Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK NEGE

Sy het goeie oordeel aan die dag gelê

Sy het goeie oordeel aan die dag gelê

1-3. (a) Hoe het dit gekom dat Abigail se huishouding in gevaar verkeer het? (b) Wat sal ons oor hierdie merkwaardige vrou uitvind?

ABIGAIL het die paniek in die jong man se oë gesien. Hy was vreesbevange—en met goeie rede. Groot gevaar het gedreig. Op daardie oomblik was omtrent 400 krygsmanne in aantog, vasbeslote om elke man in die huishouding van Nabal, Abigail se man, dood te maak. Waarom?

2 Dit het alles met Nabal begin. Hy het soos gewoonlik hardvogtig en minagtend opgetree. Maar dié keer het hy die verkeerde man beledig—die geliefde bevelvoerder van ’n lojale en geoefende groep krygsmanne. Nou het een van Nabal se jong werkers, dalk ’n herder, na Abigail toe gekom, in die vertroue dat sy met ’n plan vorendag sou kom om hulle te red. Maar wat kon een vrou teen ’n hele leër doen?

Wat kon een vrou teen ’n hele leër doen?

3 Kom ons vind eers ’n bietjie meer uit oor hierdie merkwaardige vrou. Wie was Abigail? Hoe het hierdie krisis ontstaan? En wat kan ons uit haar voorbeeld van geloof leer?

Sy het “goeie oordeel aan die dag gelê en was pragtig van gestalte”

4. Watter soort man was Nabal?

4 Abigail en Nabal het nie goed by mekaar gepas nie. Nabal kon nouliks ’n beter vrou gekies het, terwyl Abigail nouliks met ’n slegter man getroud kon gewees het. Die man het wel geld gehad. Gevolglik het hy homself as baie belangrik beskou, maar wat het ander van hom gedink? Dit sal moeilik wees om ’n Bybelkarakter te vind wat in veragteliker terme beskryf word. Sy naam op sigself beteken “Verstandeloos” of “Dwaas”. Het sy ouers hom hierdie naam by sy geboorte gegee, of was dit ’n bynaam wat hy later gekry het? Hoe dit ook al sy, hy het sy naam gestand gedoen. Nabal was “hardvogtig en sleg in sy handelinge”. Hy was ’n bullebak en ’n dronkaard en is alom gevrees en gehaat.—1 Sam. 25:2, 3, 17, 21, 25.

5, 6. (a) Wat dink jy was Abigail se aantreklikste eienskappe? (b) Waarom het Abigail moontlik met so ’n deugniet getrou?

5 Abigail was heeltemal anders as Nabal. Haar naam beteken “My vader het hom verheug”. Menige vader is trots om ’n pragtige dogter te hê, maar ’n wyse vader is baie blyer as hy innerlike skoonheid in sy kind sien. ’n Persoon wat met fisiese skoonheid geseën is, besef alte dikwels nie die belangrikheid daarvan om eienskappe soos oordeelkundigheid, wysheid, moed of geloof aan te kweek nie. Maar dit was nie die geval met Abigail nie. Die Bybel prys haar vir die goeie oordeel wat sy aan die dag gelê het sowel as vir haar skoonheid.—Lees 1 Samuel 25:3.

6 Vandag wonder party dalk waarom so ’n intelligente jong vrou met so ’n deugniet getrou het. Onthou dat baie huwelike in Bybeltye deur ouers gereël is. En selfs wanneer dit nie die geval was nie, was die ouers se toestemming nog steeds baie belangrik. Het Abigail se ouers hierdie huwelik goedgekeur, dit moontlik selfs gereël, omdat hulle beïndruk was met Nabal se rykdom en aansien? Het armoede hulle dalk daartoe gedryf? Hoe dit ook al sy, Nabal se geld het nie van hom ’n goeie huweliksmaat gemaak nie.

7. (a) Wat moet ouers vandag vermy as hulle hulle kinders ’n heilsame beskouing van die huwelik wil gee? (b) Wat was Abigail vasbeslote om te doen?

