Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK VIER

“Waar u gaan, sal ek gaan”

“Waar u gaan, sal ek gaan”

1, 2. (a) Beskryf Rut en Naomi se reis en waarom hulle diep bedroef was. (b) Hoe het Rut se reis verskil van Naomi s’n?

RUT het langs Naomi geloop op ’n pad wat oor die hoë, winderige vlaktes van Moab gestrek het. Hulle was nou alleen, twee klein figure in ’n uitgestrekte landskap. Stel jou voor hoe Rut opmerk dat die namiddagskaduwees al hoe langer word en dan na haar skoonmoeder kyk terwyl sy wonder of dit tyd is om ’n rusplek vir die nag te vind. Sy was baie lief vir Naomi en sou alles in haar vermoë doen om na haar om te sien.

2 Albei vroue was diep bedroef. Naomi was nou al jare lank ’n weduwee, maar sy het oor onlangser verliese getreur—die dood van haar twee seuns, Giljon en Maglon. Rut het ook getreur. Maglon was haar man. Sy en Naomi was op pad na dieselfde plek, die dorp Betlehem in Israel. Tog het hulle reise in sekere sin verskil. Naomi was op pad huis toe. Rut het die onbekende aangedurf en het haar familie, haar geboorteland en al sy gebruike—insluitende sy gode—agtergelaat.—Lees Rut 1:3-6.

3. Die antwoorde op watter vrae sal ons help om die geloof van Rut na te volg?

3 Wat sou ’n jong vrou beweeg om so ’n drastiese verandering te maak? Waar sou Rut die krag vandaan kry om ’n nuwe lewe te bou en om vir Naomi te sorg? Die antwoorde op hierdie vrae sal ons laat besef dat ons die geloof van Rut, die Moabitiese vrou, in baie opsigte kan navolg. (Sien ook die venster  “’n Meesterstuk in die kleine”.) Kom ons kyk eerstens wat daartoe gelei het dat hierdie twee vroue op daardie lang pad na Betlehem was.

’n Gesin uitmekaargeskeur deur tragedie

4, 5. (a) Waarom het Naomi se gesin in Moab gaan woon? (b) Voor watter uitdagings het Naomi in Moab te staan gekom?

4 Rut het grootgeword in Moab, ’n klein land wat oos van die Dooie See gelê het. Die gebied het grootliks bestaan uit hoë, yl beboste tafellande waardeur diep klowe geloop het. “Die gebied van Moab” was meestal ’n vrugbare landbougebied, selfs wanneer Israel deur hongersnood geteister is. Trouens, dit is waarom Rut Maglon en sy familie ontmoet het.—Rut 1:1.

5 ’n Hongersnood in Israel het Naomi se man, Elimeleg, laat besluit om met sy vrou en twee seuns hulle geboorteland te verlaat en as vreemdelinge in Moab te gaan woon. Die verandering het ongetwyfeld vir al die gesinslede uitdagings gebied wat hulle geloof betref, aangesien Israeliete gereeld moes aanbid by die heilige plek wat Jehovah aangewys het (Deut. 16:16, 17). Naomi het daarin geslaag om haar geloof lewend te hou. Nietemin was sy diep bedroef toe haar man gesterf het.—Rut 1:2, 3.

6, 7. (a) Waarom was Naomi dalk besorg toe haar seuns met Moabitiese vroue getrou het? (b) Waarom was die manier waarop Naomi haar skoondogters behandel het, prysenswaardig?

6 Naomi was heel moontlik later weer bedroef toe haar seuns met Moabitiese vroue getrou het (Rut 1:4). Sy het geweet dat haar nasie se voorvader, Abraham, groot moeite gedoen het om ’n vrou vir sy seun, Isak, te vind onder sy eie volk, wat aanbidders van Jehovah was (Gen. 24:3, 4). Later het die Mosaïese Wet die Israeliete gewaarsku dat hulle nie hulle seuns en dogters met uitlanders moet laat trou nie, uit vrees dat God se volk tot afgodediens verlei sou word.—Deut. 7:3, 4.

