Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal korrupsie in regerings ooit tot ’n einde kom?

Sal korrupsie in regerings ooit tot ’n einde kom?

 Staatsamptenare wat korrup is, is ’n wêreldwye probleem wat baie slegte gevolge het. a Byvoorbeeld, gedurende die COVID-19-pandemie was amptenare in baie lande daarvan beskuldig dat hulle geld in hulle eie sak steek wat eintlik gebruik moes word om mense te help om die gevolge van die pandemie te hanteer. Sulke korrupsie het veroorsaak dat mense nie die gesondheidsorg gekry het wat hulle nodig gehad het nie. En as gevolg daarvan het baie mense swaargekry en gesterf.

 Korrupsie in regerings het ’n uitwerking op mense regoor die wêreld. David Cameron, ’n voormalige eerste minister van die Verenigde Koninkryk, het gesê dat alle lande in korrupsie vasgevang is.

 Maar ons kan seker wees dat alle korrupsie in regerings binnekort tot ’n einde sal kom. Hoekom? Kyk wat God volgens die Bybel gaan doen.

Hoe ons weet dat God ’n einde aan korrupsie sal maak

 God het in die Bybel gesê: “Ek, Jehovah, is lief vir geregtigheid. Ek haat diefstal en onregverdigheid” (Jesaja 61:8). b Wanneer mense swaarkry as gevolg van die korrupte dinge wat ander doen, is God bewus daarvan (Spreuke 14:31). Hy belowe: “As gevolg van dié wat swaarkry en onderdruk word, . . . sal ek opstaan en optree.” – Psalm 12:5.

 Wat sal God doen? God gaan nie bestaande regerings verbeter nie. Hy gaan dit eerder met sy eie hemelse regering, wat “die Koninkryk van God” genoem word, vervang (Markus 1:14, 15; Matteus 6:10). Die Bybel sê: ‘Die God van die hemel sal ’n koninkryk oprig wat al daardie [ander] koninkryke sal vernietig en ’n einde aan hulle sal maak, en dit alleen sal vir ewig bestaan’ (Daniël 2:44). God sal op hierdie manier ’n einde maak aan die korrupsie wat ons vandag sien.

’n Regering sonder korrupsie

 Hoe weet ons dat God se regering nie korrup sal word nie? Kyk na die volgende.

  1.  1. Mag. Die Koninkryk kry sy mag van God die Almagtige. – Openbaring 11:15.

     Hoekom dit saak maak: Menseregerings is afhanklik van die mense in hulle land om vir hulle geld te gee sodat die regering kan funksioneer. Dit skep dikwels geleenthede vir omkopery, diefstal en manipulasie. Maar hierdie Koninkryk word deur God die Almagtige ondersteun, so dit sal altyd in die behoeftes kan voorsien van almal oor wie dit regeer. – Psalm 145:16.

  2.  2. Heerser. God het Jesus Christus as die Heerser van die Koninkryk aangestel. – Daniël 7:13, 14.

     Hoekom dit saak maak: Selfs die beste menseheersers kan deur iemand beïnvloed word om slegte dinge te doen (Prediker 7:20). Maar Jesus het gewys dat hy nie omgekoop kan word nie (Matteus 4:8-11). En hy is altyd gemotiveer deur opregte liefde vir dié wat aan hom gehoorsaam is en stel regtig belang in hulle. – Psalm 72:12-14.

  3.  3. Wette. Die wette van God se Koninkryk is volmaak, en maak dié wat dit gehoorsaam, gelukkig. – Psalm 19:7, 8.

     Hoekom dit saak maak: Mensewette is dikwels ingewikkeld en ’n las, of dit word nie reg toegepas nie. Dit skep geleenthede vir korrupsie. Maar God se wette is prakties en help ons (Jesaja 48:17, 18). En hierdie wette wys nie net vir ons wat ons moet doen nie, maar ook hoekom ons dit moet doen (Matteus 22:37, 39). God kan natuurlik harte lees en kan seker maak dat sulke wette liefdevol toegepas sal word. – Jeremia 17:10.

 Ons nooi jou om meer uit te vind oor die Bybel se belofte oor ’n toekoms wanneer regerings nie meer korrup sal wees nie.

a Volgens een definisie verwys “korrupsie” na wanneer mense die mag misbruik wat hulle gekry het sodat hulle hulleself kan bevoordeel.

b Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?