7 Verstandige ouers lê hulle daarop toe om hulle kinders ’n heilsame beskouing van die huwelik te gee. Hulle spoor nie hulle kinders aan om vir geld te trou of om ’n romantiese verhouding aan te knoop wanneer hulle nog te jonk is om die rolle en verantwoordelikhede van ’n volwassene te vervul nie (1 Kor. 7:36). Maar vir Abigail was dit te laat om hieraan te dink. Ongeag die rede, sy was getroud met Nabal, en sy was vasbeslote om die beste van ’n moeilike situasie te maak.

“Hy het teen hulle uitgevaar”

8. Vir wie het Nabal beledig, en waarom sou jy sê dat dit baie onverstandig was?

8 Nabal het so pas Abigail se situasie moeiliker as ooit gemaak. Die man wat hy beledig het, was niemand anders nie as Dawid. Hy was die getroue kneg van Jehovah wat deur die profeet Samuel gesalf is as teken dat Dawid deur God gekies is om Saul as koning op te volg (1 Sam. 16:1, 2, 11-13). Dawid, wat vir die jaloerse en moorddadige koning Saul gevlug het, het saam met sy 600 lojale krygsmanne in die wildernis gebly.

9, 10. (a) Waarom was dit vir Dawid en sy manne ’n stryd om aan die lewe te bly? (b) Waarom moes Nabal eintlik waardeer het wat Dawid en sy manne gedoen het? (Sien ook die voetnoot by paragraaf 10.)

9 Nabal het in Maon gewoon, maar hy het in die nabygeleë Karmel gewerk, waar hy waarskynlik ook grond besit het. * Hierdie dorpe was omring deur grasryke hooglande wat geskik was vir die teel van skape, waarvan Nabal 3 000 gehad het. Maar rondom hierdie gebied was die land woes. In die suide het die uitgestrekte wildernis Paran gelê. In die ooste het die roete na die Soutsee deur ’n verlate woesteny vol klowe en grotte geloop. In hierdie gebiede was dit vir Dawid en sy manne ’n stryd om aan die lewe te bly, want hulle moes ongetwyfeld vir kos jag en baie ontberinge verduur. Hulle het dikwels die jong manne teëgekom wat as herders vir die ryk Nabal gewerk het.

10 Hoe het hierdie hardwerkende soldate die herders behandel? Dit sou vir hulle maklik gewees het om nou en dan ’n skaap te vat, maar hulle het dit nie gedoen nie. Inteendeel, hulle was soos ’n beskermende muur om Nabal se kuddes en knegte. (Lees 1 Samuel 25:15, 16.) Skape en herders was aan baie gevare blootgestel. Dit het gewemel van roofdiere, en Israel se suidelike grens was so naby dat daar dikwels invalle deur uitlandse rowerbendes en diewe was. *

11, 12. (a) Hoe het Dawid takt en respek in sy boodskap aan Nabal geopenbaar? (b) Wat het geskort met Nabal se reaksie op Dawid se boodskap?

11 Dit moes ’n reusetaak gewees het om al daardie manne in die wildernis van kos te voorsien. Dawid het dus eendag tien boodskappers na Nabal gestuur om hulp te vra. Dawid het ’n goeie oomblik gekies. Dit was die tyd toe die skape geskeer is, ’n vrolike tyd wanneer vrygewigheid en feesviering gebruiklik was. Dawid het ook sy woorde versigtig gekies; hy het beleefde terme en aanspreekvorme gebruik. Hy het selfs na homself verwys as “u seun Dawid”, moontlik uit respek vir Nabal se ouderdom. Hoe het Nabal gereageer?—1 Sam. 25:5-8.