7 Nietemin het Maglon en Giljon met Moabitiese vroue getrou. As Naomi besorg of teleurgesteld was, het sy blykbaar nog steeds opregte goedhartigheid en liefde teenoor haar skoondogters, Rut en Orpa, betoon. Miskien het sy gehoop dat hulle ook eendag, soos sy, Jehovah sou begin aanbid. Hoe dit ook al sy, Rut sowel as Orpa was lief vir Naomi. Daardie goeie verhouding het hulle gehelp toe tragedie hulle getref het. Albei die jong vroue het weduwees geword nog voordat hulle kinders gekry het.—Rut 1:5.

8. Wat het Rut moontlik tot Jehovah aangetrek?

8 Het Rut se godsdiensagtergrond haar vir so ’n tragedie voorberei? Waarskynlik nie. Die Moabiete het baie gode aanbid, waarvan Kamos die vernaamste was (Num. 21:29). Die Moabitiese godsdiens was blykbaar nie vry van die wreedheid en afgryse wat destyds algemeen was nie, insluitende kinderofferandes. Enigiets wat Rut by Maglon of Naomi oor die liefdevolle en barmhartige God van Israel, Jehovah, geleer het, moes vir haar opvallend anders gewees het. Jehovah se heerskappy is gegrond op liefde, nie verskrikking nie. (Lees Deuteronomium 6:5.) Ná Rut se verpletterende verlies het sy moontlik selfs nader aan Naomi gekom en graag na die ouer vrou geluister terwyl sy gepraat het oor die almagtige God, Jehovah, sy wonderlike werke en die liefdevolle, barmhartige manier waarop hy met sy volk handel.

Rut het gedurende ’n tyd van droefheid en verlies wyslik nader aan Naomi gekom

9-11. (a) Watter besluit het Naomi, Rut en Orpa geneem? (b) Wat kan ons leer uit die tragedies wat Naomi, Rut en Orpa getref het?

9 Naomi was natuurlik gretig om nuus oor haar geboorteland te ontvang. Eendag het sy, dalk by ’n reisende koopman, gehoor dat die hongersnood in Israel verby is. Jehovah het sy aandag op sy volk gerig. Betlehem, wat “Huis van brood” beteken, het weer sy naam gestand gedoen. Naomi het besluit om terug te gaan huis toe.—Rut 1:6.

10 Wat sou Rut en Orpa doen? (Rut 1:7). Hulle het geheg geraak aan Naomi as gevolg van wat hulle saam deurgemaak het. Veral Rut het blykbaar aangetrokke gevoel tot Naomi se goedhartigheid en haar onwrikbare geloof in Jehovah. Die drie weduwees het saam na Juda vertrek.

11 Die verhaal van Rut herinner ons daaraan dat tragedies en verliese goeie, eerlike mense sowel as slegte mense tref (Pred. 9:2, 11). Dit toon ook vir ons dat dit verstandig is om vertroosting en bemoediging by ander te soek wanneer ons ’n ondraaglike verlies gely het—veral by diegene wat toevlug soek by Jehovah, die God wat Naomi aanbid het.—Spr. 17:17.

Rut se lojale liefde

12, 13. Waarom wou Naomi hê dat Rut en Orpa eerder na hulle huise moes terugkeer as om saam met haar te gaan, en hoe het die twee jong vroue eers gereageer?

12 Die drie weduwees het al kilometers ver geloop toe Naomi haar oor iets anders begin bekommer. Sy het gedink aan die twee jong vroue by haar en aan die liefde wat hulle teenoor haar en haar seuns betoon het. Dit het haar gekwel dat sy dalk nou hulle las selfs swaarder maak. Wat kon sy vir hulle in Betlehem doen as hulle hulle geboorteland verlaat en saam met haar kom?

13 Uiteindelik het Naomi gesê: “Gaan, keer terug, elkeen na die huis van haar moeder. Mag Jehovah liefderyke goedhartigheid teenoor julle bewys, net soos julle dit teenoor die manne wat nou dood is en teenoor my bewys het.” Sy het ook die hoop uitgespreek dat Jehovah hulle sou beloon met ’n nuwe huweliksmaat en ’n nuwe lewe. “Toe het sy hulle gesoen”, sê die verslag, “en hulle het hulle stem begin verhef en gehuil.” Dit is nie moeilik om te sien waarom Rut en Orpa so geheg was aan hierdie goedhartige en onselfsugtige vrou nie. Hulle albei het bly sê: “Nee, maar saam met u sal ons na u volk terugkeer.”—Rut 1:8-10.

