Volgens Matteus 20:1-34

  • Gelyke betaling vir werkers in die wingerd (1-16)

  • Jesus se dood weer voorspel (17-19)

  • Versoek om posisies in Koninkryk (20-28)

    • Jesus ’n losprys vir baie (28)

  • Twee blinde mans word genees (29-34)

20  “Want die Koninkryk van die hemel is soos die meester van ’n huis wat vroeg in die oggend uitgegaan het om werkers vir sy wingerd te huur.+  Nadat hy met die werkers ooreengekom het om hulle ’n denaʹrius* per dag te betaal, het hy hulle in sy wingerd uitgestuur.  Hy het weer omtrent die derde uur* uitgegaan en ander op die markplein sien staan wat werkloos is.  Hy het vir hulle gesê: ‘Gaan ook in die wingerd in, en ek sal julle betaal wat redelik is.’  Toe het hulle gegaan. Hy het omtrent die sesde uur* en die negende uur* weer uitgegaan en dieselfde gedoen.  Laastens het hy omtrent die 11de uur* uitgegaan en ander gesien wat daar rondstaan, en hy het vir hulle gevra: ‘Hoekom staan julle al die hele dag hier sonder werk?’  Hulle het hom geantwoord: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy het vir hulle gesê: ‘Gaan ook in die wingerd in.’  “Toe dit aand word, het die meester van die wingerd vir die man wat oor die werkers toesig gehou het, gesê: ‘Roep die werkers en betaal hulle.+ Begin by die laastes en eindig by die eerstes.’  Toe die manne kom wat van die 11de uur af gewerk het, het hulle elkeen ’n denaʹrius* gekry. 10  Toe die eerstes kom, het hulle dus aangeneem dat hulle meer sou kry, maar hulle het ook ’n denaʹrius* as betaling gekry. 11  Nadat hulle betaal is, het hulle teen die meester van die huis begin kla 12  en gesê: ‘Hierdie laaste manne het net een uur gewerk, en tog het u hulle net soveel betaal as vir ons, wat die hele dag hard gewerk het in die warm son!’ 13  Maar hy het vir een van hulle gesê: ‘Vriend, ek behandel jou nie onregverdig nie. Het ek nie met jou ooreengekom dat ek jou ’n denaʹrius* sou betaal nie?+ 14  Neem wat joune is en gaan. Ek wil vir hierdie laaste een dieselfde gee as vir jou. 15  Het ek nie die reg om met my eie goed te doen wat ek wil nie? Of is jy jaloers* omdat ek goed vir hulle was?’*+ 16  So sal die laastes eerste wees, en die eerstes, laaste.”+ 17  Terwyl Jesus op pad Jerusalem toe was, het hy die 12 dissipels eenkant geneem en vir hulle gesê:+ 18  “Ons is op pad na Jerusalem, en die Seun van die mens sal aan die hoofpriesters en die skrifgeleerdes oorgelewer word. Hulle sal hom tot die dood veroordeel+ 19  en hom aan mense van die nasies oorlewer om bespot en met ’n gésel* geslaan en aan ’n paal gehang te word,+ en op die derde dag sal hy opgewek word.”+ 20  Toe het die ma van die seuns van Sebedeʹus+ saam met haar seuns na hom toe gekom en aan hom eer bewys* en iets van hom gevra.+ 21  Hy het vir haar gevra: “Wat wil jy hê?” Sy het vir hom gesê: “Sê dat hierdie twee seuns van my in u Koninkryk mag sit, een aan u regterhand en een aan u linkerhand.”+ 22  Jesus het geantwoord: “Julle weet nie waarvoor julle vra nie. Kan julle die beker drink wat ek binnekort gaan drink?”+ Hulle het vir hom gesê: “Ons kan.” 23  Hy het vir hulle gesê: “Julle sal beslis my beker drink,+ maar om aan my regterhand en aan my linkerhand te sit, is nie myne om te gee nie, maar dit behoort aan dié vir wie my Vader dit voorberei het.”+ 24  Toe die tien ander hiervan hoor, het hulle kwaad geword vir die twee broers.+ 25  Maar Jesus het hulle na hom toe geroep en gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies oor die mense baasspeel en dat die leiers hulle gesag gebruik om mense te oorheers.+ 26  Dit moenie so onder julle wees nie.+ As iemand onder julle groot wil wees, moet hy julle dienaar wees,+ 27  en as iemand onder julle die eerste wil wees, moet hy julle slaaf wees.+ 28  Net so het die Seun van die mens gekom, nie om gedien te word nie, maar om te dien+ en om sy lewe te gee as ’n losprys in ruil vir baie.”+ 29  Terwyl hulle uit Jeʹrigo uitgegaan het, het ’n groot skare hom gevolg. 30  En twee blinde mans wat langs die pad gesit het, het gehoor dat Jesus verbygaan en het uitgeroep: “Here, betoon genade aan ons, Seun van Dawid!”+ 31  Die skare het hulle streng beveel om stil te bly, maar hulle het al hoe harder uitgeroep: “Here, betoon genade aan ons, Seun van Dawid!” 32  Toe het Jesus stilgestaan, hulle geroep en gevra: “Wat wil julle hê moet ek vir julle doen?” 33  Hulle het vir hom gesê: “Here, laat ons asseblief sien.” 34  Jesus het baie jammer vir hulle gevoel. Hy het aan hulle oë geraak,+ en onmiddellik kon hulle weer sien, en hulle het hom gevolg.

Voetnote

D.w.s. omtrent 09:00.
D.w.s. omtrent 12:00.
D.w.s. omtrent 15:00.
D.w.s. omtrent 17:00.
Lett. “is jou oog goddeloos”.
Of “vrygewig is”.
Of “voor hom neergebuig”.