12 Hy was erg verontwaardig! “Hy het teen hulle uitgevaar”, het die jong man wat aan die begin gemeld is, die situasie aan Abigail beskryf. Die suinige Nabal het luidkeels gekla oor sy kosbare brood, water en geslagte vleis. Hy het spottend na Dawid verwys as iemand onbelangriks en hom met ’n wegloperkneg vergelyk. Nabal se beskouing was dalk soortgelyk aan dié van Saul, wat Dawid gehaat het. Nie een van die twee mans het Jehovah se beskouing gehad nie. God het Dawid liefgehad en het hom nie as ’n opstandige slaaf beskou nie, maar as die toekomstige koning van Israel.—1 Sam. 25:10, 11, 14.

13. (a) Wat was Dawid se onmiddellike reaksie op Nabal se belediging? (b) Wat openbaar die beginsel in Jakobus 1:20 omtrent Dawid se reaksie?

13 Toe die boodskappers aan Dawid teruggerapporteer het, het hy woedend geword. “Gord elkeen sy swaard aan!” het hy beveel. Dawid het hom bewapen en met 400 van sy manskappe uitgetrek. Hy het gesweer dat hy elke man in Nabal se huishouding sou uitwis (1 Sam. 25:12, 13, 21, 22). Dawid se toorn was verstaanbaar, maar die manier waarop hy daaraan wou uiting gee, was verkeerd. Die Bybel sê: “’n Mens se gramskap bewerk nie God se regverdigheid nie” (Jak. 1:20). Maar hoe kon Abigail haar huishouding red?

“Mag jou verstandigheid geseënd wees”

14. (a) Hoe het Abigail die eerste stap gedoen om die onreg wat Nabal gepleeg het, reg te stel? (b) Watter praktiese les kan ons uit die verskil tussen Nabal en Abigail leer? (Sien ook die voetnoot.)

14 In sekere sin het ons reeds gesien dat Abigail die eerste stap gedoen het om hierdie verskriklike onreg reg te stel. In teenstelling met haar man, Nabal, was sy bereid om te luister. Dit sou nie help om na Nabal toe te gaan nie, want die jong kneg het gesê dat Nabal “’n te groot deugniet is om met hom te praat” (1 Sam. 25:17). * Ongelukkig het Nabal se hoë dunk van homself hom onwillig gemaak om te luister. Sulke hooghartigheid is selfs vandag nog baie algemeen. Maar die jong man het geweet dat Abigail nie so is nie, en dit is ongetwyfeld waarom hy met hierdie probleem na haar toe gekom het.

In teenstelling met Nabal was Abigail bereid om te luister

15, 16. (a) Hoe het Abigail getoon dat sy soos die bekwame vrou was wat in die boek Spreuke beskryf word? (b) Waarom het Abigail se optrede nie beteken dat sy teen haar man se regmatige hoofskap in opstand gekom het nie?

15 Abigail het vinnig gedink en opgetree. “Dadelik het Abigail haar gehaas”, lees ons. In hierdie een verslag vind ons dat dieselfde werkwoord, “om te haas”, vier keer met betrekking tot hierdie vrou gebruik word. Sy het ’n milddadige geskenk vir Dawid en sy manne voorberei. Dit het brood, wyn, skaapvleis, geroosterde graan, rosynekoeke en vyekoeke ingesluit. Dit is duidelik dat Abigail presies geweet het wat sy het en in volle beheer van haar huishoudelike pligte was, soos die bekwame vrou wat later in die boek Spreuke beskryf word (Spr. 31:10-31). Sy het die kos met ’n paar van haar knegte vooruit gestuur en toe alleen agter hulle aan gegaan. “Maar”, lees ons, “vir haar man Nabal het sy niks gesê nie.”—1 Sam. 25:18, 19.

16 Beteken dit dat Abigail teen haar man se regmatige hoofskap in opstand gekom het? Nee; hou in gedagte dat Nabal goddeloos opgetree het teen ’n gesalfde kneg van Jehovah, ’n daad wat die dood van talle onskuldige lede van Nabal se huishouding tot gevolg kon hê. Sou Abigail, as sy niks gedoen het nie, dalk hieraan medepligtig gewees het? In hierdie geval moes sy onderdanigheid aan haar God bo onderdanigheid aan haar man stel.