14, 15. (a) Waarna het Orpa teruggekeer? (b) Hoe het Naomi Rut probeer oorreed om haar te verlaat?

14 Maar dit was nie so maklik om Naomi van gedagte te laat verander nie. Sy het oortuigend geredeneer dat daar min is wat sy vir hulle in Israel kon doen, aangesien sy nie ’n man gehad het om vir haar te sorg nie, geen seuns met wie hulle kon trou nie en ook geen vooruitsig op enige van hierdie dinge nie. Sy het gesê dat haar onvermoë om vir hulle te sorg, ’n bron van groot bitterheid vir haar is. Naomi se woorde het vir Orpa sin gemaak. Sy het familie in Moab gehad, ’n ma, en ’n huis waarheen sy kon terugkeer. Dit het werklik praktieser gelyk om in Moab te bly. Sy het Naomi dus met ’n swaar hart totsiens gesoen en teruggedraai.—Rut 1:11-14.

15 Wat van Rut? Naomi se argumente het ook vir haar gegeld. Tog lees ons: “Wat Rut betref, sy het by haar gebly.” Naomi het miskien al begin stap toe sy opmerk dat Rut haar volg. Sy het beswaar gemaak: “Kyk! Jou weduwee-skoonsuster het na haar volk en haar gode toe teruggekeer. Keer saam met jou weduwee-skoonsuster terug” (Rut 1:15). Naomi se woorde bring ’n belangrike feit aan die lig. Orpa het nie net na haar volk teruggekeer nie, maar ook na “haar gode”. Sy was tevrede daarmee om ’n aanbidder van Kamos en ander valse gode te bly. Het Rut ook so gevoel?

16-18. (a) Hoe het Rut lojale liefde getoon? (b) Wat kan ons by Rut oor lojale liefde leer? (Sien ook die prente van die twee vroue.)

16 Terwyl Rut op daardie eensame pad voor Naomi gestaan het, was daar geen onsekerheid, geen twyfel in haar hart nie. Dit het oorgeloop van liefde vir Naomi—en vir die God wat Naomi gedien het. Rut het dus gesê: “Moenie by my pleit om u te verlaat nie, om terug te draai en u nie te vergesel nie; want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u oornag, sal ek oornag. U volk sal my volk wees, en u God my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. Mag Jehovah so aan my doen en daaraan toevoeg as enigiets anders as die dood my en u sou skei.”—Rut 1:16, 17.

“U volk sal my volk wees, en u God my God”

17 Rut se woorde is merkwaardig—in so ’n mate dat dit vandag nog, ongeveer 3 000 jaar ná haar dood, weerklink. Dit gee volmaakte uitdrukking aan ’n kosbare eienskap, lojale liefde. Rut se liefde was so sterk en so lojaal dat sy by Naomi sou bly, waar sy ook al gaan. Net die dood kon hulle skei. Naomi se volk sou haar volk word, want Rut was bereid om alles wat sy in Moab geken het, agter te laat—selfs die Moabitiese gode. In teenstelling met Orpa kon Rut heelhartig sê dat sy wou hê dat Naomi se God, Jehovah, ook haar God moet wees. *

18 Hulle het dus verder gereis, nou net die twee van hulle, op die lang pad na Betlehem. Volgens een skatting kon die reis tot ’n week geduur het. Maar die twee bedroefde vroue het sekerlik ’n mate van vertroosting by mekaar gevind.

19. Hoe dink jy kan ons Rut se lojale liefde navolg in ons gesin, in ons vriendskappe en in die gemeente?

19 Daar is baie droefheid in hierdie wêreld. In ons tyd, wat die Bybel beskryf as ‘kritieke tye wat moeilik is om deur te kom’, het ons te kampe met allerhande verliese sowel as droefheid (2 Tim. 3:1). Die eienskap wat Rut aan die dag gelê het, is vandag dus belangriker as ooit tevore. Lojale liefde—die soort liefde wat hom aan iets of iemand heg en eenvoudig weier om te laat los—is ’n sterk krag ten goede in hierdie donker wêreld. Ons het dit nodig in die huwelik, in gesinsverhoudings, in vriendskappe en in die Christengemeente. (Lees 1 Johannes 4:7, 8, 20.) Wanneer ons hierdie soort liefde aankweek, volg ons Rut se uitsonderlike voorbeeld.

