdelikheid te bewaar”.
Of “wat sy maagdelikheid in die huwelik gee”.
Lett. “gaan slaap”.