17, 18. Hoe het Abigail Dawid genader, wat het sy gesê, en wat het haar woorde doeltreffend gemaak?

17 Kort voor lank het Abigail Dawid en sy manne teëgekom. Weer eens het sy haar gehaas, dié keer om van haar esel af te klim en haar voor Dawid te verneder (1 Sam. 25:20, 23). Toe het sy haar hart uitgestort en vurig gepleit om barmhartigheid ten behoewe van haar man en haar huishouding. Wat het haar woorde doeltreffend gemaak?

“Laat u slavin asseblief voor u ore spreek”

18 Sy het die skuld vir die probleem op haar geneem en Dawid gevra om haar persoonlik te vergewe. Sy het realisties erken dat haar man so verstandeloos is as wat sy naam impliseer, miskien om aan te dui dat dit benede Dawid se waardigheid sou wees om so ’n man te straf. Sy het haar vertroue in Dawid as Jehovah se verteenwoordiger uitgespreek deur te erken dat hy “die oorloë van Jehovah” voer. Sy het ook te kenne gegee dat sy weet van Jehovah se belofte in verband met Dawid en die koningskap, want sy het gesê: “Jehovah [sal] u beslis as leier oor Israel aanstel.” Verder het sy Dawid aangespoor om niks te doen wat bloedskuld oor hom kan bring of wat later “’n rede tot wankeling” kan word nie—klaarblyklik met verwysing na ’n skuldige gewete. (Lees 1 Samuel 25:24-31.) Vriendelike, treffende woorde!

19. Hoe het Dawid op Abigail se woorde gereageer, en waarom het hy haar geprys?

19 En hoe het Dawid gereageer? Hy het aanvaar wat Abigail gebring het en gesê: “Mag Jehovah, die God van Israel, geloof word, wat jou vandag gestuur het om my te ontmoet! En mag jou verstandigheid geseënd wees, en mag jy geseënd wees wat my vandag daarvan weerhou het om bloedskuldig te word.” Dawid het haar geprys omdat sy haar moedig gehaas het om hom te ontmoet, en hy het erken dat sy hom van bloedskuld weerhou het. “Gaan in vrede op na jou huis”, het hy vir haar gesê, en hy het nederig bygevoeg: “Ek het na jou stem geluister.”—1 Sam. 25:32-35.

“Hier is u slavin”

20, 21. (a) Wat bewonder jy omtrent Abigail se bereidwilligheid om terug te gaan na haar man toe? (b) Hoe het Abigail moed en goeie oordeel aan die dag gelê met betrekking tot die tyd wat sy gekies het om met Nabal te praat?

20 Nadat Abigail daar weg is, kon sy nie daardie ontmoeting uit haar gedagtes kry nie; ook kon sy nie anders as om die verskil op te merk tussen daardie getroue, goedhartige man en die bullebak met wie sy getroud is nie. Maar sy het nie hieroor bly tob nie. Ons lees: “Later het Abigail by Nabal gekom.” Ja, sy het teruggegaan na haar man toe, net so vasbeslote soos altyd om haar rol as sy vrou na die beste van haar vermoë te vervul. Sy moes hom vertel van die geskenk wat sy vir Dawid en sy manne gegee het. Hy het die reg gehad om te weet. Sy moes hom ook vertel van die gevaar wat afgeweer is—voordat hy dit by iemand anders hoor, wat vir hom nog ’n groter skande sou wees. Maar sy kon hom nie nou vertel nie. Hy het soos ’n koning feesgevier en was smoordronk.—1 Sam. 25:36.

Abigail het Nabal moedig vertel wat sy gedoen het om sy lewe te red

21 Sy het weer eens moed sowel as goeie oordeel aan die dag gelê en tot die volgende oggend gewag, toe die invloed van die wyn afgeneem het. Hy sou nugter genoeg wees om haar te verstaan, maar moontlik ook in ’n gevaarliker bui. Nietemin het sy na hom toe gegaan en hom die hele verhaal vertel. Sy het ongetwyfeld verwag dat hy in woede sou uitbars, dalk selfs gewelddadig sou raak. Maar hy het net roerloos bly sit.—1 Sam. 25:37.