Rut en Naomi in Betlehem

20-22. (a) Watter uitwerking het die lewe in Moab op Naomi gehad? (b) Watter verkeerde beskouing het Naomi van haar beproewinge gehad? (Sien ook Jakobus 1:13.)

20 Dit is natuurlik een ding om lojale liefde in woorde uit te druk; dit is iets heeltemal anders om die eienskap uit te leef. Rut het nou die geleentheid gehad om lojale liefde nie net teenoor Naomi te betoon nie, maar ook teenoor die God wat sy gekies het om te aanbid, Jehovah.

21 Die twee vroue het uiteindelik in Betlehem aangekom, ’n dorpie ongeveer tien kilometer suid van Jerusalem. Naomi en haar gesin was blykbaar heel bekend in daardie dorpie, want almal daar het gepraat oor die feit dat Naomi teruggekeer het. Die vroue het na haar gestaar en gesê: “Is dit Naomi?” Klaarblyklik het haar tyd in Moab haar baie verander; haar voorkoms en liggaamshouding het die tekens van jarelange swaarkry en droefheid gedra.—Rut 1:19.

22 Naomi het vir daardie familielede en buurvroue van lank gelede vertel hoe bitter die lewe vir haar geword het. Sy het selfs gevoel dat haar naam verander moet word van Naomi, wat “My aangenaamheid” beteken, na Mara, wat “Bitter” beteken. Arme Naomi! Soos Job voor haar, het sy gedink dat Jehovah God die beproewinge oor haar gebring het.—Rut 1:20, 21; Job 2:10; 13:24-26.

23. Waaraan het Rut begin dink, en watter voorsiening het die Mosaïese Wet vir die armes gemaak? (Sien ook die voetnoot.)

23 Terwyl die twee vroue hulle in Betlehem gevestig het, het Rut begin dink aan wat die beste manier sou wees om vir haar en Naomi te sorg. Sy het geleer dat die Wet wat Jehovah aan sy volk in Israel gegee het, ’n liefdevolle voorsiening vir die armes ingesluit het. Hulle is toegelaat om tydens die oestyd na die landerye te gaan en die oesoorblyfsels wat die snyers agtergelaat het, op te tel en om wat nog aan die rande van die landerye gestaan het, bymekaar te maak. *Lev. 19:9, 10; Deut. 24:19-21.

24, 25. Wat het Rut gedoen toe sy toevallig by die landerye van Boas gekom het, en wat het dit behels om oesoorblyfsels in te samel?

24 Dit was die tyd van die garsoes, waarskynlik in April volgens ons moderne kalender, en Rut het na die landerye gegaan om te sien wie haar sou toelaat om oesoorblyfsels in te samel. Sy het toevallig by die landerye van ’n man genaamd Boas gekom, ’n ryk grondeienaar en ’n familielid van Naomi se afgestorwe man, Elimeleg. Hoewel die Wet haar die reg gegee het om oesoorblyfsels in te samel, het sy dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie; sy het die jong man wat oor die snyers toesig gehou het, toestemming gevra om te werk. Hy het ingestem, en Rut het aan die werk gespring.—Rut 1:22–2:3, 7.

25 Stel jou voor hoe Rut die snyers volg. Terwyl hulle die gars met hulle vuursteensekels gesny het, het sy gebuk om op te tel wat hulle laat val of agtergelaat het, die stingels in gerwe gebind en dit na ’n plek geneem waar sy later die graan kon uitslaan. Dit was stadige, uitputtende werk, en dit het moeiliker geword namate die oggend aangestap het. Maar Rut het aangehou werk en slegs ’n blaaskans geneem om die sweet van haar voorkop af te vee en om ’n eenvoudige middagete te eet in “die huis”—waarskynlik ’n skuiling wat gebou is om vir die werkers skaduwee te bied.

Rut was bereid om harde, nederige werk te doen om vir haar en Naomi te sorg

26, 27. Watter soort mens was Boas, en hoe het hy Rut behandel?