22. Wat het met Nabal gebeur, en wat kan ons leer oor alle gevalle van tirannie of mishandeling in die gesin?

22 Wat was fout met die man? “Sy hart het binne hom gesterf, en hy het soos ’n klip geword.” Dalk het hy ’n vorm van beroerte gekry. Maar sowat tien dae later het hy gesterf—en nie bloot om mediese redes nie. Die verslag sê vir ons: “Jehovah [het] Nabal getref, sodat hy gesterf het” (1 Sam. 25:38). Met hierdie regverdige teregstelling het Abigail se lang nagmerrie van ’n huwelik tot ’n einde gekom. Hoewel Jehovah vandag nie met wonderdadige teregstellings ingryp nie, dien hierdie verslag as ’n gepaste herinnering dat geen geval van tirannie of mishandeling in die gesin sy aandag ontgaan nie. Hy sal altyd op sý tyd reg laat geskied.—Lees Lukas 8:17.

23. Watter verdere seën het Abigail ontvang, en hoe het sy getoon dat sy nie verander is deur hierdie nuwe vooruitsig nie?

23 Abigail is nie net van ’n slegte huwelik bevry nie, maar het nog ’n seën ontvang. Toe Dawid van Nabal se dood te hore kom, het hy boodskappers gestuur om haar te vra om met hom te trou. “Hier is u slavin”, het sy geantwoord, “as ’n diensmeisie om die voete van die knegte van my heer te was.” Dit is duidelik dat sy nie verander is deur die vooruitsig om Dawid se vrou te word nie; sy het selfs aangebied om ’n diensmeisie vir sy knegte te wees! Dan lees ons weer dat sy haar gehaas het, dié keer om gereed te maak om na Dawid toe te gaan.—1 Sam. 25:39-42.

24. Voor watter uitdagings het Abigail in haar nuwe lewe te staan gekom, maar hoe het haar man en haar God haar beskou?

24 Dit was geen sprokieseinde nie; Abigail se lewe saam met Dawid sou nie altyd maklik wees nie. Dawid was reeds getroud met Ahinoam, en hoewel God veelwywery toegelaat het, het dit ongetwyfeld unieke uitdagings vir getroue vroue van daardie tyd gebied. En Dawid was nog nie koning nie; struikelblokke en ontberinge sou oorkom moes word voordat hy Jehovah in daardie hoedanigheid kon dien. Maar terwyl Abigail Dawid bly help en ondersteun het, en uiteindelik vir hom ’n seun gebaar het, het sy besef dat sy ’n man het wat haar waardeer en beskerm. By een geleentheid het hy haar selfs van ontvoerders gered! (1 Sam. 30:1-19). Sodoende het Dawid Jehovah God nagevolg, wat sulke moedige en getroue vroue wat goeie oordeel aan die dag lê, liefhet en waardeer.

^ par. 9 Dit was nie die welbekende berg Karmel ver in die noorde waar die profeet Elia later ’n konfrontasie met die profete van Baäl gehad het nie. (Sien Hoofstuk 10.) Hierdie Karmel was ’n dorp aan die rand van die suidelike wildernis.

^ par. 10 Dawid het dit waarskynlik as ’n diens aan Jehovah God beskou om die plaaslike grondeienaars en hulle kuddes te beskerm. Dit was destyds Jehovah se voorneme dat die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob in daardie land woon. Om die land teen invallers en rowerbendes te beskerm, was dus ’n vorm van heilige diens.

^ par. 14 Die frase wat die jong man gebruik het, beteken letterlik “’n seun van belial (waardeloosheid)”. In ander Bybelvertalings bevat hierdie sin ’n beskrywing van Nabal as ’n man “wat na niemand wil luister nie” en die gevolgtrekking dat “dit nie help om met hom te praat nie”.