26 Rut het heel moontlik nie gehoop of verwag om opgemerk te word nie, maar dit is wat gebeur het. Boas het haar gesien en die jong voorman gevra wie sy is. Boas was ’n merkwaardige man van geloof en het sy werkers—van wie party dalk dagarbeiders of selfs uitlanders was—gegroet met die woorde: “Mag Jehovah met julle wees.” En hulle het hom op dieselfde wyse gegroet. Hierdie ouer, geestelikgesinde man het vaderlike belangstelling in Rut getoon.—Rut 2:4-7.

27 Boas het Rut “my dogter” genoem en haar aangeraai om aan te hou om na sy landerye te kom om oesoorblyfsels in te samel en om naby die jong vroue van sy huishouding te bly sodat sy nie deur enige van die werkers lastig geval sou word nie. Hy het seker gemaak dat sy tydens die middagete kos gehad het om te eet. (Lees Rut 2:8, 9, 14.) Maar bowenal het hy haar geprys en probeer aanmoedig. Hoe so?

28, 29. (a) Watter soort reputasie het Rut gehad? (b) Hoe kan jy, soos Rut, jou toevlug tot Jehovah neem?

28 Toe Rut vir Boas vra wat sy, ’n uitlander, gedoen het om sy guns te geniet, het hy gesê dat hy gehoor het van alles wat sy vir haar skoonmoeder, Naomi, gedoen het. Naomi het waarskynlik haar geliefde Rut by die vroue van Betlehem geprys, en Boas het hiervan te hore gekom. Hy het ook geweet dat Rut Jehovah begin aanbid het, want hy het gesê: “Mag Jehovah jou handelswyse beloon, en mag daar vir jou ’n volmaakte loon wees van Jehovah, die God van Israel, onder wie se vleuels jy toevlug kom soek het.”—Rut 2:12.

29 Hoe moes hierdie woorde Rut tog aangemoedig het! Sy het inderdaad besluit om toevlug onder Jehovah God se vleuels te soek, soos ’n jong voël wat veilig teenaan sy beskermende ouer sit. Sy het Boas bedank vir sy gerusstellende woorde aan haar. En sy het aangehou werk totdat dit donker geword het.—Rut 2:13, 17.

30, 31. Wat kan ons by Rut oor werksgewoontes, waardering en lojale liefde leer?

30 Rut se dade van geloof is vandag ’n uitstekende voorbeeld vir ons almal wat in hierdie moeilike ekonomiese tye swaarkry. Sy het nie gedink dat ander haar enigiets skuld nie en het dus alles waardeer wat sy ontvang het. Sy het dit glad nie as ’n skande beskou om lank en hard te werk ten behoewe van iemand vir wie sy lief is nie, al was dit nederige werk. Sy het wyse raad oor hoe om veilig en in goeie geselskap te werk, dankbaar aanvaar en dit gevolg. Sy het bowenal nooit uit die oog verloor wie haar ware toevlug is nie—haar beskermende Vader, Jehovah God.

31 As ons, soos Rut, lojale liefde toon en haar voorbeeld van nederigheid, vlytigheid en waardering volg, sal ons geloof ook ’n waardevolle voorbeeld vir ander word. Maar hoe het Jehovah vir Rut en Naomi gesorg? Ons sal dit in die volgende hoofstuk bespreek.

^ par. 17 Dit is opmerkenswaardig dat Rut nie net die onpersoonlike titel “God” gebruik het, soos baie uitlanders sou gedoen het nie; sy het ook God se persoonlike naam, Jehovah, gebruik. The Interpreter’s Bible sê: “Die skrywer beklemtoon sodoende dat hierdie uitlander die ware God aangehang het.”

^ par. 23 Dit was ’n merkwaardige wet, sekerlik anders as enigiets waarmee Rut in haar geboorteland vertroud was. In die eertydse Nabye Ooste is weduwees sleg behandel. Een naslaanwerk sê: “Ná haar man se dood was ’n weduwee gewoonlik van haar seuns afhanklik; as sy nie seuns gehad het nie, moes sy haar dalk as ’n slaaf verkoop, ’n prostituut word of sterf.”